Sluiting van skole: Regering swig dalk voor vakbonde

(Argieffoto: ANA)

Onderwyskenners, vakbonde, onderwysersunies, beheerliggame en ouers is haaks oor die belangrike besluit wat geneem moet word oor die toekoms van die leerders en die uitwerking van ʼn verdere sluiting op die akademiese skooljaar en die toekoms van derduisende leerders.

Vakbonde eis dat skole weer sluit tot ná die pandemie ʼn piek in Suid-Afrika bereik het omdat leerders en onderwysers se lewens kwansuis bedreig word indien skole oop bly. Die kabinet sal binnekort hul besluit oor dié netelige kwessie bekendmaak. Kenners meen vakbonde het wel die mag om die besluit in ʼn bepaalde rigting te swaai.

“Ek verwag dat die regering ʼn goue middeweg sal volg. Dit is nie in hulle belang om die vakbonde heeltemal te ignoreer nie, en streng gesproke is daar wel skole wat steeds onveilig is vir effektiewe skoolhou. Die regering wil dit egter ook nie laat lyk asof vakbonde aan hulle voorskryf nie. Hulle loop steeds deur onder kritiek weens die taxi-toegewing,” het prof. Michael le Cordeur, hoof van die departement kurrikulumstudies aan die Universiteit Stellenbosch (US), gesê.

Die stryd oor of skole te midde van die Covid-19-pandemie weer gesluit moet word, duur voort. (Foto: Maroela Media)

Daarom verwag Le Cordeur dat skole tot ongeveer 17 Augustus gesluit sal word, maar dat die regering ʼn teenprestasie sal beding, naamlik dat skole daarna moet hervat. “Ons kan nie bekostig dat ouers gaan werk terwyl kinders sonder toesig tuis is nie. Ek dink die skole sal dus vir ʼn kort rukkie sluit, wat soos ʼn middeljaarvakansie kan lyk. Die matrieks is immers al agt weke in die skool.

“Navorsing bewys dat hoe langer kinders uit die skool is, hoe moeiliker is dit vir hulle om terug te keer. Ons sien reeds dat slegs 70% van matrieks teruggekeer het. Ek voorspel dat dit met die ander grade nog minder sal wees,” sê Le Cordeur.

Oor die moontlikheid dat vakbonde hierdie onderhandelinge as hefboom vir salarisverhogings sal gebruik, meen Le Cordeur dat selfs die vakbonde sal besef dat die regering platsak is en dat daar skaars geld is om hul salarisse te betaal, laat staan nog verhogings.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Skoleondersteuningsentrum (SOS), meen vakbonde, en veral die Suid-Afrikaanse demokratiese onderwysunie (SADOU), was histories deel van die ANC se stryd om politieke mag te bekom en die struggle-kultuur is steeds deel van hul werkwyse, al is die ANC tans in beheer.

“Afbrekende metodes soos kritiek, opstand, stakings en plundering is SADOU se manier om politieke oogmerke te bereik – selde, indien ooit, word opbouende voorstelle in belang van beter onderwys gemaak. Dit is daarom des te meer teleurstellend dat die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), ʼn vakbond wat tradisioneel funksionele skole en uitnemende onderwysers verteenwoordig het, hulle nou ook skaar by SADOU.”

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum. (Foto: Reint Dykema)

Buys sê Motshekga is duidelik gekant daarteen om alle provinsies en skole oor die selfde kam te skeer. “Ons hoop dat sy die moed sal hê om in beste belang van onderwys en teen SADOU en ander vakbonde te besluit om voort te gaan met ʼn gedesentraliseerde benadering wat skole wat veiligheidsmaatreëls in plek het, toelaat om voort te gaan met onderrig.”

Sy sê die meeste kwintiel 4‑ en 5‑skole handhaaf streng veiligheidsprotokol vir alle leerders en personeel. “By meeste van hierdie skole is al die grade reeds op roterende basis terug by die skool en leerderbywoning is deur die bank meer as 93%. Indien skole weer sou sluit, ontstaan ʼn situasie waar dit veilig is vir taxi’s om 100% te laai, maar klaskamers waar die korrekte Covid-19‑protokols in plek is, is te gevaarlik om in skool te hou.”

Buys meen indien Motshekga sou besluit om skole wel te sluit, dit ʼn politieke besluit sal wees, aangesien alle navorsing daarop dui dat dit veilig is vir leerders om terug te keer skool toe.

