Só lyk nuwe datums vir Aardklop

Feesgangers op Aardklop se feesterrein (Foto: Verskaf)

Die Aardklop Nasionale Kunstefees se organiseerders het pas aangekondig dat dié fees in 2021 sy kunsbedrywighede voortsit.

“Ondanks die onsekere werklikheid waarin ons onsself bevind, is daar lig aan die einde van die kunstetonnel,” sê Delmari van Zyl, bestuurder van borge, media en bemarking.

“Ons word oorval met navrae vanaf hoopvolle kunstenaars, stalletjiehouers en feesgangers en ná geslaagde gesprekke met die Noordwes-Universiteit (NWU) is ons opgewonde om die nuwe datums aan te kondig.”

Aardklop sal na verwagting van 28 September tot 3 Oktober op die NWU se Potchefstroom-kampus aangebied word.

Alexa Strachan, uitvoerende hoof van die fees, sê Aardklop is ’n bestemmings- en gesinsfees. Dit is daarom van sleutelbelang dat die fees tydens die skool- en NWU se vakansie plaasvind.

“Die universiteit se lokale en ander fasiliteite, asook omliggende skole en hotelgeriewe, bly die kern waarom Aardklop beplan word,” verduidelik Strachan. “Ons nooi feesgangers uit om dié datums neer te pen, want einde September lei alle paaie na Potchefstroom.”

Prof. Daryl Balia, voorsitter van Aardklop se direksie en adjunk-visekanselier van die NWU se Potchefstroom-kampus, het namens die universiteit sy opgewondenheid oor die vennootskap met Aardklop gedeel.

“Die fokus is om ʼn platform te skep waar hoë gehalte kuns en vermaak aangebied kan word, selfs te midde van die uitdagende tye waarin ons onsself bevind. Hierdie vennootskap, wat jare gelede reeds gevestig is, lewer werklik ʼn wonderlike en energieke bydrae tot die kultuurbedrywighede van Potchefstroom én die provinsie. Kom ons vat hande en ondersteun die kunstefees en heerlike gesinsvermaak wat dit bied.”

Navrae kan na [email protected] gestuur word. Hou ook die fees se Facebook-blad dop vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

En dan word dit ook op die laaste minuut gestop met Corona as amptelike rede, maar eintlik maar net omdat die fees glo “te wit” is en omdat dit in “die taal van die onderdrukker” aangebied word.

Peter Pan ·

Ag who cares, dis elke jaar dieselfde! Ek bly in Potch, daar is nooit parkering nie en sukkel om by werk uit te kom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.