Stad beroof haweloses van komberse

Munisipale amptenare het glo haweloses se identiteitsdokumente, medikasie, geboortesertifikate en kwalifikasies “voor hul oë” vernietig (Foto: Melodie van Brakel, Facebook)

Werkers van die Mogale-munisipaliteit aan die Wes-Rand het glo haweloses in dié stad se splinternuwe komberse afgevat en saam met die res van hul besittings vernietig, kwansuis in ʼn poging om die haweloses van die straat af te kry.

“Voor die haweloses se oë is hul identiteitsdokumente, medikasie, geboortesertifikate en kwalifikasies – hul laaste stukkie menslikheid – vernietig,” vertel Melodie van Brakel, hoof- uitvoerende beampte van die liefdadigheidsorganisasie Cradle of Hope. Dié organisasie bied hulp aan vroue en kinders in Krugersdorp wat in desperate nood is en reik ook daagliks uit na die haweloses op straat.

Die organisasie het Dinsdagmiddag splinternuwe komberse vir die haweloses uitgedeel, wat toe ʼn dag later deur die werkers gevat is. “Ons het ná die voorval ons heel laaste komberse vir hulle uitgedeel, sodat die haweloses nie die yskoue nag sonder ʼn kombers moes ingaan nie,” sê sy.

Die haweloses is hul komberse kwyt (Foto: Melodie van Brakel, Facebook)

Volgens Van Brakel slaan die werkers van openbare veiligheid glo al die afgelope sewe jaar op die haweloses toe en vat hul besittings. Die organisasie het al keer op keer die situasie onder die munisipaliteit se aandag probeer bring, maar elke keer voor dooiemansdeur te staan gekom.

“Hulle vat die haweloses se goed en verdring hulle dan – deur hulle van een straathoek na die ander te verjaag. Hoewel die munisipaliteit sê hulle volg net die wet, terroriseer hulle eintlik net die haweloses.”

Die burgemeester, Tyrone Gray, sê dié voorval word tans ondersoek.

“Sodra ons verifieerbare inligting het, sal ons ʼn voldoende verklaring uitreik, asook die nodige gevolgebestuur instel,” het Gray aan Maroela Media bevestig.

Van Brakel is tans besig om ʼn klag te formuleer wat sy dan by die Menseregtekommissie (MRK) teen die munisipale eenheid vir openbare veiligheid gaan indien.

Sy beoog ook om met die stadsraad samesprekings te voer sodat ʼn daadwerklike oplossing vir die haweloses gevind kan word. Dié word glo elke dag meer.

“Mense sukkel om werk te kry en gaan gebuk onder swak ekonomiese toestande. Die Covid-19-pandemie speel ook ʼn groot rol.”

Cradle of Hope bedien daagliks sowat 2 000 mense in nood in en om Krugersdorp en het tans ongeveer 50 moeders en kinders wat by die organisasie tuisgaan. Die organisasie beskik oor drie persele waar dié mense woon.

Die organisasie bedryf ook ʼn gemeenskapskleuterskool vir sowat 80 kleuters. Die skool is vir kleuters wie se ouers nie die skoolfonds kan bekostig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

61 Kommentare

Cherokee ·

Ek raai ook so, Julia. Daar is meer mense wat so in die bondel in praat en dan moet geraai word van wie gepraat word.

Harley Davidson ·

Wel op hierdie stadium sal die tronk beter wees vir die haweloses as onder ‘n boom sonder skuiling komberse of kos.

Zilla ·

Ek wat se misdaad het hulle gepleeg sodat hulle ‘beter af in die tronk’ sou wees?

twaalfboor ·

Duh….. geen misdaad, net ñ warm slaap plek en kos om te eet.

Pieter J ·

Dit is nou trap op iemand wat reeds teen die grond is. Hoekom doen hulle dit altyd in die winter?

Cherokee ·

En weet jy wat Pieter. ek dink die volstruisboere pluk die volstruise se vere ook net voor die winter. Die DBV behoort dit op te volg.

Lourens ·

Melodie van Brakel is verkeerd. Die “Covid-19-pandemie” speel geen rol nie. Daar is geen pandemie nie.
Wat wél ‘n rol speel, is die regime se optrede in terme van ‘n narratief deur hulle geskep, en lustig deur groot besighede en die hoofstroom media in stand gehou.

Anonymouse ·

Hou op waninligting verkondig. Jou ‘conspiracy’ stories is ‘n klap in die gesig vir mense wat geliefdes verloor het.

