Spanpoging red man uit krokodil se kake

Familie en vriende kuier by Anthony Joubert wat oor die naweek deur ‘n krokodil aangeval is. (Foto: Verskaf)

ʼn Man van Middelburg in Mpumalanga is die naweek ten aanskoue van sy kinders deur ʼn krokodil langs ʼn plaasdam gegryp en “soos ʼn lappop rondgepluk”.

Nie eens ʼn hou met ʼn boomstomp teen die kop kon die krokodil afskrik nie en net die knal van ʼn vuurwapen kon die dier uiteindelik die aftog laat blaas.

Anthony Joubert is in ʼn hospitaal in Middelburg opgeneem waar hy waarskynlik binnekort ʼn operasie sal moet ondergaan om die skade te herstel. Hy het beserings aan sy regter- en linkerbeen, maag en lies opgedoen.

“Ons is almal nog baie geskok. Dit is ʼn prentjie wat ek nie uit my kop kan kry nie,” het Bianca van der Cloff, ʼn vrou wat saam op die plaas was, aan Maroela Media gesê.

Anthony (38), sy vrou, Annalize, en hul drie kinders het saam Bianca en haar man, Johan, vir die naweek op die plaas gaan kuier.

Anthony en sy seun JP (12) het Saterdag hul lyne langs die water gespan, waar JP sy eerste varswaterbaar gevang het.

Bianca het aan Maroela Media beskryf hoe die toneel ontvou het.

“JP se lyn en die hoek, met die karp nog daaraan, het aan die mik van ʼn boomtak vasgehaak. Anthony het opgestaan om die lyn los te maak, toe die krokodil uit die water spring en hom aan die maag en heup en linker-bobeen gegryp het.”

Johan het hom te hulp gesnel en probeer om vir Anthony uit die water te trek.

“Die krokodil het Anthony vir ʼn oomblik gelos, maar hom dadelik weer aangeval. Anthony het selfs sy vingers in die dier se oë gedruk,” vertel Bianca.

Die lyn en die hoek, met die vis nog daaraan, het aan die mik van ʼn boomtak vasgehaak. (Foto: Verskaf)

Annelize het ʼn boomstomp gegryp en die dier verskeie kere op die kop geslaan, maar haar pogings was tevergeefs.

Bianca het ʼn pistool gaan haal. Johan het ʼn skoot afgevuur om die krokodil af te skrik. Die dier het sekondes later onder die wateroppervlakte verdwyn.

Anthony is bloeiend uit die water getrek. Die vroue het die wonde skoongespoel, ontsmet en die wonde wat hy aan sy maag, lies en bobeen opgedoen het, met verbande toegedraai.

“Daar is geen sein op die plaas sodat ons hulp kon vra nie. Ons het altyd ʼn noodhulptassie byderhand. Die wond was tot op die been oop.”

Johan het in sy bakkie gespring om Anthony so gou as moontlik by die naaste hospitaal te kry.

“Die plaas is sowat 15 km van die pad af. Hulle het omtrent 20:00 by die hospitaal aangekom.”

Hy is intussen na die Life Midmed-hospitaal in Middelburg oorgeplaas.

Anthony is Sondagaand teater toe sodat die aard en erns van sy beserings bepaal kon word.

“Volgens die dokters het die krokodil se tande sy slagaar met enkele millimeter gemis.”

Dit is nog nie duidelik wanneer hy ontslaan gaan word nie.

“Ons wag nog om te hoor of ʼn veloorplanting nodig gaan wees.”

Die betrokkenes ontvang tans berading.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Casper ·

Mense asseblief,as jy weet daar is krokodille mag jy nie nader as 5 meter van die water wees nie.’n Krokodil kom uit die water uit teen ‘n snelheid van 65 km per uur.Jy het geen kans om so ‘n aanval vry te spring nie.As jou lyn vassit breek die lyn met vis en al af.Daar is nog baie ander visse maar jy het net een lewe.

OW ·

Iets lyk ook nie hier reg nie.As daar van hierdie diere in damme is,is dit die eienaar se verantwoordelikheid om kennisgewing borde van die gevaar aan te dui.Krokodille beweeg vinniger as lig in en uit die water.

Karoo ·

Ek glo nie dat die Man en Vrou hulle hele Familie in gedrang sou sit as hulle geweet het daar is krokedille nie. Ek is dankbaar hy leef, dat sy Vrou vinnig aksie kon neem. Sterkte met die herstel en pad vorentoe.

Marietjie ·

Dit is ‘n baie traumatiese gebeurtenis vir die familie. Baie sterkte aan almal, asook jy meneer met die herstel proses.

Goldy ·

Ek het gedink ek ken die bos, maar het nie geweet dat n krokodil so vêr uit die water sal aanval nie.

Estee ·

Dankbaar vir die Here se engele! Anthony word gou gesond en ons bid vir geen groot skade nie, jy is al klaar ‘n lopende wonderwerk! In my agterkop dink ek net ek is so bly dat JP nie op die oomblik in die water was nie want…Ons is net dankbaar saam julle, dank die Vader. Sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.