Stella-saak: Xander vloek Marna 2 maande voor moorde

Monte Bylsma, Xander se pa, gesels met sy seun in die hof. (Foto: Tania Heyns)

Die moordbeskuldigde Xander Bylsma (20) het sowat twee maande voor die moorde op sy eksmeisie Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht in Mei 2018 vir Marna (16) gevloek en lelike boodskappe vir haar gestuur.

Bylsma se kruisondervraging is Maandag in die hooggeregshof in Mmbatho in Noordwes hervat waartydens staatsaanklaer Johan Smit by Bylsma wou weet of laasgenoemde wel dié boodskappe gestuur het.

“Stefaans Engelbrecht (Marna se pa) het twee maande voor die moorde vir jou pa, Monte, gebel. Hy het by hom gekla dat jy aanhoudend vir Marna vloek en lelike boodskappe vir haar stuur. Jou pa het selfs met jou daaroor gepraat,” sê Smit.

“Dit is korrek,” het Bylsma geantwoord. “My pa het vir my gesê ek kan dink van mense wat ek wil, maar ek mag nie vir mense sê wat ek wil nie. Daarna het ek en Marna mekaar se selfoonnommers geblok en nie meer kontak gehad nie,” verduidelik Bylsma.

Hy ontken wel dat hy met Engelbrecht kontak gemaak het nadat sy pa hom oor die boodskappe aangevat het.

Xander Bylsma getuig tydens sy moordverhoor. (Foto: Tania Heyns)

Die plaashek

Smit het ook vanoggend die tydlyn betreffende die aand van 25 Mei 2018 en 26 Mei 2018 in Bylsma se getuienis bevraagteken. Die twee meisies is deur die loop van dié aand in die skoolkoshuis op Stella vermoor.

Daar is veral geredekawel oor die spesifieke tyd wat Bylsma die oggend van die moorde uit Stella in die rigting van Vryburg gery het, waar sy ma in dié stadium op ’n plaas buite dié dorp gewoon het.

Bylsma hou vol dat hy die oggend tussen 02:00 en 03:00 uit die dorp is, nadat hy vir Sharnelle gekuier het. Hy het glo tussen 03:30 en 03:45 by die plaashek waar sy ma woon, stilgehou. Hy vertel dat hy hiér sowat ’n uur lank musiek geluister, koeldrank gedrink en gerook het. Volgens Smit stem dié tyd egter nie ooreen met wat vantevore gesê is nie.

Bylsma het verlede week getuig dat daar gedurende sy tyd by die plaashek ’n vragmotor verbygery het, waarna hy besluit het om na sy ma se huis op die plaas te gaan.

Die verdediging het vanoggend Michael Jacobus du Preez, ’n kenner in nasporingstelsels, na die getuiebank geroep. Du Preez is vooraf gevra om die bewegings van dié vragmotor tussen 25 Mei en 26 Mei 2018 te monitor. Die vragmotor behoort aan die eienaar van die plaas wat ook ’n vervoermaatskappy bedryf.

Volgens Du Preez het die vragmotor die betrokke oggend omstreeks 04:26 die plaas verlaat. Die verdediging voer aan Bylsma het tóé die vragmotor gesien waarna hy na sy ma se huis is.

Hoekom in die middernagtelike ure gaan kuier?

Smit wou ook vanoggend by Bylsma weet waarom hy die Saterdag juis in die vroeë oggendure vir Sharnelle gaan kuier het, nadat hulle volgens Bylsma op die Vrydagaand afgespreek het.

Volgens Bylsma was hy die Vrydag saam met sy pa by ’n kursus wat om skemer klaargemaak het. Hy het daarna sy pa by die huis in die omgewing van Louwna gaan aflaai en toe saam met vriende gekuier. Hy is eers ná die kuier Stella toe.

“Was jy baie opgewonde nadat jy en Sharnelle op 23 Mei 2018 (Woensdag) besluit het om julle verhouding weer ’n kans te gee?” wou Smit by Bylsma weet.

“Baie, U Edele,” het Bylsma geantwoord.

“Jy was ook baie opgewonde dat julle vooraf gereël het om mekaar die Vrydagaand te sien?”

“Dit is korrek, U Edele.”

“Jy kon nie wag om haar te sien nie?”

“Korrek.”

Sharnelle Hough (17), links, en Marna Engelbrecht (16). Foto: Via Facebook

“Tog was jy nie haastig om Stella toe te ry nadat jy jou pa by die huis gaan aflaai het nie. Jy het eers tyd met vriende deurgebring. Tot so ’n mate dat jy eers ná 01:00 daardie oggend na Sharnelle toe gegaan het. Hoekom het jy dit belangriker geag om eerder saam met vriende tyd deur te bring as om na haar toe te gaan?” het Smit gevra.

“Sy moes daardie aand uitglip en ons moes wag dat meneer Bredenkamp (toesighouer by die koshuis) gaan slaap,” het Bylsma verduidelik.

Smit het verder vir Bylsma gevra of hy vir ’n goeie vriend van hom (saam met wie hy die betrokke aand gekuier het) vertel het dat hy en Sharnelle versoen geraak het. Hierop het Bylsma geantwoord dat die vriend in daardie stadium self sy verhouding met sy meisie verbreek het. Daarom het hy niemand vertel nie, sê Bylsma.

“Ek stel dit aan jou dat dit jý was wat Sharnelle en Marna vermoor het en dat jou getuienis verwerp moet word,” het Smit afgesluit.

Bylsma het nie hiermee saamgestem nie.

Bylsma het Vrydag gesê hy sal dié week bewyse aan die hof lewer dat Brandon Victor, Sharnelle se kêrel ten tyde van die moorde, die moorde gepleeg het. Bylsma het egter Maandag nog niks in verband hiermee verklap nie.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

lanie ·

Dis gerieflik om nou die blaam op iemand anders te wil pak vir jou dade.

Liezel ·

Nou wat het gebeur van die weergawe waar hy haar wou help om selfmoord te pleeg?

Rina ·

Nog n uitgerekte ou saak …. selfmoord nee. Hierdie moordenaar is goed met toue .. knope …..

Siek ·

Die mannetjie maak my siek.
Ek het nou weer al die berugte gaan lees.
Op 30 Julie 2019 het hy gesê dat hy nie als kan onthou van 26 Mei nie. Waar hy presies elke oomblik van die dag was nie. Dis te lank terug
Nou vertel hy in detail van die kamtige kursus , vrydag aand se kuier by vriende, tot die presiese tyd wa thy by sy ma se hek gesit het.
Ook op 30 Julie 2019 sê hy dat hy die nag van 26 Mei Stella toe gery het.
Hulle het in die bakkie gesit en gesels vir 2 en ‘n halwe uur en DAAR het hulle twee besluit om hulle verhouding weer ‘n kans te gee. In gister se verhoor sê hy dat hulle 23 Mei besluit het om weer in ‘n verhouding te wees.
Kan niemand sien dat hy lieg soos n tranetrekker nie. Mors net almal se tyd en geld

Hanlie ·

Wie probeer die mannetjie nou eintlik “bluf” Hy is so skuldig soos more heeldag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.