Só wil Charlotte Maxeke-hospitaal lang waglys verkort

Die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg. (Foto: Facebook)

Die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg maak van verskeie ingrypings gebruik om pasiënte te akkommodeer wat op ’n lang waglys vir operasies is.

Die Gautengse departement van gesondheid het Sondag in ʼn verklaring gesê dat die hospitaal ʼn tweede teater op Dinsdae en Vrydae beskikbaar sal maak om kardiotorakale operasies uit te voer.

Pasiënte wat op kleiner en meer algemene operasies, insluitend plastiese en neurochirurgie wag, sal elke twee weke na die Bertha Gxowa-distrikshospitaal verwys word, terwyl pasiënte wat kleiner kolorektale operasies moet ondergaan, na die Suid-Rand-distrikshospitaal verwys sal word.

Daar is tans 2 677 pasiënte wat op verskeie operasies wag.

Die meeste mense (833) wag op ortopediese chirurgie – wat in sommige gevalle nog soveel as twee jaar kan neem voordat die operasies gedoen kan word. Altesaam 509 mense wag op algemene chirurgie, 453 op pediatriese operasies, 182 op orgaanskenkings (wat tot tien jaar kan neem) en 137 op neurochirurgie.

Daar is ʼn wagtydperk van ses tot agt maande vir die verwydering van katarakte en ʼn waglys van 200 mense.

Die rede vir die lang waglys is glo ʼn kombinasie van ʼn tekort aan orgaanskenkers, onvoldoende teatertyd, ʼn tekort aan beddens in die intensiewesorgeenheid, die brandskade wat onlangs by die hospitaal aangerig is en die uitwerking van die Covid-19-pandemie.

Luidens die verklaring stuur die hospitaal ook elke maand veldtogte van stapel om mense oor orgaanskenking op te voed. Dit vorm deel van pogings om die skenkingspoel te vergroot om ander provinsies, soos Noordwes en Mpumalanga, daarby in te sluit.

Die hospitaal vat ook hande met die Nelson Mandela-kinderhospitaal om die aantal nieroorplantings te verhoog, asook die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit Stellenbosch vir die MIV-nieroorplantingsprogram.

Vennootskappe tussen die openbare en private sektor sal ook nagestreef word om die opleiding van chirurge vir leweroorplantings te bewerkstellig. Dít vorm deel van pogings om die aanbod van leweroorplantings by staatsfasiliteite te verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Porseleintjie ·

Suid-Rand Hospitaal??? Hardloop terwyl jul nog kan. Charlotte Maxeke se bestuur-gee die leisels oor aan bevoegdes.

Anel ·

En hulle wil ‘n nasionale gesondheidstelsel implimenteer????? Behoede ons!!!!!

domheks ·

Te veel mense – maak voorsiening vir meer voorbehoedmiddels. Dan kan diense dalk verbeter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.