Lourens ·

Daar is geen pandemie nie. Covid bestaan wel – dit het ek nog nooit ontken nie. Maar die huidige weergawes van Covid is só lig, hulle is omtrent skadeloos. Meer mense sterf aan ander siektes soos griep, TB, VIGS, malaria, ens. En hulle is óók iemand se “geliefdes”.
Die feit dat jy dit as samesweringsteorieë beskou, dui eerder op ‘n weiering om feite te aanvaar.

Cherokee ·

En jou Afrikaans is ook beter, Lourens. Nogal interessant dat soveel Afrikaanssprekendes sò graag Engelse gebruikersname wil hê.

KatjieDeKat ·

Mense sterf elke jaar van griep, selfs verkoue. Die griep kom elke jaar. Niemand klap enigiemand in die gesig nie. Jammer vir jou verlies, as een van jou geliefdes dood is aan Covid, en ek bedoel dit as ek se ek is jammer. But Covid has been used as a system of control unlike anything before in history. NATUURLIK gaan mense net gesonde verstand die agenda bevraagteken.

Marcello ·

As jy mooi lees, sal jy verstaan waat sy sê: A.g.v. die pandemie wat mense werkloos gelos het, het mense se omstandighede versleg.

melaney ·

@Marcello……Ek ken ‘n man en vrou wat in ‘n shelter woon. Hulle klop gereeld by al die besighede in die dorp om hulp en wanneer hulle genoeg geld ontvang het, dan koop hulle genoeg drank en kos en gaan slaap in ‘n hotel vir die aand. Hulle wil niks weet van ‘werk vir jou inkomste’ nie.

Wilhelm ·

Die ‘arme’ haweloses is ook verantwoordelik vir misdaad en dwelms, en hulle stel nie belang om na shelters te gaan nie, want daar moet hulle iets doen of bewys dat hulle iets wil doen.

TRP ·

Wag voor jy oordeel Wilhelm, ons almal kan more op straat wees. Ek hoop uit my hart dat almal dan onsimpatiek teenoor jou sal wees.

Marcello ·

Ek dink nie jy weet wat die shelters nou vra per nag nie. In ons dorp vra hulle R20., as iemandd nie werk het nie, waar kry hulle dit.

Zilla ·

Om by te voeg: die shelters is tot oorlopens toe vol. Die mense wat in die shelters plek kry, is ook net so kwesbaar om slagoffres van misaddad daar te word

JohanR ·

Toe ou Cyril gee die mense ‘n bul om te eet, of laat hulle in jou banke gaan rond krap!

Andries ·

Laat die dom blikslaers eerder die paaie in stand hou of net die gemors optel. Maar dit is mos werk, eerder hulpeloses aanval. Dit is hul gene.

Zilla ·

Andries die mense wat jy so sleg afmaak, werk onder instruksie, en dit is’n geval van doen jou werk of jy word afgedank

AmY ·

So, die haweloses se laaste bietjie waardigheid en menslikheid (hulle identieit en bietjie besittings), is van hulle ontneem?
Waar moet daai mense nou heen gaan?
Ek is seker nie al daai mense is uit vrye wil daar nie.

TRP ·

Ek stem AmY, ons ken nie elkee se storie nie so ons kan nie veroordeel nie. Dit kan enige tyd met enige een gebeur.

annie ·

Is dit ‘voor hul oë’ vernietig of weggevat vir eie gebruik en -gewin. Hoekom is id-dokumente weggevat? Die saak moet gou aandag kry.

KatjieDeKat ·

Ek respekteer mense wat enigsins op straat kan oorleef in hierdie brutale land. Ek respekteer NIE boelies wat haweloses se besittings van hulle wegneem nie. Wat probeer hulle bereik??? Neem die hawelose mense se dokumente weg – gaan dit uit die bloute vir daardie arme mense werk verskaf? Nee want nou is hul sonder dokumentasie en dus n groot kans werk te bekom, weg geneem. Dit maak Geen sin nie. Neem in n vriesende winter hulle komberse weg – gaan dit aan hulle huise verskaf? Nee dit gaan beteken dat hulle verkluim. So ja, ek weet wie EK respekteer in hierdie siek storie.

Lourens ·

Sonder om die optrede van die metro goed te praat: ongelukkig is dit ‘n feit dat die oorgrote meerderheid van daardie mense nie eers werk soek nie. So geen kans om werk te kry is hulle werklik ontneem nie.

