Solidariteit hof toe oor Comair

(Argieffoto: Unsplash)

Die Solidariteit Beweging sal hom Donderdag tot die arbeidshof in Johannesburg wend in ʼn saak wat Numsa teen hom en Comair aanhangig gemaak het.

Numsa dring daarop aan dat ʼn gesamentlike ooreenkoms tussen die lugredery en onder meer Solidariteit en sy lede geskrap moet word. Die afskaffing van die ooreenkoms sal meebring dat Comair sy sakereddingsfinansiering kwyt sal wees.

Comair is tans in sakeredding en ontvang finansiering van R500 miljoen van beleggers wat, onderworpe aan verskeie voorwaardes, beskikbaar gestel is. Dit bepaal onder meer dat die lugredery sy konsultasieprosesse met betrekking tot afleggings met ʼn maand moes verkort.

Solidariteit, wat ingevolge ʼn mandaat van sy lede en as gemeenskaplike meerderheid optree, en Comair het tot ʼn vergelyk in hierdie verband gekom.

Derek Mans, organiseerder van lugvaart en verdediging by Solidariteit, sê die doel van die ooreenkoms is om die voortbestaan van Comair te verseker sodat soveel moontlik poste behoue kan bly.

“Solidariteit het deurentyd met sy lede en ander werknemers beraadslaag en het slegs volgens die mandaat wat van hierdie lede ontvang is, opgetree,” sê Mans.

“Dit is nie moontlik om ons lede se werk te beskerm as die werkplek nie meer bestaan nie. Dit is dus in die beste belang van die werknemer én die werkgewer om ʼn ooreenkoms te bereik wat die voortbestaan van die entiteit sal verseker.”

Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, sê die argumente wat Numsa in sy stukke aanvoer, is nie alles feitelik nie.

“Solidariteit het daarom ʼn bevestigende verklaring ingedien wat hierdie sogenaamde feite van Numsa weerspreek. Ons prioriteit is om te alle tye in die beste belang van ons lede op te tree en die bes moontlike uitkoms vir hulle te bewerkstellig. Dit is waarom ons nie in hierdie verband kan stilbly nie,” sê Van der Bijl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Aai ·

Dit is so van die begin af Numsa soek betaling vir hulle lede vir elke maand wat hulle nie gevlieg het hoe gaan hulle dit doen hulle het nie geld.Wat hulle wel kan doen is om te begin vlieg en te red wat daar is en van vooraf begin en salarisse begin betaal weer.So doende gaan Numsa veroorsaak dat almal sonder werk sit en Comair toemaak.Solidariteit probeer dit keer.

Is jy seker? ·

R500m vir comair van publieke beleggers af, of R10,5 miljard om SAA op Life Support te hou van Jan Tax? ????‍♂️

Kokerboom ·

Bewys wat privaatsektor kan vermag. Linkse vakbonde toon absolute disrespek vir belastingbetalersgeld:verwys SAL finansiering, maar hoe dan anders as jy geen benul het waar geld vandaan kom. “GO” Comair/Solidariteit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.