Staatskaping: Moyane mag Gordhan ondervra

Pravin Gordhan. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Adjunk-hoofregter Raymond Zondo het vandag, in ‘n dag van twee groot wendings voor die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping waarvan hy die voorsitter is, toestemming verleen dat die vorige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Tom Moyane, se regspan kruisondervraging kan doen van die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan.

Dit kan egter net gebeur indien Moyane teen 15 Januarie ‘n beëdigde verklaring indien waarin hy antwoord op al die getuienis wat tot dusver voor die kommissie gedien het wat hom wat Moyane is, impliseer as betrokkene by staatskaping.

Volgens die besluit het Moyane toestemming om Gordhan oor beperkte kwessies uit te vra in verband met ʼn klag wat hy in 2015 aanhangig gemaak het en of hy staatskaping bevorder het terwyl hy die SAID-kommissaris was.

Die klag het gelei tot strafregtelike aanklagte teen Gordhan en ander, maar die aanklagte is op 31 Oktober 2016 teruggetrek deur die voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Shaun Abrahams. Die aanklagte hou verband met goedkeuring vir die vroeë aftrede en ʼn pensioenbetaling aan die voormalige waarnemende SAID-kommissaris, Ivan Pillay in Desember 2010. Dieselfde kwessie dien tans voor die hof as deel van ʼn hersiening van die Openbare Beskermer se verslag.

Zondo se beslissing is onmiddellik verskillend geïnterpreteer deur die Moyane-kamp en die Gordhan-kamp. Moyane se regsverteenwoordigers het dit bestempel as uiteindelike geregtigheid vir Moyane, terwyl Gordhan se woordvoerder, Sam Mkokeli, uitgewys het dat kruisondervraging slegs oor spesifieke feitelike aspekte van beperkte omvang mag handel.

“Minister Gordhan verwelkom die besluit deur die voorsitter dat mnr. Moyane uiteindelik teen 15 Januarie 2020 sy volle weergawe onder eed moet aflê,” het Mkokeli in ʼn verklaring gesê. “Moyane het herhaaldelik geweier om voor die Nugent-kommissie van Ondersoek oor die SAID te getuig. Hy het nog nie by die Staatskapingskommissie getuig nie.”

Volgens Gordhan is die uitspraak deur die adjunk-hoofregter ʼn welkome geleentheid vir Moyane om te verduidelik waarom hy nie aanspreeklik gehou moet word vir die “massiewe agteruitgang van integriteit en bestuur by die SAID” nie en die “roekelose wanbestuur deur Moyane” wat die Nugent-kommissie bevind het.

“Minister Gordhan se regspan sal ook ʼn soortgelyke aansoek bring om Moyane op sy beurt te kruisondervra.”

Die dag is voorts oorheers deur die getuienis van ‘n voormalige ambassadeur wat ook tevore ‘n prominente rolspeler in die Suid-Afrikaanse spioenasiewêreld was, Moe Shaik.

Hy is die broer van sowel Schabir Shaik, die voormalige finansiële adviseur en weldoener van oudpres. Jacob Zuma wat op parool vrygelaat is weens beweerde gesondheidsprobleme, as Chippy Shaik, die voormalige hoofaankoper van die weermag wat na Australië uitgewyk het nadat ongerymdhede oor sy akademiese skripsie bekend geword het.

Moe Shaik het vandag gefokus op hoe die organogram van die intelligensiedienste verander is in die tydperk van staatskaping en hoe sy eie posisie ondermyn is nadat hy ‘n rol gespeel het om polisiebesskerming te onttrek aan die eggenote van die destydse minister van intelligensie, dr. Siyabonga Cwele. Sheryl Cwele is later aan dwelmhandel skuldig bevind en tronk toe gestuur.

Shaik het voorts getuig dat beweer is hy was deel van ‘n groep wat Zuma omver wou werp, en oor die ongewenstheid van buitelandse invloed by kabinetsaanstellings, soos oor die aanstelling van minister Fikile Mbalula beweer word.

Die bewerings – waaroor Zondo nog nie uitspraak gelewer het nie – is dat die berugte Gupta-familie die aanstelling van Mbalula in die kabinet bewimpel het deur hul invloed op Zuma.

Mbalula, wat eers as minister van sport en ontspanning en toe as minister van polisie gedien het, is deur pres. Cyril Ramaphosa uit die kabinet gelaat maar later weer in die kabinet opgeneem, waar hy tans dien as minister van vervoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Julie Jansen van Rensburg ·

Raai-raai wie gaan die slegste daarvan afkom – Moyane – of Gordhan??? Geen pryse indien julle reg raai nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.