Solidariteit Beweging: Groot planne vir ʼn veiliger toekoms

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê selfbestuur sal nog momentum kry soos wat Afrikaners sien hoe hierdie projekte sukses begin behaal. Foto: Reint Dykema.

Die Solidariteit Beweging het Donderdag tydens sy toekomsberaad ʼn omvattende “blyplan” vir 2030 aan meer as ʼn duisend beraadgangers bekendgemaak. Dié plan sal verseker dat Afrikaners vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika kan voortbestaan.

Die plan sluit in:

  • ʼn Wettige belastingprotesveldtog, asook die verskerping van die stryd teen die misbruik van pensioengeld en die Nasionale Gesondheidsversekering.
  • Samewerking tussen die Skoleondersteuningsentrum en vennote moet sorg dat daar in 2030 wêreldgehalte bekostigbare Afrikaanse onderwys is. Dit behels onder meer die bou en ontwikkeling van 30 onafhanklike Afrikaanse skole.
  • Die bou van Sol-Tech se nuwe kampus en koshuise teen ʼn bedrag van R300 miljoen om só dié beroepskollege se opleidingsaanbod te verdubbel.
  • Akademia gaan sy studiesentrums landswyd uitbrei en tussen 30 en 40 nuwe grade akkrediteer. ʼn Nuwe kampus, wat 6 000 studente gaan huisves, gaan teen ʼn koste van meer as R1,5 miljard gebou word. Die eerste studente wat lesings op kampus sal kan bywoon, sal reeds in 2021 op ʼn tussenkampus kan begin klas draf.
  • Die daarstel van ʼn studiefonds ter waarde van R1 miljard om behoeftige Afrikaanse studente finansieel by te staan.
  • Die uitbrei van buurtwagte na 200 eenhede met 20 000 buurtwaglede, asook die ontwikkeling van ʼn omvattende beveiligingsantwoord teen 2030.

Die beraad het Donderdag by die Choose Life-kerk in Moreletapark, Pretoria, plaasgevind. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het tydens sy slottoespraak gesê selfbestuur sal nog momentum kry soos wat Afrikaners sien hoe hierdie projekte sukses begin behaal.

“ʼn Belangrike les wat hier geleer gaan word, is dat vordering tot eenheid lei en dat eenheid nie vordering meebring nie.

“Die Beweging se suksesresep is dat daar nie tyd is om te wag tot almal soos ʼn hegte eenheid saamstem nie, maar dat vordering vinnig tot ʼn samebindende eenheid lei,” het Buys bygevoeg.

Volgens hom sal al hierdie ontwikkelinge omstandighede skep waar Afrikaners ook blywend, vry, veilig en voorspoedig in Suider-Afrika kan voortbestaan tot die voordeel van hierdie landstreek en al sy mense.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê hierdie planne word juis vir die volgende geslag van die Afrikaanse gemeenskap beraam. Hy het tydens sy toespraak sy twee oudste dogters na die verhoog geroep.

“Ek oorhandig my aflosstok aan my dogters – nie omdat ek klaarmaak nie, maar omdat hulle solank wil begin.

“Ek het gedoen wat ek moet doen op ʼn spesifieke tyd en plek, en ek het aan God se toekomsbelofte, daar waar Hy my roep, vasgehou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Andrea ·

Ek haal my hoed af vir Solidariteit se bestuur . My vrees deesdae is net of daar nog enigsins van ons oor gaan wees teen 2030 teen die spoed waarmee ons uitgemoor word.

Andrea van Vuren ·

Gelukkig kan ek nou in vrede sterf met die gedagte dat my kinders en kleinkinders ‘n veilige hawe sal hê en hul moedertaal kan praat. Ek sal nie leef om dit te kan sien gebeur nie.

Dawid ·

Wel gedaan, julle veroorsaak maagsere vir die huidige bedeling, en wys dat wat hulle ook al probeer ons nie sommer net gaan le nie. Ons bou en breek nie af nie

KarinB ·

Solidariteit se leiers se toekomsvisie en geloof gee my hoop dat daar ‘n toekoms vir my kleinkinders in ons mooi land is. Sterkte en sukses.

Johan ·

Ek steun Solidariteit en AfriForum 100% maar het nogal gehoop ons planne sou die herstigting van Boere Kommandos (stedelik en veral landelik) ingesluit het…

Johan ·

MM, julle plaas al weer nie my kommentaar nie. Is dit te “regs” of “polities on-korrek” om te sê dat ons onself gaan moet bewapen? Bewys die geskiedenis enigsens iets anders?

John ·

… en dan moet besef word dat Afrikaners, of is dit eintlik alle Afrikaanses ~ wit, bruin en swart ~ onder ‘n wispelturige grondwet staan; ‘n genadelose dwingelandy en met ‘n mengelmoes van kulture en giere wat rondom taal as wapentuig moet sinkroniseer. Groot kongresse en emosionele opwellings duur ‘n oomblik, maar mense moet bly en eet en werk. Mense verhuis na waar werk is en bekostigbare behuising en dienste en nie eers na niks in die volle vertroue dat daar oor 10 jaar blyplek en skole en dalk drinkwater sal wees nie. Dit is 20 000 jaar gelede so gedoen. Orania voer juis ‘n sukkelbestaan omdat die droom realiteite kortwiek. Solidariteit-base is nie ‘n rasie-leiers nie, maar in die posisies danksy bydraes van werkers tensy alle arm afgetredenes sonder bankrekeninge se laaste R500 geteiken word.

Stand for change ·

John, gee Solidariteit ‘n kans om te wys wat in hul steek. As ons mense – wit, bruin en swart Afrikaanses soos jy ons noem, goed geleerd, belese en kwaliteit burgers is, sal ons expertise benodig word in die opbou van die land wat nou vinniger afgebreek word as wat ons ‘mes’ kan sê.

Leon ·

Ek en ‘n oud kollega wou ‘n kursus vir twee-rigting radio tegnici begin by hulle kollege en hulle het nie belanggestel nie. Ons het ‘n kritieke tekort aan tegnici in Suid Afrika. So, ek het geen vertroue meer in hulle sogenaamde planne nie. Dit is net soos die ANC, net beperk tot wat hulle dink is nodig, nie wat werklik nodig is nie.

Hartseer ·

Ai, niks keer jou om jou curriculum bymekaar te sit volgens die akkreditasie-formaat en beleid nie. Dan behoort jy dit wel iewers te kan bemark. Sterkte.

Gert@Retire@Midstream ·

Grondwetlike nakoming en kwaliteit van opleiding sal weg open vir positiewe navolging. Wees voorbereid vir aanslae van buite.

Bekommerd ·

Ek stem saam Gert@Retire, die staat gaan op elke moontlike gebied hierdie probeer verhoed, veral op grond van akkreditasie verleen. Ek hoop Solidariteit is dit te wagte en gereed daarvoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.