Vexed ·

“Hulle” is verkeerd. Ek respekteer almal, tot hulle wys hulle verdien dit nie. Wees presies. Hoe verdien jy iemand se respek? Wat is die individuele kriteria? Verander dit met tyd? Hoekom moet ek jou respekteer? Strook dit wat by jou respek verdien met die persoon langs jou se waardes? Hoe lank neem dit? Nie so maklik nie is dit.

sonneblommekie ·

S W A K – UITERS S W A K !!!!!!!
Die Here slaap nie. Hoop julle word met die blindesambok geslat !!

miche ·

Die verbrand van haweloses se besittings blyk algemene praktyk te wees in sekere areas. Dié wat so gelukkig was om matrasse te gehad het, se matrasse was verbrand. (Baie haweloses het gewoonlik hul ID’s en min besittings in die matrasse versteek). Dit was hartverskeurend om te aanskou.
En ja, gewoonlik het dit meestal in die winter gebeur!

Sandra ·

Kom eers agter die waarheid. Daar is die media se storie, die sogenaamde slagoffers se storie, die polisie se storie en die ware storie.

TRP ·

Volg gerus Melody se blad op Facebook, want sy werk daagliks met jou “sogenaamde” slagoffers. Lekker om onder ‘n warm kombersie op ‘n rekenaar te sit en ‘n versklik te probeer maak..of nie.

Zombie ·

Nou sê sommer ook hoe moet mens agter die ware waarheid kom. Wat se metode volg jy?

Hippi ·

Hoekom nie die eens gewilde wildtuin herskep en sodoende werkskepping te begin vir die hawelose mense wat wel uit hulle huidige situasie wil uit kom nie?
Maak die hekke oop en bring geld in die munisipale koffers in……wag, verander daai na die korrupte lotte in die munisipaliteit se sakke in.
Skrap my idee …. dit is net die kaders en hulle boeties wat sal baat en nie die hawelose mense nie!

KatjieDeKat ·

Ek het nog nie aan n naam gedink nie. Maar die vlag behoort rooi te wees, om te simboliseer al die bloed wat elke dag hier gestort word. In die middel, daardie emoji wat n sekere liggaamsfunksie uitbeeld.

Harley Davidson ·

Die mense oortree die munisipale bywette en moet van die straat afgehaal word maar die munisipale bestuur het ook n plig om hawelose mense te huisves

Casper ·

As hulle dan hulp bied aan vroue en kinders gee vir hulle behuising en wys julle gee om.Wat die vernietiging van eiendom betref is dit absolute onsin.Dit is die media se storie om simpatie te wen sodat mense meer donasies kan gee.Van daai haweloses lewe beter as ek en jy.Hy betaal nie belasting g nie,betaal niks aan die munisipaliteit nie en betaal ook nie erfbelasting nie.As ek R 100 het kan ek daarmee niks doen nie maar gee ‘n hawelose R 100 en kyk wat vermag hy.

Harley Davidson ·

Sensasie, die media floreer op dit ” Die metro polisie tree op teen mense wat die munisipale bywette breek die mense het nie was of toilet geriewe nie en dit kan siektes veroorsaak.

piet ·

Ja, praat jy maar uit jou gemakstoel. Daai mense het geen heenkome nie.

Lourens ·

Presies. Daardie munisipale verordeninge waarna jy verwys is daarop gerig om, onder andere, verspreiding van siektes te beperk. Daar is geen nydigheid daarin nie.

Annelie ·

Daai mense wat dit doen moet net so week lank op die straat gaan slaap.

piet ·

Dis rerig hartseer. Haweloses is wereldwyd ‘n probleem selfs in ryk lande soos Amerika en Engeland.

Sandra ·

As die land se infrastrukture nie so in hulle peetjie was nie, sou die mense nie op die straat moes bly nie. Elke mens, of jy nou werk of nie, kan een salaris weg wees van dieselfde situasie. Nou ontneem die sogenaamde “openbare veiligheid” hulle van hulle laaste besittings. Daar moet beslis iets daaraan gedoen word. Ek gaan nou dophou of daar enige terugvoering is van die munisipaliteit.

gatgogga ·

Terwyl ons kader regering ons belastinggeld aan behoeftiges uitdeel, konfiskeer hierdie klomp dit weer.

lollapot ·

Wat n skreiende skade! Ek wonder of dit vir hulle lekker is, om die laaste te vat by iemand wat NIKS het nie?

Hasie ·

Al hoe meer mense verloor hul inkomste …die mense het probeer om ook ‘ n bestaan te voer Wie gee enigiemand die reg om ander net verder seer te maak as wat hul reeds het? ..Ek hoop die menseregtekommisie tree daadwerklik op en dat die mense wat die eiendom van daardie mense vernietig het dit als op hul onkostes vervang .Dit grens aan weerdheid ….

DieKriek ·

Is dit nie diefstal en opsetlike skade nie? Harteloos is onvoldoende om dit te beskryf.

Simone ·

Dieselfde misdrywe vind reeds jare lank plaas in Kaapstad deur die Kaapse Metropolisie. Klagtes val op dowe ore.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.