Skrywer Schalk Schoombie sterf

Schalk Schoombie. (Foto: Verskaf)

Schalk Schoombie, die Suid-Afrikaanse dramaturg, skrywer, joernalis en resensent, is Sondag op die ouderdom van 66 oorlede.

Schoombie het ná ʼn lang siekbed in Alberton gesterf. Medelye het intussen begin instroom vir dié skrywer wat in 2015 sy debuutroman, Boomkastele, die lig laat sien het.

“Ek onthou sy droom was altyd om ‘movies te maak’. Hy het saam met sy skryftalent ʼn ongelooflike insig in visuele kommunikasie gehad,” skryf Joan van Zyl, oud-kollega by die De Kat-tydskrif, op Facebook.

Schoombie was redakteur van dié tydskrif.

“Schalk se liefde vir die Here, sy wonderlike skryftalent en sy besonderse menswees sal altyd deel van Lééf se nalatenskap wees,” het die Lééf-tydskrif, waarvoor Schoombie gereeld bydraes gelewer het, se redaksie op Facebook gesê.

Schoombie se seun, die Suidooster– en Die tragiese saak van Pamina Vermaak-akteur, Christiaan Schoombie, het ʼn lang, roerende brief op Facebook gedeel.

“Ek het nie woorde nie. Is dit regtig totsiens? Jou afwesigheid laat my verlore op die see in ʼn orkaan van rou,” skryf Christiaan.

“Wie gaan my raad gee wanneer ek sukkel om die lewe se uitdagings te navigeer? Hoe gaan ek dit maak tot môre?”

Die boekresensent Jonathan Amid het ook ʼn huldeblyk aan Schoombie op Facebook gelewer.

“Jy was een van die slimste, vlymskerp en só wys, met soveel kennis en verstand, maar nederig, sag, deernisvol met ander. Ontsaglik ryk in gees. Jy was ʼn goeie vriend en kollega en ʼn wonderlike mentor vir ʼn kindred spirit. Nooit iets sleg oor ander te sê nie en altyd vol liefde.”

Schoombie is voorheen bekroon met ’n Mondi (1994), ’n ATKV-Mediaveertjie (2009), ’n Anglogold Ashanti-Smeltkroesprys (2012), en ’n FAK-toekenning vir besondere kultuurprestasie. Sy eerste speurverhaal, Rooi haring, het in 2017 verskyn.

Schoombie laat sy vrou, Liza, en sy kinders, Christiaan en Isolde, agter.

  • Luister boaan die berig na Schalk Schoombie se ateljeeonderhoud in Julie 2017 met Maroela Media se Esté Meyer Jansen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.