Só lyk beurtkrag vir die volgende paar dae

Argieffoto (Foto: jplenio f/Pixabay)

Eskom het gesê weens die verlies van vyf groot kragopwekkingseenhede die afgelope 36 uur en die vertraging om vyf eenhede weer in diens te stel, sal beurtkrag fase 3 van 07:00 – 16:00 Sondag ingestel word.

Tussen 16:00 en 00:00 sal fase 4 beurtkrag toegepas word en dan verlaag word na fase 2-beurtkrag tot Maandag om 05:00. Eskom sal enige veranderinge aankondig indien nodig.

Drie eenhede by Kendal, en een elk by Tutuka en Majuba-kragstasies moes afgeskakel word vir noodherstelwerk. Die indiensstelling van een kragopwekkingseenheid elk by Medupi, Arnot, Camden, Kriel en Duvha word vertraag.

Fase 4-beurtkrag sal Maandag van 05:00 – 00:00 toegepas word. Fase 2-beurtkrag sal dan oornag van middernag tot Dinsdag om 05:00 ingestel word. Dié beurtkrag-fases sal waarskynlik deur die week herhaal word.

Die kragvoorsiener het tans 4 597 MW op beplande instandhouding en 16 457 MW van kapasiteit wat weens onvoorsiene omstandighede nie beskikbaar is nie.

Verbruikers word gemaan om elektrisiteit spaarsamig te verbruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.