Statistiek wys afname in skietgeweld in Kaapstad

Soldate van die SANW kom in Blikkiesdorp Delft aan (19 Julie 2019) (Foto: Ayanda Ndamane/African News Agency/ANA)

Die getal moorde in die Kaapse metropool die afgelope naweek het ʼn effense afname getoon van 46 die vorige naweek tot 41.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het in ʼn verklaring gesê die getal moorde weens skietery het ʼn groot afname getoon in vergelyking met die afgelope 10 naweke. Van die 41 moorde was 16 weens vuurwapengeweld, 19 was mesaanvalle en ses weens ander omstandighede. “Die getal moorde is egter nog ongelooflik hoog. Ons het ʼn merkbare afname gesien in die getal moorde weens vuurwapengeweld, wat in 10 naweke op sy laagste was.”

In die naweek voor die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) ontplooi is, is 33 persone doodgeskiet. Altesaam 18 persone is in die eerste naweek doodgeskiet ná die SANW ontplooi is en 21 persone is verlede naweek doodgeskiet.

“Ons bly besorg oor die getal messterftes (19), aangesien dit dui op gevalle van interpersoonlike geweld, wat in sommige gevalle baie moeilik is om te polisieer en te voorkom,” het Winde bygevoeg.

Vier moorde is oor die naweek in Khayelitsha aangemeld, drie in Harare, vier in Langa, en drie in Gugulethu. Een moord elk is in Manenberg en Mitchell’s Plain aangemeld.

“Die SANW is tans in verskeie gebiede in die Wes-Kaap ontplooi as ʼn stabiliseringsmag en ek glo ons is besig om die impak van die bykomende voete op die grond te sien. ʼn Toename in polisiebedrywighede en bykomende wetstoepassers en buurtwagpogings, sal mettertyd vrug dra wanneer misdadigers en bendelede die druk van sigbare polisiëring, inhegtenisnemings en gemeenskapsgedrewe pogings begin voel.”

Albert Fritz, provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid, het ook die afname in die getal moorde weens vuurwapengeweld verwelkom.

Lede van die publiek word daaraan herinner dat hulle ʼn rol kan speel om vuurwapengeweld te verminder, deur die inbelsentrum vir onwettige vuurwapens te kontak by 078 330 9333. ʼn Beloning van R10 000 word aangebied vir individue wat akkurate inligting verskaf wat betref die onwettige verspreiding van vuurwapens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

chris ·

Dis nie die bykomende voete wat die verskil maak nie, dis die die bykomende vuurwapens en slaankrag. Die weermag is opgelei en uitgereik met aanvalsgewere wat enige nugter bendelid na ‘n vreedsame oplossing laat soek. Onskuldige mense skiet is glad nie so maklik wanneer hulle terugskiet nie, of soos in die geval, iemand met superieure slaankrag wat namens hulle skiet nie.

KP ·

Whaaau en skielik is die weermag almal se held, tot premier laat hom om die bos lei. Wat n grap.

SêMaarNet ·

Statistieke kan maar lekker verwring word om die “nice” storie te pas. Die situasie is egter geensins beter nie. Die weermag maak geen verskil, aangesien die redes vir bendegeweld nie volledig aangespreek word nie. Politici het geen wil om dinge uit te sorteer nie.

Werner ·

Ek sien hulle se daar is nou n toename in messteek moorde so wat nou

Frm ·

Die teeede week na die ontplooiing was daar n toename so wat se dit. Die nuutjie is verby en die bendes het ander maniere gekry. Messteek? Nou moet ons maar ninjas ontplooi.

Kobus ·

Hoeveel Arrestasies,onwettige wapens en dwellms is gevind en gekonfiskeer en vernietig. Sonder dit kan geen suksesse gemeet word nie.

kolla ·

Hierdie bendegeweld en dwelmbedrywighede is so oud soos die berge, die apartheidsregering het dit net goed weggesteek. ‘n Vrou wat saam met my gewerk het , het in Mitchell’s Plain gebly. Sy het altyd vir ons vertel op Maandae hoe daar weer geskiet is oor die naweek. Haar eie broer was ook ‘n dwelmverslaafde en het sy vertel watter amok hy gemaak het. Ons praat nou van toentertyd se dinge.

sweis ·

Die np regering was net so korrup indien nie meer as die ANC al verskil was dat elektronika was nog nie beskikbaar nie

Eddy ·

Misdaad ruk handuit.Regering is al raad op.Dit het als begin met die sg.demokrasie want toe kry die krimineel die indruk dat hy ook nou regte het.In Namibië is n Polise Mag(Force) maar hier by ons is n Polisie Diens(Service).so hier by ons gebruik ons nie Mag nie.Dis hoekom ons Polisie nou die dag moes pad gee toe buitelanders hulle aangeval het.Ander ding: Bheki Cele moet slaggie daai hoed afhaal en gaan misdaad beveg! Dis nie n mode parade hier nie!

sweis ·

Die bendes het net n breek gevat ek dink as die nigeriërs die polisie uit johannesburg kan jaag wat kan die bendes aan die weermag doen

Leon ·

En nou word dit uitgeskree dat hulle oor drie maande gaan onttrek, waarna hierdie syfer weer gaan verdubbel – EN DAN???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.