Sol-Tech spog nou met eie IT-kwalifikasie

Paul van Deventer, uitvoerende hoof van Sol-Tech. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Die span wat die ratte laat draai by Sol-Tech het pas ʼn jare lange droom verwesenlik deur nog ʼn reeks kwalifikasies te voeg by die lys van kursusse wat reeds die afgelope 15 jaar by dié wêreldklas-beroepskollege in Monumentpark, Pretoria, aangebied word.

Voornemende studente kan nou inskryf vir die splinternuwe Inligtingstegnologie-kwalifikasies wat vanaf April deur Sol-Tech aangebied gaan word.

Volgens Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, is die visie van die instansie eerstens om soveel moontlik Afrikaanse jongmense op te lei vir die werksplek.

Daarom het hy en sy span die afgelope drie jaar navorsing gedoen oor kwalifikasies wat nie net ʼn toevoeging tot die instansie se opleidingsaanbod kan wees nie, maar ook die leemte in die werksplek in Suid-Afrika kan vul.

Volgens die IT Skills Shortage Survey is daar tans sowat 10 000 poste in die IT-bedryf wat “moeilik is om te vul”.

Volgens WITS: Centre for Software Engineering and Institute of Information Professionals South Africa (IITPSA) het die vraag na IT- en netwerkondersteuningspersoneel met 99% toegeneem, terwyl die vraag na kubersekuriteitspesialiste met 366% gestyg het.

The Future of Jobs se verslag toon dat tegnologie teen 2025 sowat 85 miljoen poste gaan ontwrig, maar sowat 97 miljoen nuwe betrekkings gaan skep.

“Navorsing wat ons die afgelope drie jaar gedoen het, toon duidelik dat daar ʼn reusetekort aan gehalte-IT-opleidingsinstansies en -personeel in Suid-Afrika is. As beroepsopleidingsinstansie betree ons nou ʼn nuwe era met dié uitbreiding. Dit bring ons ook nader aan die verwesenliking van ons visie,” sê Van Deventer.

Wat behels die kwalifikasies

Die eerste drie spesialisprogramme fokus op die terreine van data en wolk, IT-ondersteuning en -netwerk en kubersekuriteit.

Studente kan daarna uitsien om die programme aanlyn te voltooi, met die toegevoegde waarde van blokweke waar daar prakties gedoen sal word in die goed toegeruste laboratorium op die Sol-Tech-wêreldklaskampus in Pretoria.

“Die snelle vooruitgang in die tegnologiese wêreld maak opleiding in infrastruktuur, sagtewareontwikkeling, kubersekuriteit en data gewild en uiters relevant. Verdere uitbreidings en kwalifikasies sal later volg.”

Virtuele laboratoriums maak opleiding uiters toeganklik met verskeie programme wat aan skoolverlaters geleenthede bied, asook aan mense wat reeds in die bedryf werk of dit wil betree, en verdere ontwikkeling wil doen.

“Al drie rigtings bied ook vir kandidate internasionale geleenthede, aangesien dit moontlik is om vanuit Suid-Afrika vir ʼn buitelandse maatskappy te werk.

“Hierdie nuwe been, naamlik Sol-Tech Inligtingstegnologie (SIT), help ons om toeganklik te wees vir soveel meer studente en stel ons in staat om mense te help om in Suid-Afrika werk te kry en nie die land te verlaat nie.”

Koste

Sol-Tech het ‘n wêreldklas kampus in Pretoria. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Sol-Tech het spesifiek CompTIA (Computing Technology Industry Association) as opleidingsvennoot gekies.

CompTIA se programme geniet internasionale erkenning en word in die bedryf hoog geag. Sol-Tech se IT-kwalifikasies bied egter toegevoegde waarde, onder meer ʼn verrykte kurrikulum, sagte vaardighede en praktiese opleiding wat selfs in lande soos die VSA nie as deel van die programme aangebied word nie.

“As ons die kwalifikasies net aangebied het soos die res van die wêreld, dan sou ons nie regtig waarde toegevoeg het nie en was ons dieselfde as al die ander opleidingsinstansies. Ons het toegevoegde waarde bygesit om seker te maak ons programme staan uit en maak mense indiensneembaar,” verduidelik Van Deventer.

“Ons bied ons volledige spesialisprogramme teen ongeveer 40% tot 50% minder aan as wat in die mark beskikbaar is.

“Sol-Tech is ʼn gehalteleier. Hoewel ons pryse baie gunstig is, bly gehalte altyd ons hooffokus.”

Hoewel Sol-Tech ʼn nuwe opleidingsveld betree, gee Van Deventer die versekering dat hierdie uitbreiding ook op dieselfde beginsels van die afgelope 15 jaar se sukses geskoei is.

“Sol-Tech se studente vaar uitstekend in die werksplek omdat hulle praktiese opleiding ontvang as deel van ʼn verrykte kurrikulum wat relevant is tot die bedryf, met uitstekende fasiliteerders wat dit aanbied. Die ontwikkeling van sagte vaardighede is ook ʼn prioriteit. Só word studente verseker van uitstekende onderrig.”

