Smeermiddel ‘dringend’ onttrek weens swaminfeksies

Verpleegsters by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg. (Foto: GCIS)

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Saphra) het ʼn smeermiddel onttrek wat algemeen in hospitale reg oor Suid-Afrika gebruik word. Dié stap kom nadat verskeie pasiënte ʼn swaminfeksie ontwikkel het nadat dié smeermiddel gebruik is om hulle mee te behandel.

Lubri-A, ʼn steriele smeermiddel, word vervaardig deur Electro Spyres en word algemeen in die private én openbare gesondheidsektor gebruik om byvoorbeeld kateters in te sit of inwendige sonars te doen. “Saphra het klagtes uit verskeie oorde ontvang van pasiënte wat siek geword het weens ʼn swaminfeksie nadat hulle aan die swamspesie Wickerhamomyces anomalus blootgestel is. Dit hou verband met die gebruik van die betrokke smeermiddel.”

Volgens Saphra word die onttrekking van die produk beskou as ʼn klas 1 tipe A-onttrekking, aangesien daar “ernstige kommer oor die gehalte van die produk is en dit erge gevolge kan hê”. “Dit het die potensiaal om ernstige en wydverspreide infeksies te veroorsaak,” sê die raad.

Saphra vermoed dat sommige voorraad van hierdie smeermiddel met die swam besmet is en het gesondheidspersoneel dus aangeraai om dadelik die gebruik van die produk te staak en dit via die gewone verspreidingskanale terug te stuur.

Die departement van gesondheid sê hoewel niemand nog weens hierdie swaminfeksies gesterf het nie, dit nogtans nodig is om die produk dringend te onttrek, aangesien dit uiters skadelik kan wees vir babas in neonatale hoë sorg, sowel as pasiënte wat ernstig siek is. Volgens die departement word hierdie produk in hospitale in verskeie provinsies gebruik waar ʼn skielike toename in swaminfeksies gesien word, insluitend hospitale in die Wes-Kaap.

“Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sal hospitale bystaan om individuele gevalle van swaminfeksies te ondersoek om vas te stel of die betrokke smeermiddel op die pasiënt gebruik is,” sê ʼn departementele woordvoerder.

“Die departement het provinsiale gesondheidsowerhede reeds in kennis gestel om die gebruik van alle voorraad van die produk voorlopig op ys te plaas, totdat bykomende inligting ingewin kan word. Gesondheidspersoneel wat wel hierdie produk gebruik het, moet hul pasiënte dophou vir enige tekens van infeksie.”

Die departement het lede van die publiek nietemin verseker dat die situasie onder beheer is en dat daar geen rede tot paniek is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.