Só lyk Eskom se winterplan

Argieffoto: GCIS

Eskom het R4,5 miljard opsygesit om die kragopwekkinguitdagings by die Medupi- en Kusile-kragstasie te bolwerk.

Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom se direksie, het Woensdag by die Lethabo-kragsentrale in die Vrystaat die jongste inligting oor die stand van die kragnetwerk bekend gemaak.

Hy het gesê die koste van Medupi en Kusile het al met meer as dubbel toegeneem tot meer as R290 miljard en dat dit ʼn bykomende vyf jaar geneem het om te bou. Albei kragstasies was veronderstel om nagenoeg 9 600 MW tot die kragnetwerk by te dra.

Volgens Mabuza sal dit ʼn bykomende R18 miljard kos om Kusile en Medupi onderskeidelik te voltooi en dat dit minstens 60 tot 66 maande sal neem om dit te doen.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het vroeër gesê Medupi en Kusile is swak ontwerp en gebou.

Eskom het intussen R49 miljard opsygesit om oor die volgende vyf jaar aan instandhouding te bestee.

Die kragvoorsiener het ook sy winterplan, wat oor die volgende vyf maande strek bekend gemaak. Dit is om die beskikbaarheidsfaktor van energie te verbeter, beurtkrag tot fase 1 te beperk, behoorlike instandhouding te doen om onderbrekings by kragstasies te verminder, openbare deelname en energiebesparende inisiatiewe aan te moedig en effektiewe en gereelde kommunikasie met alle belanghebbendes te verseker.

Eskom beplan vir twee moontlik scenario’s:

Scenario 1:

Geen beurtkrag

Minder as 9 500 MW se verlies aan kapasiteit weens onverwagte onderbrekings en tussen 3 000 en 5 000 MW se verlies weens beplande redes.

Scenario 2:

ʼn Maksimum van 26 dae se fase 1-beurtkrag. Meer as 9 500 MW se verlies aan kapasiteit weens onverwagte onderbrekings en tussen 3 000 en 5 000 MW se verlies weens beplande redes.

Volgens die kragvoorsiener het hy verskeie inisiatiewe om scenario 1 te bereik. Dit sluit in om Kriel se eenheid 2 weer teen 18 April aan te skakel wat 475 MW sal bydra en Matla se eenheid 5 weer teen 13 Mei aan te skakel wat 575 MW sal bydra. Eskom wil ook Medupi se twee semi-aktiewe eenhede voorberei om tydelik te kan bydra in geval van nood terwyl daar voorberei word om Kusile se derde eenheid binnekort aanlyn te laat kom.

Eskom het gesê die geld vir sy dieselvoorraad is ook goedgekeur en dat dit betyds beskikbaar gestel sal word. Daar word ook verwag dat die kouer weer die prestasie van die kragstasies sal verbeter. Die kraginvoer uit Mosambiek wat beïnvloed is deur sikloon Idai sal ook na verwagting binnekort ten volle herstel wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

38 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andreas

Eskom, het julle die behoeftes van die gebruikers in ag geneem, of … julle net voort op die ou patroon?

Andreas

Klink soos ‘n Ski-oord waar mens kan bespreek. Verseker doer, doer noord.

piper

oom zumpie het gese daar sal nooit weer beurtkrag wees nie.

Martin

Dis nie die stasies wat swak ontwerp is nie, dis die werk wat in SA beplan was en uitgevoer is wat die flop is.

Ai tog

Medupi en Kosile: Swakste projekbestuur wat SA nog OOIT gesien het. Projek is 5 jaar laat en 200% van begroting. Is die PATETE in die pad gesteek of gooi ons maar net nog geld in die rigting van die probleem en hoop die probleem gaan weg!?!?