Skole ‘kan nie volgende week al heropen’

(Argieffoto)

Die departement van basiese onderwys se plan dat skole in Suid-Afrika voorlopig op 6 Mei vir bepaalde leerders heropen, het reeds teenkanting gekry.

Ingevolge dié voorstel sal slegs leerders in graad 7 en 12 aanvanklik toegelaat word om terug te keer skool toe. Die matriekeksamen en -kurrikulum sal na verwagting voortgaan soos beplan.

Dié plan moet nog aan verskeie partye voorgelê word en die minister van basiese onderwys sal na verwagting Donderdag finale reëlings hieroor bekend maak.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het gesê die voorgestelde datums het verwarring onder skole, onderwysers en ouers veroorsaak en dat hy eers nadat die datums amptelik bevestig is, in meer besonderhede kommentaar sal lewer.

Op die oomblik “is ons egter nie in die posisie om volgende week leerders te ontvang nie,” het die departement vanmiddag gesê.

Die Federasie van beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas) het ook gesê die voorlegging oor die heropening van skole het tot “groot konsternasie” gelei.

Fedsas sê dit is veral die datum wat aandui dat skole op 4 Mei vir onderwysers en op 6 Mei vir graad 12- en graad 7-leerders heropen, wat verwarring veroorsaak het.

“Dit is presies dieselfde voorlegging wat Sondag in ʼn vergadering met die minister van basiese onderwys aan beheerliggaamorganisasies voorgelê is. Ons het dit toe duidelik aan die minister en haar verteenwoordigers gestel dat ons daardie voorgestelde datums nie kan ondersteun nie omdat daar nog gans te veel onsekerhede is,” het Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, gesê.

Hy sê die minister het haar nie tot ʼn datum verbind nie, maar daar was genoeg aanduidings dat sy hiermee saamgestem het. “Eerder as om duidelik en sinvol met die publiek te kommunikeer, het hierdie voorlegging net tot verdere konsternasie en bespiegeling aanleiding gegee, al is daar bykans as nagedagte bygevoeg dat die minister nog ʼn amptelike aankondiging sal doen.”

(Argieffoto)

Die organisasie sê hy gaan geen plan ondersteun wat nie met groot omsigtigheid die veiligheid van leerders en personeel by skole voorop stel nie.

Fedsas sê hy het begrip vir die minister se moeilike situasie, maar betreur die feit dat daar nie voldoende en openhartig met die publiek oor die kwessie gekommunikeer word nie.

Die Suid-Afrikaanse demokratiese onderwysersunie (Sadou) sê hy hou by sy standpunt dat geen skool sal heropen totdat daar aan al sy griewe daaroor aandag gegee is nie. Sadou vra onder meer dat skole ontsmet word, eis dat sosiale distansiëring behoorlik toegepas moet kan word, vra dat klasgroottes verklein word, vra dat seep, ontsmettingsmiddels en maskers voorsien word en sê sielkundige hulp moet aan diegene wat dit benodig, verskaf kan word.

Die vakbond sê ingevolge die voorgestelde bepalings van vlak 4 (die verskillende koronavirus-vlakke wat vroeër aangekondig is), kan geen skool in dié tyd heropen nie.

“Ons het ʼn beroep op almal gedoen om saam te werk om ʼn oplossing te vind, maar dit is nou duidelik dat die departement van basiese onderwys in kwade trou optree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Corne123 ·

Ai ek is bly ek hoef nie die besluite te maak noe want watookal gedoen word gaan vout gevind word mee.Almal stuur hele dag gelooofsboodskappe aan maar wie glo? net n vraag geloof soos n mosterdsaatjie???

Barbara ·

Ek stem. Die skole kan nie al volgende week oopmaak nie. Verwyder eerder een skoolvakansie en maak 3 kwartale en die kinders kan ń half uur langer skool gasn per dag. Hul veiligheid en familie veiligheid is van uiterse belang. Ek weet ons onderrig is ook van belang.

SomeOne ·

wat gaan van die ander grade word, sal hul hierdie jaar moet oordoen of gaan hulle na die volgende graad oorgeplaas word ?
dit laat nou al ‘n groot kopseer, daar is al voorbereidings getref wat na die oorspronklike skooljare gaan gebeur !, kom minister gee ANTWOORDE !!!!

Cornè ·

Gr 12 en 7 begin eerste en dan gaan die abder graade stelselmatig ingefaseer word elke 2 weke..

Danie ·

Die Liewe Vader het ook vir ons gesonde verstand gegee. As ek teen 200 km/u op ‘n plaaspad ry gaan geen geloof, selfs groter as ‘n mosterdsaadjie, my van ‘n ernstige ongeluk kan red nie. Ek stem egter saam dat dit baie, baie moeilike besluite is en ek is dankbaar dit is nie ek wat hulle moet neem nie.

Lola88 ·

Die baie maklik om te sê skole kan nie oopmaak nie, en kinders moet nog by die huis bly en en en en en…maar het enige van hierdie besluitnemers al gedink aan ouers wat geen ander opsie met hul kinders het nie? Ouers wat nie net by die huis kan bly met hul kinders nie? Ouers wat nie mense het om om te sien na hulle kinders terwyl almal 10 000 verskonings sit en uitdink oor hoekom die skole eerder moet toe bly? As almal by die skool saam werk, kan ons dit op ‘n veilige manier doen, siende wat sommige kinders vir 3 maande lank nie skool toe gaan nie, maar steeds 3 maande lank ten volle skoolfonds en in sommer gevalle selfs naskool en/of vervoer moet betaal, terwyl ons self nie ‘n vol salaris kan verdien nie….

marius ·

Waneer gaan die personeel wat skole moet skoon en ontsmet kry begin ? Hierdie mense kan nie dink voor hulle geluide uiter nie , elke dag !

Willem ·

Sadou se lysie sal baie beslis nié aan voldoen kan word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.