Skoolkapasiteit: Hof beslis in SAOU se guns

Argieffoto (Foto: Shutterstock)

Dit is algemeen bekend dat die provinsiale onderwysdepartemente regulasie 9 van die Norme en Standaarde vir Skoolinfrastruktuur misbruik het om die kapasiteit van skole te bepaal.

Paul Sauer, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) bepaal regulasie 9 dat leerders geregtig is op 1 m2 en ʼn opvoeder op 7 m2. Veertig leerders per klaskamer, ongeag die grootte, is benut as basis.

“Hierdie benadering het skole onder groot druk geplaas en tot groot ongelukkigheid gelei synde daar geen onderwyskundige basis hiervoor bestaan nie,” sê Sauer. “Dit het ook die indruk by ouers en leerders wat toegang tot ʼn bepaalde skool verlang, gewek dat daar inderwaarheid kapasiteit bestaan en dat skoolbeheerliggame kwaadwillig toegang weier.”

Ten einde veral skoolhoofde uit die politieke spervuur te haal, het die SAOU hierdie saak vroeg gedurende 2023 na die hooggeregshof vir beslissing verwys.

Die staat se regsadviseurs het gou besef dat die regulasie nie vir die bepaling van skoolkapasiteit benut mag word nie en verder dat die benutting daarvan irrasioneel is.

“Gebaseer hierop het die regsadviseurs besluit om verleentheid te vermy en om nie die saak na die hof vir beslissing te verwys nie, maar eerder om ʼn skikking met die SAOU te bereik. Op 10 Oktober 2023 het die Pretoriase hooggeregshof onder handtekening van die adjunkregterpresident die skikking ʼn bevel van die hof (klik hier) gemaak.”

Die skikking is in die vorm van ʼn omsendskrywe van die departement van basiese onderwys wat op alle provinsiale departemente van onderwys van toepassing is en deur hulle toegepas moet word ten tye van die bepaling van skoolkapasiteit. Hiervolgens moet die volgende riglyne toegepas word:

  1. Die kurrikulum, vakke aangebied asook buite-kurrikulêre aktiwiteite.
  2. Die verbetering of instandhouding van die skool se akademiese prestasie.
  3. Die taal van leer en onderrig met insluiting van dubbel- en parallelmedium.
  4. Ander kurrikulum en buite-kurrikulêre keuses van leerders.
  5. Die impak wat addisionele leerders op alle leerders se reg op kwaliteit onderwys mag hê.
  6. Die toestand van klaskamers, laboratoriums en ander ruimtes.
  7. Die allokering van klaskamers vir grade en spesifieke vakke.
  8. Nasionale gesondheid- en veiligheidstandaarde.
  9. Voldoende ablusiegeriewe.
  10. Die benutting van beskikbare klaskamers.
  11. Die departementele posvoorsiening en die werkslading van opvoeders.
  12. Ruimte vir die administratiewe behoeftes van die skool.
  13. Die getal geskikte klaskamers.
  14. Die fisiese grootte van klaskamers.
  15. Die ruimte benodig vir sport-, kulturele- en ontspanningsaktiwiteite.
  16. ʼn Ontleding van elke skool se huidige ruimte om meer leerders te akkommodeer.
  17. Leerders se beste belang om kwaliteit onderwys te ontvang.
  18. Om oorbevolking te voorkom.

“Hierdie omsendskrywe moet volgens die hofbevel onmiddellik onder die aandag van die nege provinsiale onderwysdepartemente en distrikskantore gebring word,” voeg Sauer by.

“Die SAOU is oortuig dat hierdie klinkende oorwinning ʼn belangrike bydrae sal lewer om die jaarlikse druk wat met die aanvang van ʼn skooljaar op skole uitgeoefen word, te verlig. Dit sal ook bydra dat ʼn veel meer rasionale en onderwyskundige benadering gevolg sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Skadu ·

Wat beteken punt 3?
Móét dubbel medium onderrig nou toegepas word?
Indien so, het hierdie nou ‘n ander slang geword..?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.