Só lyk OB se kans op afdanking

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Oupa Mokoena/African News Agency)

Dit is teen dié tyd nie te debatteer of adv. Busisiwe Mkhwebane uit haar pos as Openbare Beskermer (OB) verwyder behoort te word nie. Regskenners is wel nog in twee geskeur oor die kwessie of die geskorste OB voor die einde van haar termyn afgedank kan word.

“Sy is ’n uiters onbekwame persoon. En jy kan my net so aanhaal,” het die regskenner Koos Malan vandeesweek aan Maroela Media gesê.

Malan glo pres. Cyril Ramaphosa sal Mkhwebane met ’n bietjie hulp van die parlement se art. 194-komitee en die Nasionale Vergadering uit haar pos kan skop.

Die president kan slegs die hoof van ’n hoofstuk 9- instelling soos die OB met behulp van ’n tweederdemeerderheid van die Nasionale Vergadering afdank. Die parlement se art. 194-komitee is nou belas met ’n ondersoek na Mkhwebane sodat dié komitee ’n aanbeveling aan die Nasionale Vergadering kan maak.

Volgens Malan is dié ondersoek in die geval van Mkhwebane egter in ’n mate onnodig. “Doodeenvoudig omdat dit nie in dié geval moeilik is om te besluit of Mkhwebane onbekwaam is of haar aan wangedrag skuldig gemaak het nie.

“Inteendeel, dit is ooglopend: Sy is oorweldigend onbekwaam. Daar kan met die grootste gemak ’n besluit geneem word daaroor.”

“Ons almal weet sy is onbevoeg,” beaam die strafregkenner Llewellyn Curlewis. “Hopelik sal die komitee ook tot dié gevolgtrekking kom.” Curlewis twyfel egter of die president die tweederdemeerderheid sal kan kry wat nodig is om Mkhwebane af te dank.

Die Opbenbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto:
Phando Jikelo/ANA)

“Dit is alles goed en wel om die regsprosesse te volg, maar jy moet steeds ’n klomp politici – wat nie altyd hul gesonde verstand gebruik nie – oortuig om ten gunste van haar afdanking te stem.”

Mkhwebane sal dan noodgedwonge haar termyn uitdien.

Curlewis glo egter dit is belangrik dat die art. 194-komitee sy ondersoek na Mkhwebane afhandel. “Sy moet nie ’n halwe kans gegun word om langs regskortpaaie kapsie te kan maak nie, want dan sit ons met hersieningsaansoeke wat jare neem om af te handel.”

Malan en Curlewis glo albei Mkhwebane doen tans alles in haar vermoë om haar afdanking uit te stel totdat haar termyn in 2023 tot ’n einde kom.

“Dit is beslis haar strategie. Kom ons sê dit maar reguit vir mekaar. Sy het niks om te verloor nie,” sê Curlewis.

“Sy sal hand en tand baklei om as’t ware te speel vir tyd. Sy is met elke dag wat verbygaan nader aan die einde van haar termyn en dít is waar sy wil wees.”

Malan sê Mkhwebane het met die intrapslap van haar aanstelling in 2016 getoon dat sy nie bevoeg is om die amp van OB te beklee nie. “Sedertdien het sy net ál meer getuienis van haar eie onbekwaamheid en arrogansie laat blyk.”

Die hooggeregshof het oor die jare al by herhaalde geleenthede beslissings van Mkhwebane ter syde gestel. Die geskorste OB het boonop die afgelope twee jaar meer as R67 miljoen van haar kantoor se begroting aan regskoste bestee om haar onbevoegdheid te verdedig.

“Sy is domastrant,” meen Malan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.