Só lyk DA se plan teen plaasaanvalle

Argieffoto: Lorraine Claasen

Die DA het Donderdag ʼn omvattende veiligheidsplan bekend gestel om aanvalle op boere, plaaswerkers en landelike gemeenskappe te bekamp. Dié party het ook ’n debat in die Nasionale Vergadering aangevra om lig op die landwye toename in plaasaanvalle en -moorde te werp.

Dianne Kohler Barnard, die voorsitter van die DA se taakspan vir landelike veiligheid, het tydens ’n aanlyn mediakonferensie gesê dat daar die afgelope maand ’n beduidende toename in die aantal plaasaanvalle was. Sy sê die aanvalle was die afgelope twee weke veral wreedaardig en slagoffers is erg gemartel.

“’n Boer of plaaswerker in Suid-Afrika het ʼn vier keer groter kans om vermoor te word as die gemiddelde Suid-Afrikaner. Altesaam 5 475 plaasaanvalle en 2 073 plaasmoorde is sedert 1990 in die land aangemeld,” sê Barnard.

Barnard sê die Suid-Afrikaanse landbousektor word bedreig deur die onveiligheid van landelike gemeenskappe. In 2019 het die totale koste verbonde aan misdaad in die landbousektor sowat R10 miljard beloop, wat ’n verdere ekonomiese verlies van R20 miljard in die Suid-Afrikaanse ekonomie tot gevolg gehad het.

“Die regering kan nie die huidige landelike veiligheidsituasie ontken nie. Die DA glo dat hierdie aanvalle op plase ’n nasionale noodtoestand is en dat dit dringend hanteer moet word. Ons moet onsself ook afvra of hierdie aanvalle bloot wetteloosheid is, of word dit deur haat of ’n ander voorbedagte rade gepleeg,” sê Barnard.

In reaksie hierop wil die DA die volgende maatreëls tref:

Plaasmoorde as haatmisdade

Glynnis Breytenbach, DA se skaduminister vir justisie en korrektiewe dienste, sê die DA sal aandring dat plaasaanvalle, indien nodig, as haatmisdade geklassifiseer word. Dit sal die aankla van diegene op sosiale media of op enige ander platform, wat marteling en moord aanmoedig, insluit.

“Haatmisdade is nie net misdade wat teen kwesbare groepe gepleeg word nie, maar misdade wat teen individue gepleeg word as gevolg van die vooroordeel wat die aanvaller teen ’n hele groep mense het,” sê Breytenbach.

Kontrolering  van plaasaanvalsake

Annette Steyn, skaduminister van landbou, sê omdat plaasaanvalsake soms tot 10 jaar kan neem om af te handel, gaan DA-raadslede of aktiviste ondersoeke en hofverrigtinge rakende alle plaasaanvalsake noukeurig kontroleer en aan boere terugrapporteer. Dit is om te verseker dat die saak nooit sloer nie, maar so vinnig as moontlik afgehandel word.

Nuwe navorsing en statistiek

Steyn sê die DA gaan versoek dat ’n nuwe studie oor landelike veiligheid van stapel gestuur word om sodoende langtermynoplossings, gebaseer op wêreldwye praktyke, na te streef.

“Daar is tans slegs beperkte en verouderde navorsing oor plaasaanvalle op regering- sowel as akademiese vlak. Daar is ’n behoefte aan bykomende navorsing,” sê Steyn.

Die DA gaan ook seker maak alle plaasaanvalle en -moorde word jaarliks by die polisie se misdaadstatistiek gevoeg.

Verbeterde samewerking met landbou-unies

Die DA gaan saam met verskeie landbou-unies werk om plaaspatrollies te help organiseer en te formaliseer.

Ondersteuning aan opkomende boere

Die DA sal voortgaan om grondbesit te bevorder en opkomende boere finansieel te ondersteun.

Verbeterde verhouding met die polisie

Andrew Whitfield, DA-skaduminister van die polisie, sê die DA gaan daarna streef om ’n beter verhouding tussen die polisie en boere te bewerkstellig met betrekking tot vuurwapenlisensies, vuurwapenopleiding, plaaspatrollies en die inhegtenisnemings van verdagtes.