Buys sê ook kwintiel 4- en 5-skole is afhanklik van skoolgeld en kry minimale finansiële hulp van die staat. Dit is ook hierdie skole se beheerliggame wat tot 50% van die skool se onderwysers uit skoolgeld befonds, en reeds sedert Mei onder druk is om beheerliggaam-onderwysers se salarisse te betaal weens die afname in skoolgeld.

Angie Motshekga. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

“Navorsing toon ook dat hongersnood onder kinders byna verdubbel het tydens die begin van die inperkingstydperk.  Die staat se voedingskema begin nou eers weer op dreef kom in baie streke.  Indien skole nou weer sluit, is miljoene kinders weer aan hul eie lot oorgelaat.”

Le Cordeur meen vakbonde kan nie almal oor dieselfde kam geskeer word nie.

“Nie almal het dieselfde agenda nie. Sommige raadpleeg hul lede, by ander besluit die bestuur self. Ek dink die departement van basiese onderwys (DBO) moet hul huis in orde kry, want die vakbonde sal iets soos skole wat nie gereed is nie, of nie die nodige toerusting ontvang het nie, gebruik om die doelpale te verskuif.”

Prof. Jonathan Jansen, onderwyskundige van die Universiteit Stellenbosch, glo egter nie daar is politieke motiewe in die optrede van onderwysvakbonde nie.

Jonathan Jansen. Foto: www.ufs.ac.za

“In hierdie geval kan ek nie sien dat die vakbondleierskap politieke motiewe vir vakbondoptrede het nie. Die vakbondleiers is onder geweldige druk van hul lede terwyl onderwysers siek word en sterf. Dié wat onderliggende siektetoestande het, is angstig om na die skoolorde terug te keer. NAPTOSA is ook ten gunste van die sluiting van skole en dit behoort die salarisverhogings as motief uit te kanselleer.”

Jansen het erken dat hy nie weet watter kant toe die kabinet neig nie. “Dit sal ongetwyfeld die risiko dat die vakbonde die skole in elk geval gaan sluit, opweeg teen die beskerming van die politieke ego van ʼn minister wat reeds haar kaarte oor die saak op die tafel gesit het. Ek dink egter nie dit gaan oor salarisverhogings nie,” het Jansen gesê.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) moet die besluit oor die oophou of sluiting van skole gegrond word op ʼn risikobestuursbenadering wat die opvoedkundige, welstand‑ en gesondheidsvoor- of nadele vir leerders, onderwysers, administratiewe personeel en die breër gemeenskap in ag neem, geskoei word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Agge nee

Die SAOU se meningsopname was baie verdag. Die skakels is oral op sosiale media gedeel en elke Tom Dick & Harry kon dit invul, soveel kere soos hulle wou. Miskien moet die unie dalk ‘n plekkie maak waar jy jou SAOU nommer moet invul. Dit sal baie meer geloofwaardigheid aan hulle bevinding gee. Julle het julle laat kaap deur die radikale element.

Fritz

Ek sien Jonathan eet nou die US se genadebrood. Hy het maar nie baie lank by daai buitelandse universiteit gehou nie.

R

Hoekom sluit ons nie sommer die hospitale en klinieke ook nie? Is ons as onderwysers dan meer blootgestel as mediese personeel? Terwyl ons sluit – wat van die winkels waar mense letterlik teen mekaar verbyloop? Covid gaan nie verdwyn nie – leer om daarmee saam te leef! Verseker gun mens niemand om te sterf aan asemnood of covid nie, maar stats bewys keer op keer dat meer mense sterf aan TB, kanker, diabetes, hartkwale, nierkwale en en en en… Hoekom moet ons kinders se toekoms letterlik stop vir iets waarmee ons moet leer om saam te leef? Met my eie… Lees meer »

Oom Hennie Pennie

Die hele ding word nou uit verband geruk.

Aubrey

En weereens regeer die unies die land. Meeste kenners stem saam dat dit beter is vir die kinders in die skool en dat dit veilig is vir kinders on skool te gaan. As daar wel besluit word om skole te sluit sal dit bloot wees om die unies te paai. Ouers moet maar net nie skoolfonds betaal nie want daar is geen diens gelewer nie en die kind was ook nie by die skool nie. Daar is groepe wat baie meer blootstelling het aan covid as die onderwysers wat nog steeds werk; dink maar aan die kassier by die winkel.… Lees meer »