Spring gou vir R9-vlugte

(Grafika: FlySafair)

Diegene wie se voete jeuk om op ’n vliegtuig te spring, moet Woensdagoggend om 09:00 gereed staan om die kans te staan om vlugkaartjies vir slegs R9 aan te skaf.

FlySafair het vroeër aangekondig hy wil sy negende verjaarsdagviering inlui deur 50 000 kaartjies teen slegs R9 elk – lughawebelasting ingesluit – van die hand te sit. Dié eenrigtingkaartjies op plaaslike roetes sal vir bepaalde vlugte en sitplekke tussen Mei en November geld, het die lugdiens gesê.

“Ons kan nie langer wag nie, so ons laat die aap uit die mou!” het FlySafair in ʼn plasing op sy sosiale media gesê. “Ons gelukkige R9-verkoping begin môre klokslag om 09:00 waar jy die kans sal kry om een van 50 000 R9-vlugte aan te skaf. Dit is ʼn gelukstrekking, so niemand is gewaarborg om ʼn kaartjie van R9 te kry nie. Maak dus seker jy is voorbereid vir die grootste verkoping van die jaar!”

Besoek die webwerf www.flysafair.co.za om 09:00 of vroeër, sê die lugdiens.

FlySafair se jaarlikse uitverkoping het in Augustus 2015 begin toe hy 30 000 kaartjies vir R1 elk verkoop het. In 2016 het die lugdiens 15 000 kaartjies vir R2 verkoop, en in 2018 is 30 000 kaartjies teen R4 elk aangebied. Die volgende jaar is 45 000 kaartjies vir R5 elk verkoop en verlede jaar is meer as 31 000 kaartjies teen R8 verkoop.

FlySafair, wat sedert sy eerste vlug op 16 Oktober 2014 behoorlik vlamgevat het, die Bokke se voorkeurlugdiens is en tans 150 vlugte per dag na die land se vernaamste stede asook na Zanzibar en Mauritius bied, sê die verkoopproses sal deur middel van ’n wagkamer geskied. Gelukstrekkings sal geduldiges inlaat om dié aanbod aan te gryp.

Die kaartjiery gaan heel waarskynlik oudergewoonte vinniger as die spoed van klank ellelank word en die lugdiens het werkgewers spottenderwys by voorbaat om verskoning gevra vir die verlies aan produktiwiteit op dié dag.

FlySafair se vloot van sowat 31 vliegtuie, aldus Planespotters, bestaan uit ’n handjievol Boeing 737-400’s, terwyl die meerderheid Boeing 737-800’s is. ’n Standaard Boeing 737-800 is met sowat 170 sitplekke toegerus, wat beteken die winskoopkaartjies sal meer as 280 van dié vliegtuie kan vul.

Binnelandse pryse is peperduur op die rug van die Covid-19-pandemie. Vername rolspelers soos Comair se Kulula en British Airways (se plaaslike vlugte) én Mango het van die radar verdwyn, terwyl vliegtuigbrandstofpryse in 2022 met 80% geklim het (in vergelyking met 2021). Hoër lughawetariewe, wat kaartjiepryse regstreeks raak, is boonop in Februarie deur die departement van vervoer in die Staatskoerant gepubliseer.

Keuse bly beperk met slegs FlySafair, Airlink, Lift, CemAir en SAA wat die binnelandse roetes bedien. Airlink gee die pas aan met vlugte na meer as 45 bestemmings op die vasteland. Lift bied slegs vlugte tussen Kaapstad, Durban en Johannesburg, terwyl CemAir vlugte na 17 bestemmings bied. SAA bied volgens sy webtuiste ’n keuse van vlugte na 33 bestemmings.

We can’t keep the anticipation going for much longer, so we’re letting the cat out of the bag…TOMORROW IS THE BIG DAY!…

Posted by FlySafair on Tuesday, May 2, 2023

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Zebratjie ·

9.01 am. Al die kaartjies uitverkoop. Hoe het die webtuiste nie gecrash as 50 duisend binne n minuut gekoop is nie?

Ronél ·

Daar is vandag 50 000 gelukkige mense vandag, ek is weereens nie een van hulle nie……….geen foefie nie, deksels goeie bemarking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.