Die DA sal die polisie versoek om gereelde uitreikaksies vir gemeenskapsbewusmaking en opvoeding in hoërisikogebiede van stapel te stuur, met die fokus op veiligheid.

Oproep van gespesialiseerde eenhede

“Die DA sal weer ’n beroep doen op die vestiging van ’n volledig toegeruste spesialiseenheid wat toegewy is om landelike gemeenskappe te beskerm en om enige plaasaanvaller(s) so vinnig as moontlik vas te trek,” sê Whitfield.

Toename in polisie se ondersoekkapasiteit

Whitfield sê die DA sal versoek dat die ondersoekkapasiteit by landelike polisiestasies verhoog word om te verseker dat plaasaanvallers so gou as moontlik vasgetrek word. Dit sluit in dat polisie-teenwoordigheid verhoog word en dat alle beskikbare tegnologieë gebruik word om die aanvallers so gou as moontlik vas te trek.

Plaasmoorde as prioriteitsmisdade

Whitfield sê die DA versoek dat die polisie plaasaanvalle as prioriteitsmisdade hanteer omdat dit ooreenkomste met prioriteitsmisdade soos huisroof, sakeroof en motorkaping toon.

Veg teen die wysiging van die grondonteiening sonder vergoedingswet

Noko Masipa, DA-lid van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê die DA gaan aanhou baklei teen die wysiging van artikel 25 van die Grondwet wat grondonteiening sonder vergoeding toelaat.

Nuwe belastingsmaatreëls vir boere

Die DA vra ook dat belasting verlig moet word vir diegene in landelike gebiede en veral boere wat private sekerheidsondernemings uit hul eie sak betaal. Belastingsubsidies moet ook geld vir plaaspatrollies, plaaswagte en ondernemings wat veiligheid bied in landelike gemeenskappe.

Toename in misdaadintelligensievermoë in landelike gebiede

Barnard sê die DA gaan ’n groter kapasiteit vir misdaadintelligensie vir landelike gebiede aanvra. Dit is om plaasaanvalle te voorkom, eerder as om die polisie in te roep nadat ’n moord reeds gepleeg is. “As sodanig sal ons vra vir bykomende veiligheid spesifiek in die hoërisikogebiede,” sê Barnard.

Verhoogde veiligheid by Suid-Afrikaanse grense

Barnard sê die DA sal voortgaan om die noodsaaklikheid van grensbeheer te beklemtoon en onwettige grensoorgange stop te sit.

Gesamentlike ministeriële beraad oor landelike veiligheid

Barnard sê die DA sal ’n gesamentlike ministeriële beraad oor landelike veiligheid versoek om deur die landelike veiligheidsbedreigings te werk, korttermyn- en mediumtermynoplossings te vind en om die implementering daarvan te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek bid dat dit sal werk of dat iemand in die regering dalk sal luister. Ek mag hoop en bid.

Pierreli ·

Daan, dis waar, maar die een moet ook darem ‘n oor hê om te hoor.

Alida ·

Baie dankie DA stap in die regte rigting. Ek is seker die VF+ sal saamwerk. Sterkte!!!

Magda ·

Werner – Die boere werk hard en die mense wat alles verniet wil he, is mense soos die Taxi Eienaars – want se my wat DRA die TAXI bedryf by tot die Ekonomie – Betaal nie Tax nie, betaal nie tol gelde nie – en betaal nog minder hulle boetes. Hoop die DA gaan slaag om DIE MOORDE AS HAAT MISDADE TE KWALIFISEER. HOO PJULLE GAAN SLAAG.

Grassie ·

Dit is alles baie mooi planne en idees en ek hoop die DA voer dit deur, Maar – solank boere op die regering en polisie staatmaak vir beskerming gaan die slagting net voortduur, In sommige landelike gebiede is die boere goed georganiseer en sien na hulle self om, maar in baie ander gebiede skiet hul vér te kort. Die DA moet liewers hul politieke neusoptrekkery in hul sak steek en hul gewig in hierdie ernstige aangeleentheid by Afriforum ingooi. So ‘n gesamentlike front sal baie meer bereik.

