S&P ‘positief’ oor SA se graderingsvooruitsig

krediet-kredietkaarte-geld-bank

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Stevepb/pixabay)

Die graderingsagentskap Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) het laat Vrydagaand Suid-Afrika se jongste kredietgraderings aangekondig.

S&P het die graderings onveranderd gelaat en hou boonop ʼn “positiewe vooruitsig” voor.

Die agentskap het in sy sesmaandelikse besluit oor die kredietgraderings aangekondig dat Suid-Afrika se staatskuld in rand asook in buitelandse geldeenhede op BB en BB- bly. Dit is onderskeidelik twee en drie vlakke onder beleggingsgraad.

Volgens S&P kan die regering se ekonomiese en fiskale hervormings die land se mediumtermyngroei en skuldvooruitsigte verbeter.

Die agentskap sien ook Suid-Afrika se lae buitelandse skuld, die buigsame geldeenheid en binnelandse kapitaalmarkte as “fundamentele krediet-sterkpunte wat eksterne stygende finansieringsrisiko’s behoort te demp”.

S&P het ook uitgelig dat daar ʼn hoër as verwagte belastinginkomste ingevorder is as wat ses maande gelede verwag is. Dié onverwagte invordering sal ook help om die fiskale tekort as ʼn proporsie van die BBP te verminder.

Die nasionale tesourie het intussen in ʼn kort verklaring kennis geneem van S&P se graderingsbesluit.

“Die regering se mediumtermyn- fiskale strategie gee prioriteit aan die bereiking van fiskale volhoubaarheid deur die begrotingstekort te verklein en skuld te stabiliseer,” het die tesourie gesê.

“Verder beywer die regering hom om meer te bestee aan beleidsprioriteite soos sekuriteit en infrastruktuur om sodoende ekonomiese groei te bevorder. Fiskale en ekonomiese risiko’s word ook verminder deur die ondersteuning van sleutel- openbare entiteite om fiskale buffers vir toekomstige skokke te bou.”

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s sou ook Vrydag Suid-Afrika se kredietgradering bywerk, maar het nog nie ʼn nuwe gradering verskaf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.