Springbokke is 2023 se nuusmaker van die jaar

Die Springbokke het hul Wêreldbeker-titel suksesvol verdedig toe hulle die All Blacks met 12 – 11 in Parys geklop het. (Foto: Anne-Christiine Poujoulat/AFP)

Die Nasionale Persklub het Woensdag die Springbokke as sy nuusmaker van die jaar aangewys.

“Met al die gebeure wat mediadekking gekry het, het die Springbokke in 2023 bo dit alles uitgestyg. Die Bokke se oorwinning het ons herinner aan wat ons kan bereik as ons saam staan wanneer die opdraandes kom,” het Antoinette Slabbert, voorsitter van die klub, gesê.

Die voortreflike vertoning van die Springbokke in die naelbyt Wêreldbeker-eindstryd op 28 Oktober in Frankryk het ʼn stortvloed van mediadekking ontketen.

Volgens die Persklub het die vertoning van die dapper plaaslike rugbymanne ook die kollig laat val op wat gehalte leierskap is, soos geïllustreer deur Siya Kolisi. Dit is onder sy inspirerende leierskap dat die Bokke daarin geslaag het om die Wêreldbeker-trofee vir ʼn vierde keer – ʼn rekord – omhoog te hou.

Mark Alexander, president van SA Rugby, het op sy beurt gesê die span voel gevlei deur die Persklub se toekenning.

“Ons nasionale spanne se grootste krag lê daarin om te kan bewys wat sport kan doen; dat ongeag ʼn mens se agtergrond, enigiets moontlik is. Ons diversiteit bly steeds een van ons land se grootste bates. Ons is baie trots op die Springbokke en hul fantastiese prestasie. Deur rugby hoop ons om steeds by te dra tot nasiebou en sosiale samehorigheid in hierdie pragtige land,” het Alexander gesê.

Dit is vir die vierde keer dat die Springbok-rugbyspan as die nuusmaker van die jaar vereer word, met die eerste toekenning in 1995, gevolg deur 1998 en 2007 toe die span saam met sy destydse afrigter Jake White as nuusmaker bekroon is.

“Terwyl die nasie feesgevier het in die nagloed van die Springbokke se inspirerende oorwinning, het ons weer besef wat dit beteken om vir ʼn gemeenskaplike doelwit as ʼn nasie te werk. Die Springbokke se oorwinning het ʼn hernude tasbare stemming van optimisme en afwagting meegebring,” het Slabbert bygevoeg.

(Foto: Christo Brits)

“Suid-Afrikaners gaan deur soveel – van misdaad tot beurtkrag – en soms vergeet ons die oorwinnings wat ons behaal. So, die Bokke-oorwinning het ons weer eens herinner wat gebeur wanneer ons almal eenstemmig optree teen enige teëspoed. Geen wonder dan dat die storie ʼn sterk gevoel van nasieskap oor die kleurgrens heen ontlok het nie.”

Die jaarlikse toekenning wat die Nasionale Persklub sedert 1980 maak gee erken aan die nuusmaker in ʼn kalenderjaar gegrond op die hoeveelheid nuusdekking wat die nuusmaker geniet het en die impak daarvan. Lede van die Nasionale Persklub maak benoemings en gee hul motivering daarvoor waarna die uitvoerende komitee die finale besluit oor die prys neem.

Die Nuusmaker-toekenning sal in April by ʼn galadinee oorhandig word. Die Noordwes-Universiteit is vanjaar se borg van die nuusmaker van die jaar, asook die joernalis van die jaar-kompetisie. Ander nuusmakers wat die klub oor die jare erken het, is Suid-Afrikaanse legendes soos oudpresidente Nelson Mandela, FW de Klerk en Thabo Mbeki, pres. Jacob Zuma, Hollywood-ster Charlize Theron, #FeesMustFall en Eskom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Goeie nuus, Sprinbokke, geluk weereens, en die land kry n vakansiedag, minder goeie nuus, Bafana kom ek dink, derde en ons kry beurtkraf fase 6, slegte nuus, Dricus wen die wereldkampioen titel en hy word nie eens geluk gewens agv sy eerlike uitlatings oor die kader parlement nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.