ʼn Kindervriendelike baadjie vir Maroela se nuus-app

“Waarskuwing: Dié berig kan sensitiewe lesers en kinders ontstel.” As ʼn nuusberig met dié woorde begin, draai jou maag klaar oor die ontstellende inligting waarmee jy gekonfronteer gaan word – beslis nie die tipe nuus wat jy wil hê jou kind moet lees nie. Maar hoe gemaak om seker te maak jy én hy bly ingelig oor wat in die land gebeur, sonder dat hy aan al die grusaamhede in die nuus blootstel word?

Dis onvermydelik dat Maroela Media as ʼn nuuswebwerf daagliks berig oor grusame ongelukke, ysingwekkende gebeure tydens plaasaanvalle of sensitiewe inligting wat tydens hofsake bekendgemaak word.

Maroela se nuusspan rig bo-aan sulke nuusberigte aan sensitiewe lesers en kinders ʼn waarskuwing dat daar ontstellende inligting of foto’s in die berig is, maar soms wil jy, as ouer, liewer self beheer neem oor dit waartoe jou kind (óf jy) toegang het.

Talle skoliere gebruik Maroela Media as ʼn bron vir redenaarstoesprake en huiswerk, maar dan wil jy as ouer graag seker maak dat hulle nie blootgestel word aan inligting waarvoor hulle nog nie opgewasse is nie.

Maar te danke aan Maroela Media se splinternuwe, gratis, kindervriendelike app kan jy nou met ʼn geruste hart die app op jou kind se foon aflaai en ontspan: Jy kan die kategorieë wat jou kind mag sien aan- en afskakel volgens jou eie oordeel en die verstellings met ʼn wagwoord beskerm.

Dit word nóg beter

Jy is dalk dol oor Maroela se resepte en is moeg daarvoor om elke keer tot onder op jou Maroela-app af te rol om die nuutste resepte te lees; of jy wens jy kan die sportnuus heel eerste sien. Wel, dis die einde van jou gehawende vingers. In die splinternuwe weergawe van die Maroela-app kan jy die kategorieë op die app, soos die nuus, menings, finansiële nuus, sportnuus, resepte, goeie nuus en ongewone stories op- en afskuif en rangskik in die volgorde waarin jy dit verkies. Afdelings wat jy nie wil sien nie, kan jy afskakel.

En as jy só nuuskierig is oor die nuutste verlowings, geboortes en verrassings in die lewe van ons Afrikaanse glanspersoonlikhede dat jy dadelik wil weet as iets met een van hulle gebeur, kan jy op jou Maroela-app kies om ʼn kennisgewing op jou foon se tuisskerm te ontvang die oomblik as ʼn nuwe artikel in dié (of enige ander) kategorie gepubliseer word. Jy kan ook met die druk van ʼn enkele knoppie alle kennisgewings op alle kategorieë afskakel as jy nie elke nou en dan onderbreek wil word nie. Daar word immers elke dag gemiddeld 50 nuwe berigte en artikels op Maroela gepubliseer – dis ʼn kennisgewing oor ʼn nuwe storie elke 15 minute!

Al dié persoonlike verstellings op jou eie of jou kind se foon word met ʼn wagwoord beskerm sodat iemand nie sonder jou medewete daarmee kan karring nie.

… en ʼn nuwe baadjie

Buiten die opwindende nuwe funksionaliteit op jou Maroela-app, lyk die uitleg nou ook baie meer soos die webwerfweergawe en jy gaan sommer dadelik tuis voel. Jy kan baie maklik tussen die kategorieë blaai en vinnig die artikels lees wat jy graag wil sien.

Só werk dit

Stap 1
Laai die jongste weergawe van die Maroela- app op jou slimfoon af. Dis gratis beskikbaar op die App Store (vir Apple-toestelle) en die Google Play Store (vir Android-toestelle). Besoek die winkel en tik “Maroela Media” in, en laai die app af.

Stap 2
Nadat dit afgelaai is, sal die nuwe app jou stap-vir-stap deur ʼn hulpgids neem om die app volgens jou persoonlike behoeftes op te stel. Tydens die installasieproses kan jy die volgende verstellings maak:

  • Kies die kategorieë wat op jou app moet vertoon, en skakel dié af wat jy nie wil sien nie.
  • Skakel kennisgewings vir die kategorieë wat jy gekies het, aan of af na willekeur deur die aan/af-skakelaar langs elke kategorie se naam te gebruik.
  • Rangskik die kategorieë se volgorde soos jy dit verkies – skuif die name van die kategorieë in die “Verstellings” bloot met jou vinger op en af tot jy tevrede is.

Stap 3
Nadat jy hierdie verstellings gekies het, gee die app jou die geleentheid om ʼn wagwoord in te tik waarmee jou keuses beskerm sal word. Onthou, as jy jou wagwoord vergeet of verloor, sal jy die app op jou foon moet uitvee en van voor af moet installeer om ʼn nuwe wagwoord te kies.

Stap 4
Indien jy die app op jou kind se foon installeer, volg dieselfde proses en maak die verstellings waarmee jy gemaklik is.

Stap 5
As jy tydens die installasieproses enige van hierdie verstellings gemis het of later wil verander, klik op die drie horisontale strepies in die regterkantste boonste hoek van die app en kies “verstellings”.

Stap 6
As jy steeds nie regkom nie of onseker is oor enigiets op die app, stuur gerus e-pos na [email protected] – ons help graag.

 

Laai die app nou af op die Google Play Store (vir Android-toestelle) of App Store (vir Apple-toestelle).

Maroela Media app vir die iPhone Maroela Media app vir Android

Een ding waaroor jy gerus kan wees, is dat Maroela Media jou gebalanseerde, betroubare bron van nuus is, en dat ons gratis is en bly. Kom kuier nou saam op ons splinternuwe, kindervriendelike app.  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Fanie Kemp ·

Baie baie dankie Maroela Media vir hierdie verantwoorlike en inoverende aksie vanaf julle kant.
Julle optrede is navolgens waardig.
Doe zoo voort!

Danie ·

Dit is ‘n goeie verbetering.

Is dit moontlik dat ek die nuus berigte en resepte kan luister ipv lees. Ek reis elke dag baie vêr en wil dit sommer luisterin my voertuig teryl ek bestuur. Ek kan my foon deur “blue tooth” met my motor radio verbind en dan so-ook na Maroela luister.

Lena Jonk ·

Maroela, julle was nog al die jare my gunsteling koerant en julle sal my nuusbrief van die toekoms bly DV. Baie dankie ook vir die pragtige dagstukkies Christelikheid wat ek altyd eerste lees. Hou by ware eerlike nuus want te veel fopnuus word van Amerika oor die arme president Trump gestuur omdat jy n Christen is en van hulle nie. Ek het julle al by baie Afrikaners hier in die buiteland bekendgestel en hulle lees dit gereeld. Bou voort op julle Christelike beginsels. Mag daar vir julle en julle personeel net voorspoed en Seen wees. Voorwaards, mars.

Wilma Bronner ·

Baaaaie dankie Maroela media!! Ek lees daagliks julle nuusberigte en geniet veral d resepte afdeling. Mag julle geseend voort gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.