Sóveel boere doen aansoek om geldelike hulp

Minister Thoko Didiza. (Foto: GCIS)

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het meer as 55 000 aansoeke om finansiële hulp van kleinboere af ontvang.

Die departement het vroeër R1,2 miljard deur die Covid-19-landbourampbestuursfonds bewillig om veral kleiner boere te help om te midde van die ekonomiese krisis staande te bly. Boere met ʼn omset van tussen R50 000 en R1 miljoen per jaar kon aansoek doen om hulp.

Minister Thoko Didiza het Sondag bekendgemaak dat 55 155 boere tussen 8 en 22 April om dié hulp aansoek gedoen het. Volgens die minister was die meeste aansoeke afkomstig van boere in die Oos-Kaap, die tweede meeste van boere in die Noord-Kaap en die derde meeste uit Noordwes.

“Tot op hede is 15 036 aansoeke met ʼn algehele waarde van R500 miljoen goedgekeur,” het Didiza gesê. Die departement sal die oorblywende aansoeke in die komende week afhandel. Die minister het bygevoeg die meeste aansoeke het gekom van boere wat met vee boer, gevolg deur groenteboere, dié wat met hoenders boer en dan vrugteboere. “Elke boer sal hulp ontvang in ooreenstemming met die grootte van sy boerdery. Geen boer kan egter meer as R50 000 ontvang nie,” het Didiza gesê.

(Argieffoto: pixabay)

Die minister het ook gesê ʼn verdere R400 miljoen word  beskikbaar gestel  om boere by te staan wat deel van die proaktiewe grondverkrygingstrategie (PLAS) uitmaak. Dié geld is reeds voor begroot in die 2019-’20-boekjaar.

Didiza sê die departement sal môre begin om bewyse waarmee produkte aangekoop kan word aan boere in die onderskeie provinsies te stuur. “Ons het ʼn aantal lesse uit die proses geleer waarop ons in die toekoms kan verbeter. Die departement het veral tekortkominge met die liassering van boere se dokumente opgemerk.”

Die landbouorganisasie Saai het ook gesê daar was talle probleme met die indien van vorms. ʼn Aansoekvorm moes gedruk en persoonlik by ʼn kantoor van die departement ingedien word.

Theo de Jager, voorsitter van Saai, het gesê talle boere wat die vorm wou gaan indien, is boonop by padblokkades voorgekeer en aangesê dat die indien van die vorm nie ʼn noodsaaklike diens is nie. Baie van die departement se kantore was boonop gesluit.

Didiza sê deur hierdie proses wil hulle seker maak dat landbouproduksie voortgaan om te verseker daar word kos vir die land verbou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gustav ·

Kom ons wees nou maar reguit. Definieer asb presies wie is n klein boer. Sluit dit blanke boere in?

Adam ·

Gustav, die klein boer word gedefinieer as iemand met ‘n jaarlikse omset van tussen 50000 pj en R1m pj. Dit is gewis nie ‘n perk wat die boere van veel hulp gaan wees nie. Hierdie perk dek die “popspeel” kategorie van boedery en sluit basies almal wat werklik kommersieel boer uit. In wese is dit dus niks anders as “regstellende hulp” nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.