Spietkops vas vir blouligbedrog  

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Scott Rodgerson / Unsplash)

Twee verkeerspolisiebeamptes – een verbonde aan die Tshwane-metropolisie en die ander een ʼn voormalige beampte by die nasionale verkeerspolisie – is Woensdag op aanklag van bedrog in hegtenis geneem.

Die twee is op die N1 naby Jeanlaan in Centurion in ʼn Volkswagen Polo met blou ligte vasgetrek. Hulle het niksvermoedende motoriste na bewering in vol uniform met weerkaatsende baadjies afgetrek, en was glo ook onwettiglik in besit van Aarto-dokumentasie wat aan die regering behoort.  Die verdagtes het ook R890 in hul besit gehad.

Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) sê die verdagtes kan moontlik ook met ander sake van motor- en vragmotorkapings en blouligbedrog in Gauteng verbind word. Die polisie het beslag gelê op die voertuig, wat nou aan die batebeslagleggingseenheid oorhandig is aangesien dit in die uitvoering van ʼn misdaad gebruik is.

Die twee word tans by die Sunnyside-polisiestasie aangehou en sal na verwagting Donderdag in die Pretoriase landdroshof verskyn om formeel om borgtog aansoek te doen.

Die staat sal na verwagting borgtog teenstaan.

RTCM het Woensdag bykomend gesê dat die voormalige nasionale verkeerspolisiebeampte, Rodney Ramusia (34), voorheen van wangedrag aangekla is, maar bedank het voordat sy dissiplinêre verhoor afgehandel was. Ramusia is destyds glo aan ʼn bepaalde oortreding skuldig bevind en tot ses jaar tronkstraf gevonnis, maar vroeër vrygelaat weens die Covid-19-pandemie.

Lede van die publiek word aangemoedig om enige bedrog en korrupsie by [email protected] aan te meld, of via Whatsapp by 083 293 7989.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nico ·

Hulle gaan net weer vry gelaat word met R500. borg, dit is mos wat deesdae gebeur met hierdie mense.

Di ·

Meeste van die Tshwane-metropolisie is KORRUP. Weet nie hoe hierdie mense aangestel is nie. Soos dit vir my lyk moet jy ‘n krimineel wees om ‘n pos in die Polisie, ANC Regering ens te kry. Hoe groter die krimineel, hoe groter kans op ‘n aanstelling.

Lillian ·

Sodra die een lot agter tralies is, rys die volgende lot uit die gate op om hul voorgangers se werk voort te sit!

Danie ·

Dit gaan in al die departemente so die grotes beskerm die kleintjies en so beskerm hulle mekaar.Niks anders as n totale vrot spul.Die wat kla en die fluitjie blaas sien nie die volgende dag nie.

My siening ·

Gemors sal borg kry en weer dit doen hulle arrugansie strek ver!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.