Die eerste studente kan reeds in April hul studies afskop, waarna daar deurlopende innames vir die kursus sal wees.

Baanbrekerskuif vir Sol-Tech

Sol-Tech het ‘n baanbrekerskuif gemaak. (Foto: Mia Slabbert)

“Toe ons 15 jaar gelede met ambagte begin het, was daar ʼn krisis in ambagsopleiding en dinge wat ons destyds voorsien het, het min of meer waar geword. Ons het ook gevind die opleidingstandaarde in Suid-Afrika het geweldig afgeneem.

“Ons het ook geweet ons gaan nie altyd net ambagte aanbied nie en ná 15 jaar se sukses kon ons die volgende groot stap neem. Ons mikpunt is ook om meer vrouestudente in te sluit en ons is deurentyd besig om te kyk waar Sol-Tech nog ʼn rol kan speel in beroepsopleiding.”

Volgens Van Deventer is hy en sy span baie opgewonde oor die groot stap wat die instansie pas geneem het om nog meer mense indiensneembaar te maak vir ʼn goeie toekoms in Suid-Afrika.

“Dit is drie jaar se navorsing en harde werk wat vandeesweek tot ʼn punt gekom het met die bekendstelling van die nuwe studierigting by Sol-Tech.

“Ons is opgewonde oor die positiewe reaksie in die bedryf ná die bekendstelling en vertrou dat ons kan voortbou op 15 jaar se sukses.”

Vir meer inligting, besoek Sol-Tech se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jack ·

Ek is in IT en het ‘n bestuurspos.Ons stel net ouetjies aan wat op meriete kwalifiseer wat die nodige kwalifikasies het on dit te steun.Wit of swart maar meriete tel.Ook BEE is nie van toepasing nie.

VaalDonkie ·

Ek is aangestel sonder enige kwalifikasies, maar met 13 jaar ondervinding. En ek is nou een stappie onder vennoot in ons maatskappy.

domheks ·

Goed so! Stel ‘n voorbeeld in SA, want ons skole is pateties.

George ·

Jy weet jy moet eers skool klaar maak, om hierheen te gaan?

VaalDonkie ·

Julle moet tog asseblief ook sagteware en besigheids-analise spoedig bysit. “DevOps” is die nuwe ding, maar algemene sagteware ontwikkeling rus jou toe om te spesialiseer.

Vonny ·

Soltech
Solidariteit
Afriforum
JULLE is die rede hoekom ons
Suid Afrika niè verlaat…!!!♡

Jackie ·

Dis absoluut verblydend om te sien dat n akademiese instansie vry van politieke inmenging sy doelwitte kan bereik en oorskrei. Die soort sukses stel die ANC leierskap in n baie slegte lig. Ons almal hoop hulle bly ver weg van Soltech en Akademia.

Martie Smartie ·

Ek stel ook voor kyk na interaction design, UI en UX wat plekke soos Open Window en inScape aanbied

Jaco ·

Hoe kom Sol-Tech en Akademia verby regstellende aksie en BEE? Wetgewing sê as ‘n besigheid se aantal personeel ‘n sekere getal oorskry en as die finansiële omset ‘n sekere bedrag oorskry, móét regstellende aksie toegepas word. Alles goed en wel vir Sol-Tech en Akademia nou, maar wat van oor 5 of 10 jaar?

Gerhardus ·

Ek is eerlikwaar teleurgesteld met hierdie kursus, ek kyk nie eers twee keer na iemand wat ‘n CompTIA kwalifikasie het nie. Ek wil weet watter praktiese ondervinding ‘n nuwe werknemer het en of hulle probleme kan oplos. Die kwalifikasies wat voltooi word is werklikwaar vreeslik oppervlakkig met bitter min praktiese opleiding. Die kursus leer jou van Linux maar die voorvereiste vir ‘n rekenaar om die kursus te doen sluit nie eers ‘n Linux bebaseerde rekenaar in nie.

Ons sal maar sien watter kwaliteit student hulle oplewer.

Pieter ·

Ek is in IT vir meer as 25 jaar. Studeer is goed, maar die probleem is dat weens konstante vooruitgang in tegnologie gaan jy vir die res van jou lewe studeer in IT. Mense moet 2x dink om IT ‘n beroep te maak – dis nie maanskyn en rose nie- Aan die “Support kant” – meesste mense is ongeskik en wil nou onmiddelik gehelp word, asof hulle die enigste klient is. Sommige instansies will jare ondervinding en hope kwalifikasies gelyk he voor hulle jou wil aanstel en dan swak salarisse betaal. Ondervinding tel ver meer as “memory exams” wat mense neem. Ek weet, want elk deel elke dag met mense wat allerhande kwalifikasies het en nie die IT werk kan doen nie !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.