Solidariteit verwelkom ontslag van Gold One-skurke, maar soek waarborge

(Foto: Gold One International)

Solidariteit het die ontslag van minstens 92 stakers by die Gold One-goudmyn – wie se gruwelike optrede teenoor medewerkers vroeg verlede maand deur die media onthul is – verwelkom.

Maroela Media het vroeër berig honderde mynwerkers is vyf dae lank in die Gold One Modder-Oos-myn buite Johannesburg as gyselaars gehou, gemartel en uitgehonger. Sommige mynwerkers is ook ure lank met pikstele en planke met spykers daaraan aangerand.

Volgens Solidariteit moes van die einste oortreders opnuut weggewys word toe werksaamhede vroeër die week by die myn naby Springs hervat is.

“Slagoffers van Desember se sitstaking het opgemerk dat sommige van die afgedankte werkers wéér ondergronds was toe die eerste skofte vir Januarie hervat is,” sê adv. Paul Mardon, adjunkhoofsekretaris van strategie en volhoubaarheid by Solidariteit.

“Dié oortreders is glo in hegtenis geneem toe hulle bogronds kom, maar is nie tans onder polisiebewaking nie.

“In die lig hiervan eis Solidariteit antwoorde by Gold One-myn se bestuur oor hoe hulle te werk sal gaan om ʼn moontlike derde sitstaking by die myn, of enige soortgelyke gewelddadige optrede, te verhoed,” sê Mardon.

Werkers moes vanaf 3 Januarie weer vir diens aanmeld ná afloop van ʼn interne tugproses wat gevolg het op die gewelddadige ondergrondse staking wat van 7 tot 11 Desember 2023 geduur het.

Die staking het boonop gevolg op die een van Oktober 2023.

Verskeie werkers wat nie by die stakers se eise betrokke was nie, is vyf dae lank in Desember ondergronds as gyselaars gehou, ernstig aangerand, met die dood gedreig en ook verneder.

Sommige werkers is gedwing om kaal uit te trek en is dan met pikstele en planke geslaan.

Volgens Mardon is wit werkers ook mettertyd vir aanranding uitgesonder.

“Gold One het verlede week aangedui dat 92 van die 250 werkers wat aan ʼn tugverhoor onderwerp is, inderdaad weens hierdie afstootlike optrede ontslaan is. Dit is verblydend dat daar wel stappe teen die oortreders gedoen is.”

Hy sê ʼn bykomende ondersoek van die polisie sal hopelik ook tot verdere strafregtelike stappe teen die oortreders lei.

“Ons is dankbaar dat daar wél opgetree is om die skuldiges te laat boet vir hul misdadige gedrag, maar aangesien dit die tweede sitstaking in minder as 50 dae by dieselfde myn was, flikker gevaarligte ongelukkig steeds.

“Daar is van getraumatiseerde werkers verwag om dié week terug te keer werk toe. Wat is die aksieplan om aan hierdie werkers – ook ons eie lede – beskerming te bied?

“Gold One het nog nie geantwoord waarom hulle nie die tweede staking kon voorsien of vermy nie. Hoe kan ons vertrou dat ʼn derde een dan nie óók op hande is nie?” vra Mardon.

Volgens hom sal die werkgewer inderdaad wetgewing oor werkplekveiligheid oortree indien só ʼn situasie hom nou weer sou herhaal.

“Ons wil hê Gold One moet waarborge oor werkers se veiligheid gee. Indien hulle nie die verpligting nakom om stappe te doen wat ʼn herhaling van die situasie teëwerk nie, sal Gold One moet opdok as nóg ʼn staking plaasvind en daar enigsins beserings of selfs lewensverlies voorkom.

“Dit is waarom ons wil weet wat Gold One se aksieplan is om ʼn derde sitstaking te keer. Beskou hulle dit nou as ʼn prioriteit?

“Om slegs te sê jy is tot ʼn veilige werksomgewing verbind, is nie genoeg nie. ʼn Interne tugproses is ook nie genoeg om strafregtelike optrede soos dié aan te pak nie,” sê Mardon.

Solidariteit het intussen sy eie lede aangeraai om nie die werkplek te betree voordat hul veiligheid gewaarborg word, of indien hulle voel hul lewe word op enige manier bedreig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.