Skop Cele uit, eis DA met petisie

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: SA Polisie/Twitter)

Meer as 3 600 mense het al ʼn petisie onderteken wat die DA Donderdag van stapel gestuur het om van Bheki Cele, minister van polisie, ontslae te raak.

Die petisie volg nadat die party in Maart vanjaar al ʼn mosie van wantroue in die minister en sy kabinetskollegas ingestel het. ʼn Politieke ontleder sê uiteindelik kan net die ANC en die president Cele die trekpas gee, maar die druk op Cele neem toe.

Die DA eis Cele se kop, onder meer oor sy steun vir die omstrede Wetsontwerp op die Beheer van Vuurwapens, die tamaai agterstand met die verwerking van DNS-monsters, sy versuim om die polisie se landelike veiligheidsplan behoorlik in werking te stel en sy weiering om die geheime diensbegroting in 2020 af te teken – ʼn versuim wat volgens die DA een van die sleutelredes is vir die chaos by misdaadintelligensie en die onvermoë om verlede jaar se Julie-oproer in bedwang te hou.

“Min. Cele se houding jeens sy mandaat om Suid-Afrikaners te dien en te beskerm, was opnuut duidelik toe hy met sy talle mislukkings gekonfronteer is. Pleks daarvan dat hy die kommer van inwoners van Gugulethu gepak het, het hy verkies om ʼn aktivis stil te skreeu en polisiebeamptes gekry om hom van die perseel af te begelei,” sê Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie.

Whitfield het verwys na Cele se tirade teenoor Ian Cameron, ʼn gemeenskapsaktivis en woordvoerder van Action Society. Cele het Cameron vroeër vandeesmaand tydens ʼn vergadering verskreeu nadat hy vrae oor die polisie se optrede en versuim om misdaad te bekamp, aan die minister gestel het.

Whitfield sê ten spyte van oorweldigende bewyse dat Cele nie geskik is vir sy amp nie, het pres. Cyril Ramaphosa hom nie soveel as oor die vingers getik vir sy vrotsige prestasie tot dusver nie.

“Min. Cele het niks gedoen nie om die kritieke tekorte in die polisie om te keer, wat bygedra het tot ʼn toename in geweldsmisdaad. Volgens misdaadsyfers vir die laaste kwartaal word 67 mense elke dag vermoor, 153 word verkrag en 364 gewelddadige rooftogte word daagliks gepleeg.”

Whitfield sê Cele moet afgedank en vervang word met ʼn minister wat die werk gedoen kan kry.

Druk op Cele laai op

Prof. Theo Venter, politieke ontleder aan die Kollege vir Sake en Ekonomie aan die Universiteit van Johannesburg, meen ʼn petisie gaan nie sorg dat Cele die trekpas kry nie. Wat dit wél kan doen, is om al hoe meer druk op ʼn reeds gespanne minister te laai.

“Die enigste instelling wat van Bheki Cele ontslae kan raak, is die ANC en die president [Ramaphosa] self. Maar die president het hom nodig en sal nie van hom ontslae raak nie,” sê Venter.

Cele het Ramaphosa toegang tot KwaZulu-Natal gegee toe hy dit weens oudpres. Jacob Zuma se invloed in die provinsie nie kon regkry nie. Dié toegang tot die tradisionele leierskap in KwaZulu-Natal, waar Cele groot aanhang geniet en eintlik die septer swaai, maak hom ʼn strategiese bondgenoot vir Ramaphosa. Dit maak Cele haas onaantasbaar en hy weet dit waarskynlik.

Venter sê die waarde van ʼn petisie soos dié van die DA en beriggewing oor onder meer sy interaksie met Cameron, plaas toenemende druk op Cele en maak dit vir hom al hoe moeiliker om sy werk te doen. Dit kan beteken dat indien daar in die toekoms ʼn kabinetskommeling is, Cele moontlik na ʼn ander portefeulje geskuif kan word.

Gebeure soos die tirade by die Gugulethu-vergadering takel die minister se openbare beeld boonop verder af.

ʼn Minister kan onder geen omstandighede optree soos Cele by die byeenkoms gedoen het nie, sê Venter, maar dit skets ook ʼn prentjie van ʼn minister onder geweldige druk. In die vergadering was hy grootliks omring deur ondersteuners en nietemin het hy teenoor Cameron uitgevaar.

“Eintlik wou hy wys wie hy is en wat hy is en hoe hy hierdie stemmetjies wat hom so irriteer, kan hanteer.”

Venter sê in ʼn demokrasie kan dit nie geduld word nie.

Hy sê indien hy Cameron uitgeluister het en hom dan byvoorbeeld genooi het vir ʼn persoonlike ontmoeting waar hulle kon gesels, was die situasie sonder voorval ontlont. Maar toe verloor Cele sy humeur.

Venter sê Cele se uitbarsting was ʼn vertoon vir diegene in die gehoor om te wys hy steur hom nie aan hierdie “uilskuiken” nie. Talle selfoon- en televisiekameras het egter die gebeure opgeneem en aan die land uitgebasuin.

