Staak ‘sousvliegtuig’ vir afgetrede amptenare

Argieffoto

Die gratis luukse vlugte wat die parlement vir oudministers, adjunkministers en hul gades van die ANC, NP, VF Plus en COPE betaal, is ʼn vermorsing van belastingbetalers se geld en moet gestaak word.

Só het die DA gesê nadat hy verlede week ʼn formele klag by die ouditeur-generaal oor dié voordele ingedien het.

Die parlement het voortgegaan om vir hierdie vlugte te betaal, selfs nadat die voordeel in November verlede jaar uit die Ministeriële Handboek geskrap is.

Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, het Woensdag ʼn brief aan die voorsitter van die gesamentlike staande komitee oor die finansiële bestuur van die parlement, Bertha Mabe, gerig en versoek dat dié kwessie op die komitee se volgende vergadering bespreek word.

Die DA voer aan die voordele is onwettig en moet onmiddellik opgeskort word. Schreiber bestempel dit as ʼn sogenaamde sousvliegtuig vir oudamptenare terwyl miljoene mense in armoede leef.

“Belastingbetalers moet jaarliks ongeveer R10 miljoen opdok sodat die parlement vir hierdie luukse vlugte kan betaal,” sê Schreiber.

Hy sê die waarnemende sekretaris van die parlement, Baby Tyawa, wat ook die rekenpligtige beampte van die Wet op die Finansiële Bestuur van die Parlement en die Provinsiale Wetgewers is, moet aanspreeklik gehou word. Sy moet ook die stappe uiteensit wat sy gaan doen om hierdie voortgesette verkwistende besteding te beëindig.

Schreiber sê wetgewing verplig die parlement se rekenpligtige beampte om te verseker dat die hulpbronne van die parlement doeltreffend, ekonomies en deursigtig aangewend word.

“As daar bevind word dat Tyawa haar fidusiêre plig versaak het deur te betaal vir luukse vlugte vir lede van die ANC, NP en VF Plus, moet sy persoonlik aanspreeklik gehou word.”

Schreiber sê die parlement het ʼn grondwetlike verpligting om ʼn voorbeeld te stel in die bestuur van openbare geld wat aan hom toevertrou is.

“Terwyl ons land ʼn werkloosheidskoers van meer as 43% het en met meer as 30 miljoen mense wat onder armoede gebuk gaan, is daar mense soos hierdie wat steeds rondrits op belastingbetalers se onkoste en die parlement se begroting misbruik. Dit is ʼn immorele en korrupte vermorsing van geld.”

Die DA meen dat dié geld wat onreëlmatig bestee word van die betrokke partye verhaal moet word

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Antoinette ·

Stem saam en ook die toelaag wat die president vrouens kry. Hoekom al 6 vrouens toelae kry?

Gert ·

Ek is seker hy kan vir sy eie vrouens sorg met die vet salaris wat hy kry. Ons is mos nie met hulle getroud nie

Chris dupreez ·

En so ry die VF plus ook maar lekker op die soustrein (vliegtuig)

Rentia ·

Ohhhhh…. so die DA het nooit gedeel hierin nie? Nooit ooit gevlieg op die belastingbetaler se koste nie??

piet-van-die-namib ·

Snaaks dat die DA nou skielik so koste bewus is en dat hulle gades die enigstes van al die partye is wat betaal om saam te vlieg……you could’ve fooled me…….

Jaco ·

Maar die DA bly stil oor dienende parlementêre se reusagtige salarisse: R1.3 miljoen per jaar plus ‘n luukse motor plus ‘n vet petroltoelae plus ‘n vet onthaaltoelae plus verniet vlieg. En en en. Hulle swem almal in die geld, ALLE politieke partye se parlementslede.

JohanR ·

As iemand by hulle werk weg is na aftrede is hulle sekerlik nie meer geretig op enigeiets van daai maatskappy nie? As dit se Woolworths was dan kan hulle sekerlik nie meer afslag op klere en kruideniersware daar kry soos voor aftrede. Hulle werk nie meer vir die maatskappy. Nou hoekom moet al die useless wat nie meer in die parlement is nie nog al die geriefe van parlement kry al is hulle nie meer daar nie!

Andréas ·

Let daarop die berig lui “afgetrede” amptenare… So vir dié wat reken VF+ en DA, verskaf feite vir verdere ondersoek asb?
ANC verkwisting en wanbestuur aan die orde van die dag. My versoek vir bg feite ten einde te verseker ons as lesers se “inhuise” belangegroep bly vlekkeloos skoon, dan nie?

Karel Kobus Kruger ·

Op n stadium was die adjunk minister van landbou n VF ou. As ek nog dieper dink, sal ek seker op n DA adjunk minister ook afkom. Daarsy Andreas, daar het jy jou feite.

Kosie ·

Ja, en sny sommer julle behuisings toelae ook en die vervoer toelae en al die lekker byvoordele wat julle mense daar bo in die bloukussings het terwyl ons sotte getrap word en net probeer oorleef. Hoekom doen die DA nie iets nuttig vir ‘n verandering en veg dat belasting vir jan alleman gehalveer word nie, maar nee, hierdie aksie is niks anders as bietjie politieke opportunisme nie. Die DA is deel van die probleem, nie die oplossing nie…

koos10 ·

Kyk ook dan sommer na die “salarisse” wat betaal word aan die “konings” en tradisionele leiers.
As die mense ‘n koning wil hê, dan kan hulle mos hon self betaal?
My Koning kos niks, ek stel nie belang in ‘n menslike koning nie.

Mariana ·

Hulle verdien genoeg om self te betaal vir hul ekskursies.

Deon ·

Ek sal se, as jy deel was van n regering wat die land laat groei het, dan kan jy maar daardie plesiertjie geniet, maar as jy aangaan soos ons regering nou aangaan, vat weg!!

Tienie ·

Daar is toe meer op die sous vliegtuig as wat ek verwag het.

NP en VF.

Dit gaan lekker. Die NP- behoort te stap waar hulle wil wees vir die skade wat hulle aan die land aangerig het.

Was jou net VF en anc is dalk hand op die blaas….

Ooooops

Carina ·

Ons betaal vir hulle vlugte, hul motors, hul huise, hul brandstof, hul hotelverblyf, oorsese reise, vakansies, ens, ens. So as ons nou al klaar vir alles betaal, hoekom moet hulle nog sulke astronomiese salarisse kry? Wat maak hulle dan met hul eie geld? Hulle het dit mos nie meer nodig nie. Ons land sal baie beter daaraan toe wees as ons net eenvoudig alle parlementslede se salarisse heeltemal weg te vat.

AH ·

Sjoe, dit sou darem lekker wees om een van daardie afgetrede ministers te wees. Glo my, ek is beter gekwalifiseerd as meeste van hulle, maar het nie ‘n kriminele agtergrond nie en daar is ‘n probleempie met pigmentasie…..Ek sou lekker kon rondrits sonder om uit te kyk vir “specials” op vliegtuigkaartjies en hotelle……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.