Stapels agterstallige paroolaansoeke by minister

Gevangenes sê die onbillike vertragings beteken diegene wat lewenslange tronkstraf opgelê is, bring jare meer agter tralies deur as wat gepas is. (Argieffoto: Shutterstock)

Deur Masego Mafato/GroundUp

Jare lank al kla gevangenes wat lewenslange tronkstraf opgelê is oor die lang vertragings om vir parool in aanmerking geneem te word.

Gevangenes sê die onbillike vertragings beteken diegene wat lewenslange tronkstraf opgelê is, bring jare meer agter tralies deur as wat gepas is. Die Regterlike Inspektoraat vir Korrektiewe Dienste stem saam.

“Hoewel parool vir enige veroordeelde misdadigers, ook dié wat lewenslange tronkstraf uitdien, nie ʼn reg is nie, is oorweging vir parool wél,” sê Emerantia Cupido, woordvoerder van die inspektoraat.

“Gevangenes kan die hof nader om die minister te dwing om hul parool te oorweeg.”

Volgens die departement van korrektiewe dienste (DKD) kom gevangenes wat lewenslange tronkstraf uitdien vir parool in aanmerking nadat hulle hul minimum aanhoudingstydperk bereik het. Iemand wat voor 1 Oktober 2004 gevonnis is, moet 12 jaar en vier maande van die vonnis uitdien voor hulle vir parool oorweeg kan word.

Indien hulle ná 1 Oktober 2004 gevonnis is, moet hulle ʼn minimum vonnis van 25 jaar lank uitdien.

Oortreders se profiele word na DKD en die paroolraad vir oorweging gestuur drie maande voor die minimum aanhoudingstydperk bereik word. Daar is geen voorgeskrewe tydperk vir ʼn besluit oor parool nie, sê Sechaba Mphahlele, DKD-woordvoerder.

Die paroolraad stuur die gevangenes wat lewenslange tronkstraf opgelê is na die minister van justisie vir oorweging, sê hy.

Die minister neem dan die finale besluit.

“Neem kennis dat die minister elke geval op ʼn individuele grondslag oorweeg,” sê Mphahlele.

Hierdie proses lei egter tot groot vertragings met aansoeke wat onverwerk op die minister se lessenaar lê.

In sy 2020‑’21-jaarverslag sê die inspektoraat hy ondervind ʼn “oorvloed klagtes oor parool, veral van diegene wat lewenslange vonnisse uitdien”.

Luidens die verslag kom 4 494 van die altesame 17 188 gevangenes wat lewenslange tronkstraf uitdien, in aanmerking vir parool. Slegs 36 (0,8%) van hulle is in daardie jaar egter op parool vrygelaat, wat dui op ʼn “krisis” in die stelsel.

Regter Edwin Cameron, hoof van die inspektoraat, het vroeër gesê dit sal die minister 409 dae neem om die agterstand uit te wis indien hy sewe ure per week net aan gevangenes wat lewenslange tronkstraf uitdien, se sake werk.

Mphahlele sê die DKD weet daar is “soms vertragings met parooloorweging en -plasing vir diegene wat lewenslange vonnisse uitdien”. Hy skryf dit toe aan uitstaande verslae en rekords, die afhandeling van herstellende geregtigheidsprogramme waar nodig, en die adresse van die huise waar gevangenes sal woon nadat hulle vrygelaat word.

Na die sogenaamde Phaahla-uitspraak wat die Konstitusionele Hof in Mei 2019 gelewer het, het meer gevangenes wat lewenslange tronkstraf uitdien, in aanmerking vir parool gekom. Dit het tot verdere vertragings gelei. Die uitspraak bepaal ook dat parool vir oortreders wat lewenslange vonnisse uitdien vir misdrywe wat voor 1 Oktober 2004 gepleeg is, maar ná daardie datum gevonnis is, deur die datum waarop die misdryf gepleeg is, bepaal word.

DKD sê taakspanne is op nasionale en streekvlak op die been gebring om vertragings te hanteer.

Cupido sê inspektoraat bespreek ook die vertragings met die minister en die nasionale raad vir korrektiewe dienste “om ʼn oplossing te probeer vind”.

Hierdie berig is verkort en GroundUp se volledige weergawe is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SjN ·

Hulle is so besig om niks te doen dat daar nie tyd is om te werk nie, skande.

Wondermaarnet ·

Los maar die vertragings, want lewenslank is tot jy dood so bly waar julle is tot in lengte van dae.

Waarnemer ·

Wat beteken “lewenslank”.Sentenced to life imprisonment”.Die persoon word gevonnis om vir so lank as wat hy lewe in die tronk te bly en nou kan hulle na n paar jaar uitkom.Twak man,bring die doodstraf terug dan kan hulle nie aansoek om parool doen nie.As jy n 1ste bylae oortreding gepleeg het,verdien jy nie om buite die gevangenis te wees nie.

AH ·

Lewenslank behoor lewenslank te beteken, m.a.w. diegene wat lewenslange tronkstraf opgelê word, behoort tot hy/sy dood is in die tronk bly……

Wondermaarnet ·

Dit is hoe dit werk in Amerika. Jy sit tot jy dood al is dit vir 50 jaar, maar sit sal jy sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.