Jaun ·

DA, ons sien regdeur julle. Daar is munisipale verkiesings volgende jaar en nou probeer julle jul kastig sterk uitspreek oor sake wat die VF+, Afriforum, TLU ens al vir lank aan die groot klok hang. Natuurlik is ons bly vir julle pogings in hierdie verband, want meer druk op die regering vanuit meer geledere kan net help. Maar moenie die fout maak om dink Afrikaners gaan aanstaande jaar weer in trosse vir julle stem na jul nederlaag verlede jaar nie.

MrMagic ·

Wat ‘n blye dag sal dit nie wees wanneer die regerings-amptenare en leiers in ‘n internasionale hof skuldig bevind gaan word vir al hul sondes en stilswye nie. Hoop dit gebeur spoedig en dat hulle lewenslank tronk toe gestuur word.

Pierreli ·

MrMagic, ons sal almal eendag voor ons Hemelse Vader se troon moet staan en rekenskap moet gee oor ons dade hier op Aarde, goed en sleg.

Cherokee ·

Hellen Zille het getwiet dat sommige van die huidige wette erger is as diè onder apartheid. Steenhuisen het gesê dat dit nie die waarheid is nie. Daar is deur sommige in die DA, formele klagtes teen haar gelê by die DA se disiplinêre kommitee. John Steenhuisen sê dit is hoegenaamd nie waar wat sy beweer dat daar huidige wette is wat erger is ad die apartheidswette, nie. Hoeveel van julle DA-aanhangers ondersteun steeds vir Steenhuisen & kie? Dit is verraad teen die blanke.

Andre ·

Goeie plan maar onthou net die SAPD werk vir die ANC en dus sal hulle nie die plan goedkeur nie.

Michael 1 ·

Dit is n stap in die regte rigting onthou ook daar is nogsteeds diskriminerende wetgewing teen wit minderhede wat ook aandag moet kry.

Vranet ·

“Die DA sal voortgaan om grondbesit te bevorder en opkomende boere finansieel te ondersteun.”
Weereens “opkomende boere”. Ek vertrou dit sluit alle boere in. Ook die jong wit boere wat boerdery in hulle bloed het en ook die landbou wil sien floreer. Nie net miljoene inprop in “opkomende” boere wat nie die kennis of vermoeë het om te boer nie.
Dan kan hulle sommer baie werk spaar deur net met Afriforum saam te werk, wat die meeste weet van dit wat hulle wil doen. Afriforum het reeds baie van die planne in plek. Moenie weer probeer om die wiel van vooraf uit te vind nie. Werk saam met bestaande strukture.

Sêmanet ·

Alles goed en wel, maar ons wil dit nie hoor nie. ONS WIL DIT SIEN!!

Pierreli ·

Dit is haat aanvalle, niks anders nie. Hierdie kommunistiese/terroristiese regering sal niks doen om dit te probeer bekamp nie want hulle hits dit aan en is deel daarvan.

Sarel ·

Waar val die DA nou uit. Glo my ek wasrdeer elke poging wat aangewend word maar al vir my of hierdie party nou inderhaas probeer stemme werf. Hulle ondersteun steeds BEE.

Ria ·

Kan iemand asb namens ons EIS dat Ramaphoza plaasmoorde op ‘n publieke platform veroordeel en sterker optrede teen die moordenaars afkondig. Die regering het niks hieroor te sê nie, want heimlik keur hulle dit goed dat blankes afgemaai word. Dit maak hulle almal moordenaars

J ·

TERRORISTE AANVALLE !

Dit is die woord waarmee die sg. ‘plaasaanvalle’ vervang moet word.

Daar is totaal ander WETTE van toepassing op die bestryding van TERRORISTE AANVALLE.

TERRORISTE word ook internasionaal bestry deur INTERNASIONALE WETTE waartoe meeste lande verbind (verplig!) is.

Solank die woord ‘plaasaanvalle’ gebruik word …. dien dit die huidige regime se agenda van etniese suiwering.

Solank die woord ‘plaasaanvalle’ gebruik word kan die huidige regime voortgaan om dit te hanteer asof dit gewone misdade is.

Sodoende kom die rampokker regering weg met hulle ‘verborge agenda’!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.