“Die wêreld waarin ons leef laat nie toe dat mense hulle humeur in ʼn openbare vergadering verloor nie.

“ʼn Minister moenie sy humeur verloor nie en indien hy doen, beteken dit hy is onder geweldige druk.”

Whitfield sê op sy beurt die DA beywer hom vir verbeterde polisiëring vir alle Suid-Afrikaners en dat hulle die stryd om Cele se kop tot op die president se voorstoep gaan neem. “Ons doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om by die stryd aan te sluit deur by ons veldtog aan te sluit en ons petisie te onderteken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Corne123 ·

Opskroef hoed maak net wat hy wil voel n veer vir wat enige iemand se of doen dink hy bo die gereg

Jessica ·

Maklik om hom uit te skop, maar watter hanswors gaan sy plek vul? Die misdaad het handuit geruk. Daar is meer om te doen as wat ons besef. Die res wat ek wil sê mag nie op Maroela gepubliseer word nie…

miche ·

Cele het verseker Groot foute gemaak, ja. Maar hoekom begin die DA nie eerder by die EFF en hul uitsprake nie? Hul hou ‘n groter bedreiging in vir die land se stabiliteit. Seker omdat hul die EFF vorentoe iewers gaan nodig kry vir ‘n koalisie?

Witbaard ·

DA is anyway maar nie veel werd nie. Waar is hulle met oplossings vir die kragkrisis? Maak geraas .

goodCOP ·

As oplossings wil sien vir die kragkrissis, kom Kaapstad toe

Grassie ·

Ramamparra kan nie vir Cele afdank nie, daar is te veel geraamtes in die kas. Cele weet waarskynlik meer van CR se unieke finansiële werkinge om onder meer dollars op sy plaas in ‘n “bank” te sit. Nou wonder ‘n mens hoeveel ander skemas is daar nog wat nog geheim is en Cele dalk van weet. Cele het vir ou Sqirrel aan die korthare beet en ons gaan hom nog lank moet verduur.

Snowball ·

Sy uitbarsting is omdat hy aan arrogansie ly – in sy eie oë is hy en die ANC onaantasbaar en SA se mense net die gepeupel wat hom nie moet uitdaag of kritiseer nie. In sy wêreldjie is Cele koning en werksdruk bestaan nie by die ANC nie; hy en sy comrades voel minder as niks vir hulle verantwoordelikheid – hulle is daar vir die hoede en die ‘bling’.

Kobus ·

Maw, Ramposa is Cele se gevangene? CR weet dat Cele hom sy posissie kan kos en dit is weereens ‘n bewys dat ANC eerste prioriteit is en nie SA nie.

Trotse Boervrou ·

Die vet weet, hier moet ek nou eerder niks uiter nie. Dit sal my direk ‘n plek in sy stinkende selle besorg!

goodCOP ·

Squirrel kan nie die idioot in die hoed afdank nie want hy moet vir hom stemme werf in KwaZulu-Natal

Swerwer ·

Die sogenaamde President en sy bondgenoot ministers moet mekaar beskerm want maak een sy mond oop dan val daar 10 ander want die Regering mafia het soveel geraamtes is hul kaste dat die deure nie meer kan toe bly nie.

Pietertjie ·

In Animal Farm het die varke in die sitkamer ook onder mekaar baklei; mekaar gebyt…

Miena ·

Nee wat ek moet liewer stilbly. Ek het baie tattoos op my lyf en mag dalk net as n gangster uitgejou word. Ek dink nie dit gaan n goeie kombinasie wees met die woorde wat ek wil uiter hier nie want dalk word ek geban en dan sal ek nie meer kan deel in die gelag van hierdie land se sirkus nie. Ek sal dus stilbly en maar my volgende tattoo afspraak maak… o en by the way – petisie is geteken!!!

Frank ·

Daar is al lank so ‘n petitisie met hel baie meer handtekeninge, maar ek raai DA se ego laat seker nie toe om iemand anders se identiese petitisie te ondersteun nie en wil HULLE EIE he. Wel ek teken nie nabootsers se goed nie. “Eendrag maak mag” maar met so iets lyk dit na “DA maak mag”

KaRoOkWaGgA ·

Dis soos om te hoop dat die Ivoorkus rugbyspan ‘n volsterkte All Blacks rugbyspan in ‘n wereld beker eindstryd te klop. Ons almal weet Cele is deel van die “wolf pack” en hy sal nie uitgeskop word nie.

Genis ·

Ken die net Sharap? Miskien hy voetsek, tshmaaija…. hamba… jy is onbevoeg…

Di ·

Ja nee kyk, so kom hulle almal se skelmstreke die een na die ander uit! KARMA begin nou sy werk doen onder hierdie spul. DIT wat jy uitsit in die heelal kom terug na jou toe. Ons wag in spanning om die uiteinde van die ANC spul te sien

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.