Slang in gras met beoogde steenkoolmyn naby Krugerwildtuin

(Argieffoto)

AfriForum het Woensdag sy ernstige bedenkinge te kenne gegee oor die mynregaansoek wat die maatskappy Tenbosch Mining ingedien het. Die burgerregteorganisasie voer aan “daar is ʼn slang in die gras” met die aansoek en het sy regspan opdrag gegee om ʼn brief aan die mynmaatskappy se nuwe omgewingskonsultasiefirma, Kimopax Group, te stuur.

Tenbosch Mining beoog om ʼn steenkoolmyn aan die suidelike grens van die Krugerwildtuin op te rig.

AfriForum het sy kommentaar oor Kinopax se omgewingsimpakstudie reeds in Oktober verlede jaar aan dié konsultasiefirma voorgelê. In sy terugvoer het AfriForum verskeie kommerwekkende kwessies met betrekking tot die aansoek en die nakoming van relevante wetgewing en riglyne uitgelig.

Die organisasie sê egter tot dusver het Kimopax nog nie terugvoer gegee op AfriForum se bekommernisse oor Tenbosch Mining se “wanvoorstelling” nie. AfriForum eis daarom nou dat ʼn skriftelike verduideliking gelewer moet word oor waarom die genoemde aansoek steeds voortgesit word.

In die brief aan die Kimopax Group wys AfriForum onder meer op ʼn kritieke kennisgewing van Tenbosch Mining se vorige omgewingskonsultasiefirma, Myezo Environmental Management Services. Volgens hierdie kennisgewing, gedateer 19 Oktober 2022, het Tenbosch Mining sy aansoek om ʼn mynlisensie en omgewingsgoedkeuring onttrek. AfriForum benadruk dat dié kennisgewing betrekking het op dieselfde mynregaansoek as dié waarvoor Tenbosch Mining nou ʼn omgewingsimpakstudie laat onderneem het.

In die Myezo-kennisgewing is bevestig dat die aansoek om die mynreg én die omgewingsgoedkeuringsprosesse gekanselleer is en dat verdere werk deur die betrokke konsultasiefirma opgeskort is.

Benewens die skrywe aan Kimopax het AfriForum ook verskeie ander relevante partye verwittig van die kommerwekkende verwikkelinge ten opsigte van Tenbosch Mining se aansoek.

“Volgens onbevestigde gerugte is daar reeds goedkeuring vir ʼn mynregaansoek toegestaan, maar dié goedkeuring word egter nog geheim gehou. Hoe dit ook al sy, hier is vreemde verwikkelinge in hierdie proses,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir omgewingsake.

“Uit dit wat ons reeds weet van Tenbosch Mining, is dit duidelik dat dié maatskappy nie vertrou kan word nie. Juis daarom kan mynregte nooit aan só ʼn maatskappy toegestaan word nie. Hul aansoek en impakstudie is ook uiters gebrekkig en ʼn verdere rede waarom dié proses geskrap moet word en eerder van nuuts af begin moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Miena ·

As Gwede Manthashe en Barbara Creecy net kan insien dat die projek naby die Rietvlei Wildreservaat ook is en n animal sanctuary is asook n kritieke water bron vir SA dan kan hulle nie toelaat dat hierdie projek aangaan nie. Ek self werk op n myn in MP en sien hoeveel skade was berokken 2jr gelede deur mynwater wat beland het in die Olifantsrivier tot by die eindpunt waar hoeveel spesies vis gevrek het. Ja daar is vir die afgelope 2 jaar ook rehabilitasie programme in plek en uitgevoer maar die skade is langblywend vir jare hierna nog…

Andre ·

…gaan kyk maar na die bankrekeninge van die beamptes wat die lisensies toestaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.