Staatshospitale ‘nie so vrot’ – Nicholas Crisp

Prof. Nicolas Crisp. (Foto: Skermgreep)

Prof. Nicholas Crisp is geen vreemdeling vir kritiek – skynbaar vanuit alle oorde – oor die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) nie. As adjunk-direkteur-generaal van die NGV, verstaan hy ook waar baie van die bekommernisse vandaan kom.

Hy staan egter onwrikbaar in die oortuiging dat die NGV daarin sál slaag om gehaltegesondheidsorg vir álle Suid-Afrikaners te verseker.

“Ek is uiteraard bewus van die kritiek, maar ek deel nie kritici se bekommernisse nie. Ek is meer bekommerd oor wat gebeur met die 62 miljoen mense wat gesondheidsdiens moet kry as ons nié die gesondheidstelsel nou begin pak nie en die stelsel los soos wat hy nou is. Dan gaan ons groter moeilikheid hê.”

Die wetsontwerp is in Februarie deur die parlement goedgekeur en aan pres. Cyril Ramaphosa se kantoor gestuur om amptelik as wet te onderteken.

Solidariteit het die afgelope week ʼn NVG-beraad gehou, waartydens dié stelsel as “verwoestend vir die mediese bedryf én lewensbedreigend vir Suid-Afrikaners” beskryf is.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) het ook reeds hul bedenkinge oor die wet uitgespreek, hoofsaaklik omdat Suid-Afrika eenvoudig nie die geld het om dit te finansier nie.

Crisp meen egter daar ís geld, maar dat die geld wat tans aan gesondheidsorg in die private én openbare sektor bestee word, nie reg aangewend word nie. Dit, meen hy, kan aangepak word deur die gesondheidstelsel te sentraliseer.

“Ons bestee baie meer geld aan gesondheid as ander lande wat in ʼn soortgelyke posisie is. Ons het tien verskillende openbare gesondheidstelsels wat elkeen hul eie ding doen en daar is korrupsie. Wat die NGV sal doen, is om die nasionale departement beheer oor die besteding van al die fondse te gee, wat die ruimte vir vermorsing en korrupsie sal verminder.”

Pasiënte wag in die ongevalle-eenheid by die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg. (Foto: Tania Heyns)

Hy meen ook geld word onnodig in die privaat sektor bestee aan die administrasie van meer as 71 mediese fondse en dat grootskaalse bedrog binne dié sektor plaasvind.

Die VF Plus het die Menseregtekommissie (MRK) in 2022 gevra om ondersoek in te stel na wat hulle meen “gruwelike klagtes” is oor behandeling wat pasiënte by staatshospitale landwyd ontvang. Die party het meer as 400 klagtes in net een maand gekry. Dit sluit in ʼn man wie se been met net lokale verdowing afgesit is. Hy moes dus ongelooflike pyn tydens die operasie verduur.

Tog meen Crisp die behandeling in staatshospitale is nie só sleg nie, al is daar ruimte vir verbetering. “Dit wat jy in die media sien en hoor is nie die volledige prentjie in een van die twee sektore nie. Ja, daar is probleme, maar dis nie áls vrot nie. Uitstekende diens word in die staatsdiens, onder baie moeilike omstandighede, gelewer.”

Sal hy dit self waag om in ʼn staatshospitaal behandel te word? Beslis! Sy dogter het immers nie ʼn mediese fonds nie en het al verskeie kere by ʼn staatshospitaal naby haar huis aangemeld en goeie diens gekry.

Hy erken wel geen land het al só ʼn stelsel soomloos toegepas nie. “Daar is geen kitsoplossing nie, maar ons moet ʼn manier vind om die ongelyke manier waarop gesondheidsorg in Suid-Afrika toegepas word, reg te stel.”

Hy het ook gekap na politici wat die NGV as politieke speelbal in aanloop tot die nasionale verkiesing gebruik. Gautengse premier Panyaza Lesufi het in April gesê Suid-Afrikaners sal ná die verkiesing by enige hospitaal kan inloop en behandeling ontvang, met of sonder ʼn mediese fonds. Hy het ook ʼn einde aan privaat mediese skemas beloof.

“Sulke stellings is baie onverantwoordelik. Dit is bloot om arm mense op te wen. Niemand gaan net by ʼn hospitaal kan instap nie, maak nie saak wie jy is nie. Die wetsontwerp sê jy moet na jou primêre gesondheidsdiens gaan en daai persoon moet jou sien en jou verwys indien hulle jou nie kan behandel nie.”

Die wetsontwerp is in Februarie aan die president se kantoor gestuur om te onderteken. Hoekom soek die president skynbaar nog vir die pen om die NGV wet te maak? En wat van dokters in die privaat sektor wat dreig om te emigreer, sou die NGV ingestel word? Kyk hier na Crisp se antwoorde op hierdie en ander tergende vrae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Nie Verbaas ·

Jy leef op jou eie planeet. Jy durf dit waag om net te verwys na korrupsie by mediese fondse terwyl die staat daagliks plunder.

