Soet en suur vir Span Suid-Afrika

Pieter “Supa-Piet” du Preez en sy seuntjie Pietman, lyk ewe in hul noppies met die goue medalje. Du Preez het Saterdag in Suid-Afrika aangekom. (Foto: Team SA/Twitter)

Die elfde en voorlaaste dag van die Paralimpiese Spele in Tokio het geen medaljes vir Span Suid-Afrika opgelewer nie, hoewel Mpumelelo Mhlongo sy eie wêreldrekord in die 200 m (T44-kategorie) laat spat het en Anruné Weyers ʼn seisoensbeste tyd in die 200 m (T47) vir vroue aangeteken het.

Zanele Situ het Saterdagoggend die spiesgooi vir vroue (F53-54) met ʼn vyfde plek ingelui met ʼn afstand van 16,22 m. Die Nigeriër Flora Ngunwana was eerste met ʼn afstand van 19,39 m.

Weyers, wat reeds met een goue medalje spog, het in die uitdunrondes van die 200 m ʼn seisoensbeste tyd van 25,62 sek. aangeteken. Sy het in die eindronde swakkerig weggespring en vyfde geëindig in 25,51 sek., wat weer ʼn verbetering op haar seisoensbeste tyd is.

Die item is deur Lisbeli Vera Andrade van Venezuela in 21,43 sek. gewen.

Die 27-jarige Mhlongo het in die uitdunrondes sy eie wêreldrekord in die 200 m (T44) laat spat toe hy ʼn tyd van 22,81 sek. aangeteken het. Mhlongo was die enigste van die T44-kategorie-atlete wat die eindronde (T64) kon haal.

Hy het sesde in 22,86 sek. geëindig en die wedloop is deur Sherman Guity van Costa Rica in 21,43 sek. afgeblits.

In die diskusgooi vir vroue (F37-38) het Simoné Kruger, die 16-jarige Garsie (Hoërskool Garsfontein), aanvanklik in die nat gooisirkel gesukkel om ʼn wettige gooi in te kry, maar sy het met ʼn afstand van 31,30 m sesde geëindig. Na Mi van China (F37) was eerste met ʼn afstand van 38,50 m.

In die gewigstoot vir mans (F63) het Tyrone Pillay van Durban agtste geëindig met ʼn afstand van 11,94 m. Die Brit Aled Davis (15,33 m) het die goue medalje gewen.

* Op die medaljetabel is Suid-Afrika 33ste met ses medaljes (4 goud, een silwer en een brons).

China (199) loop gerieflik voor (93 goud, 56 silwer en 50 brons), gevolg deur Brittanje (122) met 41 goud, 38 silwer en 43 brons.

* Dit sal intussen interessant wees om te sien hoe die departement van sport, kuns en kultuur die Paralimpiese atlete gaan vergoed.

Sumaya Khan, die departement se adjunkdirekteur, het Saterdagoggend, toe Pieter (Supa-Piet) du Preez op die OR Tambo-lughawe aangekom het ná sy verowering van ʼn goue medalje in die individuele tydtoets (handfietsry), bevestig dat die Nasionale Lotery dit moontlik sal maak om R450 00 vir ʼn goue medalje, R250 000 vir ʼn silwer medalje en R100 000 vir ʼn brons medalje te skenk.

Atlete sal ʼn verdere R180 000 vir ʼn wêreldrekord ontvang.

In die geval van Mhlongo kon hy nie Saterdag ʼn medalje wen nie, maar hy het steeds die wêreldrekord laat spat en hy is dus geregtig op R180 000.

  • Hierdie berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – Red. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries ·

Julle berig darm n paar lelike fout in MM.NIE julle gewone goed geredigeerde berig nie.Gaan kyk asb.

Eugene ·

Bietjie optelprobleme vir SA (6 medaljes nie 33) en Brittanje 122 nie 111 nie

Christel Cornelissen ·

Dagsê Eugene
Baie dankie vir jou boodskap. Ons vra om verskoning vir die oorsig en het die fout reggestel.
Groete
Christel
nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.