‘Hof moet saak oor munisipale verval prioritiseer’

Argieffoto (Foto: Daniel Bone/Pixabay)

Sakeliga se sogenaamde betaalmeester-hofsaak teen die Ditsobotla- en Naledi- plaaslike munisipaliteit in Noordwes is verlede week vir die derde keer in die Mahikeng-hooggeregshof uitgestel.

ʼn Ellelange hofrol het dié keer daarvoor gesorg dat dié saak nie aangehoor kon word nie.

Piet le Roux, hoof van Sakeliga, is nou bekommerd oor die “gebrek aan prioritisering” wat die saak ontvang aangesien gemeenskappe en sakelui op die ou end vir die vertraging gaan boet.

Die organisasie vra in twee onderskeie aansoeke voor die hooggeregshof vir verpligte nasionale ingryping, finansiële administrasie en tussentydse bestuur van munisipale bankrekeninge deur onafhanklike ouditeure wat in opdrag van die hooggeregshof as spesiale meesters moet optree.

Le Roux sê die saak is twee keer vantevore uitgestel voordat die regter in Februarie vanjaar eindelik gelas het dat die twee aansoeke op 23 en 24 Maart saam aangehoor sou word.

Dit het egter nooit gebeur nie.

Le Roux sê dit het die oggend van 23 Maart vinnig duidelik geword dat die twee sake nie aangehoor gaan word nie aangesien daar talle ander aansoeke op die betrokke dag se hofrol geplaas is.

Eedsverklarings wat die minister van finansies en die Ditsobotla- plaaslike munisipaliteit boonop ter elfder ure ingedien het, het nóg ʼn uitstel eindelik onvermydelik gemaak.

Die hof het in reaksie op die eedsverklarings wat laat ingedien is, twee kostebevele vir die verspilde koste van die saak teen Ditsobotla toegestaan. Hierdie koste sluit die koste van drie advokate in.

Sakeliga versoek egter “dringende saakbestuur” van die hof sodat nuwe spesiale verhoordatums vir sy saak vasgestel kan word.

“Sakeliga het ook aan sy regspan opdrag gegee om soveel moontlik druk uit te oefen om die saak spoedig weer op die rol te kry sodat dit afgehandel kan word. Indien regshulp nie in die Mahikeng-hof beskikbaar is nie, sal Sakeliga in oorleg met sy regspan alle nodige verdere stappe doen om regspleging te laat geskied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eden ·

Wat het geword van Sakeliga se hofbevel teen Dhlamini-Zuma? Sy sou nog laas in hegtenis geneem word omdat sy hofbevele verontagsaam het, maar nooit weer iets daaroor gehoor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.