Ore ·

Het u al self vir behandeling by ‘n staatshospitaal aangemeld Prof? In watter wêreld leef u? U is die “vader” van die NGV en dit blyk dat dit hier gaan oor wie reg is en nie wat reg is nie.

Johan ·

“Ore” jy is heeltemal reg hy moet volgende keer as iemand in sy familie mediese sorg nodig het hulle na n staats fasiliteit toe neem

Hannes ·

Hy kan nie die waarheid praat nie, “Jy kan nie die hand byt wat jou voed nie!”

Grassie ·

Sommige mense gaan met oogklappe aan deur die lewe. Daar is geen salf aan hulle te smeer nie. Hul liberale sosialistiese sienswyse oorheers alle redelikheid.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ja dok, wag totdat jou dogter ‘n noodgeval het en gevorderde sorg benodig. Of geboorte moet skenk op ‘n hospitaalvloer vêr van haar huis. Maar wag, jy is ‘n belangrike man. Net een oproep en jou gesin sal voorkeur behandeling ontvang. Dalk nog uitgevlieg word na Rusland. Maar die res van ons is uitgelewer aan die genade.

Henk ·

Daar is niemand so blind as die een wat nie wil sien nie. Ek nooi mnr Crisp uit om net vir een dag in die staats hospitaal in Modimolle te kom oornag.
Kry al die staats hospitale in die land op standaard en handhaaf dit vir tien jaar dan sal ek I stem tot die nvg.

Protea ·

Oh genade, weet die man waarvan hy praat…… Klaarblyklik besoek hy nie die hospitale nie

Dana ·

My skoonsus het sere aan haar bene ontwikkel. Sy is werkloos en het na plaaslike kliniek gegaan. Hul het geweier om haar te help en gesê sy moet Ampath toe gaan vir bloedtoetse en die uitslae dan na ‘n privaat nr neem.

Casper ·

Waar gaan jy die geld kry mnr.professor.Hoekom is daar miljarde rand se siviele eise teen staatshospitale a g v nalatigheid,hoeveel pasiënt wag vir noodsaaklike operasies en hoeveel babas is al dood a g v nalatigheid.Hoekom lê pasiënte dan op matrasse op die grond.So kan ons aangaan en baie negatiewe goed opnoem maar min positiewe dinge.Maar as direkteur general kr jy seker ‘n ……. . …. vol geld so jy moet seker die stelsel verdedig.

Moira ·

Dit gee my altyd n warm gevoel om iemand te sien dans vir lentjiesop.
Wie is ek om hom te oordeel?
Ek kan hom seker net jammer kry, want waarheen hy dans bestaan lentjiesop nie…

Andries ·

Wat het die man gerook. Daardie goed lei tot gevaarlike hallusiansies.

Martie ·

Dr Crisp het geen idee waarvan hy praat nie, hyself het nog nooit 9 maande gewag vir ‘n eenvoudige galblaas operasie nie, was definitief nog nooit in een behandel nie, miskien voor 1990. Hy sal dit verdedig want hy kry ‘n vet salaris as een van die hoof rolspelers in die NGV.

KB ·

Nikolaas, wees bietjie self ʼn pasiënt in daai hole, dan sal jy ʼn ander deuntjie sing. Jy stoot net jou pen oor papier…kom bietjie by die realiteite uit. Vir jou glo ons lankal nie meer nie, jy is net nóg ʼn liegende politikus.

Dalene ·

As dit dan nie ñ krisis is nie Mr. Crisp, neem ek aan jy gaan die eerste een wees wat jou mediesefonds gaan kanselleer om die NGV gebruik te maak. Practice what you preach and lead by example.

Di ·

Wie weet dalk sal hy ook bevoordeel word as die NVG wel slaag! Duidelik redeneer hy nes ‘n ANC KADER, leuens van die more tot die aand.

Bolandse Nooi ·

Mnr. Crisp … ek wens jou gedagtegang was net so “crisp” soos jou van. Kom ek vertel jou (en ek weet waarvan ek praat, ek is een van daai wat NIE ‘n mediese fonds het nie en wel by ‘n staatskliniek my pille kry). Jy sit VIR URE en wag in ELLELANGE rye. Dan besluit ‘n “triage-suster” of jy nou vandag die dokter kan/sal sien, al dan nie. Meesal word jy net apteek toe gestuur vir jou pille. As jy enige bykomende kwaal het, moet jy maar 2 maande wag vir jou volgende chroniese afspraak. As jy enige nood-behandeling moet kry, is ELLELANGE rye by die plaaslike streekshospitaal se “nood”-afdeling of die outydse “Ongevalle” ook jou voorland. Party mense sit daar tussen 24 tot 48 uur. Daar was al gevalle waar mense GESTERF het terwyl hulle op ‘n dokter se dienste sit en wag het hier by ons plaaslike hospitaal.

SO, MNR. CRISP – DÍS HOE “GESONDHEIDSORG” ONDER DIE ANC REGERING LYK EN DIT GAAN NET SLEGTER, SLEGTER EN NOG SLEGTER LYK ONDER DIE NVG.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.