‘Steinhoff-hoof se uittrede kan vertroue herstel’

Argieffoto: ANA

Dit is hoog tyd dat Danie van der Merwe as Steinhoff se waarnemende uitvoerende hoof uittree, sê James-Brent Styan, skrywer van die boek Steinhoff en die Stellenbosse boys.

“Dit sal help om vertroue in die beleërde groep te herstel,” sê Styan nadat Steinhoff Maandag aangekondig het dat Van der Merwe einde Desember sal uittree.

Van der Merwe was eers Steinhoff se bedryfshoof en het as uitvoerende hoof oorgeneem toe Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, in Desember 2017 midde-in die groep se finansiële ineenstorting bedank het.

“Van der Merwe was vir jare Jooste se regterhand en het saam met hom op die bestuursdireksie van Steinhoff gedien. Hy was te na aan Jooste om nou beleggersvertrou te kan inboesem.

“Dit is beter vir die groep dat hy gaan. As Steinhoff enige kans wil hê om hierdie ramp te oorleef, moet die groep alles doen om beleggersvertroue en die vertroue van die publiek te herwin,” meen hy.

Styan, ʼn gekwalifiseerde rekenmeester en oudsakejoernalis, het in Steinhoff en die Stellenbosse Boys die eerste volledige ontleding van die grootse finansiële ineenstorting van ʼn topmaatskappy op die Johannesburgse aandelebeurs in die geskiedenis van Suid-Afrika gedoen.

Die waarde van die Steinhoff-groep was in die middel van 2017 nog sowat R240 miljard maar 12 maande later het die maatskappy se waarde na R5 miljard getuimel.

“Ons het eintlik almal belange in Steinhoff. Die meeste mense wat aandele in die maatskappygroep besit het, was pensioenfondse en pensioenfondsbestuurders.”

Hy dink Jan Alleman besef steeds nie dat die Steinhoff-sage byna elke liewe Suid-Afrikaner geraak het nie.

“Mense moenie dink hierdie is ʼn storie wat net van belang is vir die superrykes om mense, wat baie geld het om te verloor, in te doen nie.

“Ek dink dit is veilig om te sê ons het almal minstens ʼn bietjie geld verloor toe die Steinhoff-ryk oornag verkrummel het en ons elkeen se pensioene het beslis ʼn knak gevat.”

“Mense kan ook vra wat help dit om dit nou alles te weet. Wel, ek dink ons moet besef ons pensioenfondse word steeds in maatskappye belê waaroor ons self ʼn groter waaksame oog moet hou.

Markus Jooste. Foto: Steinhoff International

“Ek dink baie maatskappy op die aandelebeurs deel van die elemente wat kenmerkend van Steinhoff was: sterk dominerende leiers, groot posisies op die aandelebeurs en ingewikkelde, amper onverstaanbare maatskappystrukture.”

Volgens Styan was dit van die grootste kritiek nadat Steinhoff inmekaargestort het. Talle finansiële kenners het in die nadraai erken hulle het nooit regtig dié groep se strukture verstaan nie.

Styan sê dit is moeilik om te sê wat presies in Steinhoff verkeerd geloop het en hoekom niemand dit kon voorsien nie, maar dit is van die vrae wat hy deeglik in sy boek probeer uitpluis het.

“Die eerste groot ondersoek in Steinhoff se sake, wat deur PWC gehanteer word, sal eers einde 2018 (op die vroegste) afgehandel word en tot dit gebeur, is daar nog talle onduidelikhede oor die hele saga.”

Styan meen ook dit is moeilik om te sê watter soort stappe gedoen kan word om soortgelyke finansiële inploffings van maatskappye te verhoed.

“Ek vermoed daar sal beslis in die toekoms nog soortgelyke gevalle wees. Hierdie ouens is nou uitgevang en dit sal vir my interessant wees om te sien watter soort lesse instellings uit die Steinhoff-sage leer.”

Hy waarsku egter dat alle plaaslike sakelui nie oor dieselfde kam geskeer moet word na aanleiding van die verloop van sake by Steinhoff nie.

“Ek dink ʼn mens kry net soveel eerlike sakemense as wat jy sakelui kry wat kanse vat.

“Dit is veel belangriker dat ons lesse oor die bestuur van ons eie finansies uit Steinhoff leer. Ons moet weet waarheen ons geld gaan en weet die mense wat dit bestuur, verantwoordelik daarmee werk.

“Baie mense, ek self ook, val maklik vir ʼn vinnig geldmaakskema. As ʼn mens sien ʼn aandeleprys styg aanhoudend, wil jy sommer net dadelik daarin belê. Ons moet meer verantwoordelik wees en kyk waar ons ons geld belê en waarop ons ons vertroue in maatskappye baseer.”

  • Luister ook na die onderhoud boaan hierdie berig. James-Brent Styan, die skrywer van die boek Steinhoff en die Stellenbosse Boys het vroeër vanjaar telefonies uit ʼn nat Kaapstad met Esté Meyer Jansen gesels oor sy sake-exposé wat soos ʼn spannende misdaadfiksie lees. Styan vertel wat hy dink het by Steinhoff verkeerd geloop en praat oor die aantygings op sosiale media dat die Steinhoff-saga nooit genoegsame aandag in die media geniet het nie.
  • Lees ook Louise Viljoen se resensie van dié boek op Maroela Media. Klik hier om meer oor die boek uit te vind.
  • Steinhoff en die Stellenbosse boys boer sedert sy bekenstelling op die Nielsen-topverkoperlys. Die boek is by toonaangewende handelaars, asook direk by Lapa Uitgewers beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marous ·

Hoeveel skade het die beleerde groep die belasting betaler gekos ? Likwideer en verkoop al die bates , internasionaal ook , en betaal die geld terug … met rente

Johann cb ·

Gaan ons, die individue wat soveel verliese gely het, óóit weer iets van ons swaar verdiende spaargeld sien?

Johan H. ·

Wat vir my snaaks is , gaan die lotte nie tronk toe nie,,,,Hoe werk dit. Dis skade wat nie bepaal kan word nie,en SA se naam ..Want as een ou nou besluit om nie te bele in die land nie,,,,Hoeveel werksverliesse daarmee heen,,,Onthou nog daai Fedentia skelm, Hy is darm nog in die tronk, hoop ek!

ChrisE ·

Ek glo daar is altyd drie kante aan ‘n strorie. Almal spring gou op die waentjie en lewer kommentare. Die grootste sondebok is onkunde van die breë publiek wat deur die media aangepor word. Ek veronskuldig nie die bendelede in die maatskappy nie, maar wat was die eintlike oorsaak van die ineenstorting. Ek het ‘n hele paar jaar gelede vir ‘n maatskappy gewerk wat deur mense mbv staatsinstellings/agentskappe gekaap is. Die mpy is onwettig gelikwideer, die bates verkoop aan ‘n derde party en is tans ‘n multinasionale ondernemimg. Ons moet stop om alles vir soetkoek op te eet. Kom agter die kap van die byl voordat jy opinies en aannames maak. Onkunde is gevaarlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.