Statebondspele vierkant in Tatjana, Kaylene se visier

Kaylene Corbett wens Tatjana Schoenmaker met haar uitstekende Olimpiese poging geluk. (Foto: Team South Africa/Twitter)

Twee van Suid-Afrika se voorste swemmers, Tatjana Schoenmaker en Kaylene Corbett, gaan nie deel van die aksie by die Wêreldkampioenskap in Boedapest wees nie.

“Nee, nie vanjaar nie. Ek sal beslis by die Statebondspele wees,” het Corbett die nuus per WhatsApp-boodskap aan Maroela Media bevestig.

Albei swemmers het trouens die Statebondspele in Birmingham vierkant in die visier.

Volgens Rocco Meiring, afrigter, kom daar ’n tyd in sportsterre se loopbane wanneer dinge in oënskou geneem moet word. Terselfdertyd word daar ook mooi gedink wat die beste pad vorentoe is; veral wat doelwitte betref.

“Tatjana betree nou daardie einste fase en dit is waarom sy nie by die Wêreldkampioenskap sal wegspring nie,” het die swemafrigter in ’n onderhoud met SuperSport gesê.

Sedert haar sukses by die Olimpiese Spele in Tokio was daar nie veel tyd om die grondslagwerk – veral wat stamina en uithouvermoë betref – vir komende byeenkomste te doen nie.

“Ná ’n kort breuk moes ons vir die Wêreldkortbad-kampioenskap in Desember 2021 begin voorberei, maar weens die wêreldwye Covid-19-pandemie kon geen Suid-Afrikaanse swemmer toe deelneem nie. Vanjaar moes sy weer konsentreer om op haar beste vir die nasionale kampioenskap te wees; dinge het hul tol begin eis.”

Meiring glo dat die gebrek aan goeie grondslagwerk ’n definitiewe invloed op ’n swemmer se prestasie het en die besluit is geneem om eerder op die Statebondspele te konsentreer.

Kaylene Corbett en Tatjana Schoemaker. Foto: Reg Caldecott.

Op haar beurt speel Corbett se studies ook ’n rol in haar besluit om nie op die vliegtuig na Boedapest te klim nie.

Die ambisievuur brand nog helder in die 23-jarige swemmer, maar tog wil sy nie noodwendig hê dat haar prestasies op die groot verhoog haar as persoon moet definieer nie.

“Ek wil graag hê dat mense my moet onthou as die meisie wat nooit tou opgegooi het nie en wat te danke aan God se genade haar droom kon uitleef,” het Corbett in ’n vorige onderhoud gesê.

Schoenmaker het verlede jaar die verbeelding van die swemwêreld aangegryp met haar puik Olimpiese prestasies in Tokio.

Sy het onder meer die wêreldrekord in die 200 m-borsslagitem tot 2:18.95 min verbeter om die goue medalje los te swem. Sodoende het sy die rekord van Denemarke se Rikke Pedersen (wat sy in 2013 opgestel het) met 0,17 sekondes verbeter.

Corbett het in dieselfde item vyfde geëindig met ’n goeie tyd van 2:20.06 min.

“Om vyfde by die Olimpiese Spele te wees, is vir my ’n reuseprestasie. Maar om eerstehands te ervaar hoe my spanmaat die wêreldrekord verbeter, is ’n belewenis. Tatjana is ’n ongelooflike swemmer en vriendin,” het die jong swemmer destyds gesê.

  • Suid-Afrika se swemspan vir die Statebondspele (28 Julie tot 8 Augustus):

Mans: Chad le Clos, Matthew Sates, Michael Houlie, Pieter Coetzé, Dante Nortjé, Andrew Ross, Guy Brooks en Brenden Crawford.

Vroue: Emma Chelius, Kaylene Corbett, Tatjana Schoenmaker, Lara van Niekerk, Aimee Canny, Rebecca Meder, Erin Gallagher, Duné Coetzee, Olivia Nel en Michaela Pulford.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.