SOE gaan Vrystaat-asbeskontrak ondersoek

Argieffoto (Foto: Jennifer Beebe/Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie het gesê hy verwelkom die aankondiging dat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) die omstrede Vrystaatse asbeskontrak gaan ondersoek.

Pres. Cyril Ramaphosa het goedkeuring gegee dat die SOE sal ondersoek instel oor die kontrak en dat “R250 miljoen in die ANC-politici en hul makkers se koffers ingevloei het”, het Leona Kleynhans, DA-LP in die Vrystaat, Saterdag gesê.

Die DA in die Vrystaat het die hof in Julie 2015 genader in ʼn poging om betalings vir die “onreëlmatige kontrak” stop te sit. Die hof het bepaal dat die saak nie dringend is nie, en betalings het voortgegaan, het sy bygevoeg.

Die DA het in Oktober 2015 die openbare beskermer genader. Die OB se kantoor het vroeër vanjaar die klaer, Kleynhans, in kennis gestel dat ernstige onreëlmatighede aan die lig gekom het toe die kontrak toegeken is, en dat die verslag deur OB Busisiwe Mkhwebane vrygestel sal word sodra dit afgehandel is. “Die verslag is nog nie deur die kantoor van die OB vrygestel nie,” het Kleynhans gesê.

Die Vrystaatse departement van menslike nedersettings het die kontrak toegeken aan Blackhead Consulting/Diamond Hill JV “om huise in die Vrystaat te identifiseer wat asbesdakke het”.

“Die kontrak sou gesamentlik uitgevoer word deur ʼn kontrak wat vroeër ook aan Blackhead Consulting in Gauteng toegeken is. Die kontrakwaarde vir fase 1 was R250 miljoen. Blackhead/Diamond Hill het ʼn twyfelagtige verslag aan die departement oorhandig waar die maatskappy na bewering 33 000 huise in die provinsie geïdentifiseer het.

“Ná gedetailleerde inligting in 2015 oor die kontrak bekom is, het die DA dadelik bevind dat die kontrak uitgevoer is om die departement te bedrieg en betalings aan die kontrakteurs was onreëlmatig. In daardie stadium is R100 miljoen reeds oorbetaal. Ná die hofsaak is ʼn verdere R150 miljoen oorbetaal,” het Kleynhans verduidelik.

Sy het gesê die DA is verlig dat die hele kontrak en betalings uiteindelik behoorlik ondersoek sal word en dat diegene, wat daaruit voordeel getrek het, aanspreeklik gehou sal word vir die geld wat van Vrystaters beroof is.

“In sy boek, Gangster State, het joernalis Pieter-Louis Myburgh besonderhede verskaf oor die betalings en die karakters in dié sage. Dit is weereens ʼn tragedie dat die behoeftige mense van die Vrystaat gebruik is as ʼn dekmantel vir plundery,” het Kleynhans gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andreas ·

Ek dag die DA is net in die stede en Wes-Kaap bedrywig, maar van so tydjie gelede af sien mens hulle laat ook van hulle in die Noord-Kaap en Oranje-Vrystaat hoor. Jip my spelling is die verkeerd nie, selfs Julius en die EFF is gemaklik met daai kleur.

Cherokee ·

Jy noop my nou om vir die eerste keer te wonder oor vanwaar die gekleurde byvoeging in naam van die Vrystaatse provinsie is.

marco polo ·

Cherokee, na alle waarskynlikheid van die Oranjerivier, of wat ookal dit deesdae genoem word.

Chris ·

He he Andreas sien jy hey bietjie laat wakket geword . Die DA was nog alty bedrywig hier in die Vrystaat en Noordkaap. Ja ek dink daar is n helebpaa ringkoppe in die a&c & e&f wat die oranje nogal sal geniet

Neels ·

Chetokee die oranje kom van anderkant die Oranjeriviefwat die grens tussen Kaap provinsie en Vrystaat was of nog steeds is

Felix ·

Maroela, van wat ek verstaan of kan agter kom, is dat asbes produkte asook die myn daarvan is in 2008 met onmiddellike effek deur die destydse minister van omgewingsake Marthinus van Schalkwyk verbied. Kan julle help?

Gert van Wierdapark ·

Ek kan nie wag op die verslag van die OB nie!! . Daarin sal die kaders se “derms seker goed uitgeryg” word, soos die spreekwoord lui. Ons weet mos hoe in-dringend die Vrede suiwel-projek ondersoek was. He-he-he!

Attie. ·

In Nederland was daar ten tyde van die Groot Trek ‘n Oranje politieke groep en die meeste Voortrekkers wat hulle in die OVS gevestig het was ten nouste gekoppel met die Nederlandse Oranje Party. Niks te doen met die Oranjerivier nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.