Stigting sê hoekom hy géén SA fliek vir Oscars inskryf

Die rolverdeling van “Stiekyt” sluit Albert Pretorius, Cintaine Schutte, Illse Roos, Jacques Bessenger, Paul du Toit, Roberto Kyle, en Wessel Pretorius onder andere in. (Foto: kykNET Films)

Deur Christiaan Boonzaier

Die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (NFVF) het ná ʼn doodse stilte uiteindelik verklap hoekom hy vir die eerste keer in 15 jaar besluit het om géén Suid-Afrikaanse rolprent vir die Oscars in te skryf nie.

Die stigting – ʼn agentskap van die nasionale departement van sport, kuns, en kultuur – wys jaarliks in November ʼn enkele rolprent aan om namens Suid-Afrika in die kategorie beste internasionale rolprent om die goue beeldjie mee te ding.

November het egter vanjaar gekom en gegaan – sonder dat die stigting die naam van die gekose rolprent aangekondig het. Dit het tot bespiegelinge op sosiale media gelei dat die rede daarvoor die stigting se stil-stil besluit is om geen rolprent in te skryf nie.

Lerato Mokopanele, die stigting se bemarkings-en-kommunikasiebestuurder, het aan Maroela Media bevestig dat dié vermoedens inderdaad waar is.

Volgens haar het rolprentmakers vanjaar nege rolprente aan die stigting vir Oscars-oorweging voorgelê: 1960, Jewel, Meet Melusi, Stiekyt, Thando, The Fragile King, Time Spent With Cats Is Never Wasted, Umbrella Men, en Wild Is the Wind. Al nege is deur ʼn “onafhanklike keurkomitee” beoordeel om te bepaal watter een vir die 95ste Oscars-toekenningsplegtigheid ingeskryf moet word.

“Die meerderheid van die Suid-Afrikaanse rolprente wat vir oorweging ingedien is, het nie aan die Oscars se streng vereistes voldoen nie,” sê Mokopanele.

“Die onafhanklike keurkomitee het besluit dat die rolprente wat wel aan die vereistes voldoen het, nie minderheidsgroepe op ’n gepaste wyse uitbeeld nie.”

Sy het nie op dié stelling uitgebrei nie en ook nie teen druktyd op ’n opvolgnavraag gereageer oor wat presies die keurkomitee daarmee bedoel of spesifiek waarna hulle verwys nie. Sy het wel gesê dat die komitee, wat vanjaar uit 11 lede bestaan het, die besluit eenparig geneem het.

Op ’n vraag wie presies die 11 lede is, het sy geantwoord: “Ons behou die reg voor om nie hul name bekend te maak nie.” Al 11 is wel glo op een of ander manier aan die rolprentbedryf verbonde.

Die skrywer-regisseur Brett Michael Innes, medevervaardiger van die skrywer-regisseur Etienne Fourie se Stiekyt – die enigste Afrikaanse rolprent wat vanjaar vir Oscars-oorweging ingeskryf is – sê die stigting het hulle niks laat weet nie. Maroela Media het Innes by navraag vir die eerste keer oor die stigting se besluit én die rede daarvoor ingelig.

“Ek is ongelooflik teleurgesteld daaroor (die besluit en die rede) en die manier hoe hulle dit hanteer het,” sê hy.

“Ons het nie net aan die Oscars se taal- en vertoningsvereistes voldoen nie, maar ons rolprent is al gekies om aan top-rolprentfeeste, soos die Tallinn Black Nights-rolprentfees in Estland en die internasionale rolprentfees in Rotterdam (IFFR), deel te neem.”

Stiekyt speel in ’n fopdosklub af en draai rondom fopdossers, ’n LGBTQI-minderheidsgroep. Die rolprent is boonop deur queer rolprentmakers gemaak, ook ’n minderheidsgroep.

“’n Anonieme komitee wat vir ons sê ons het ons eie gemeenskap verkeerd uitgebeeld, is ’n klap in die gesig,” sê Innes.

“Wanneer Suid-Afrika ʼn fliek vir die Oscars kies, lei dit tot die moontlikheid van verkope en loopbaangeleenthede vir almal wat by die projek betrokke was, so ʼn komitee van 11 wat dié geleentheid bloot wegneem omdat ʼn rolprent nie ʼn gemeenskap op ʼn gepaste manier uitbeeld nie, is problematies en grens aan sensuur.

“Vorige jare se inskrywings was hoogs omstrede omdat dit minderheidsgroepe op ewe omstrede maniere uitgebeeld het, so hoekom het die komitee skielik vanjaar hul eie politieke sieninge in die besluit in ag geneem?”

Suid-Afrika het sedert 1997 nog net 17 keer ingeskryf en nege keer, insluitend vanjaar, nié.

Darrell Roodt se Yesterday was in 2005 die eerste Suid-Afrikaanse rolprent wat in die kategorie beste buitelandse rolprent benoem kon word – en Gavin Hood se Tsotsi was net ʼn jaar later die eerste en tot dusver enigste wat kon wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Seker almal ANC lede op die stigting, en die speaker is ook ANC! Haat jy dit nie as 12 mense ‘n besluit neem vir 60 miljoen!

Gert ·

Stiekyt speel in ’n fopdosklub af en draai rondom fopdossers, ’n LGBTQI-minderheidsgroep. Die rolprent is boonop deur queer rolprentmakers gemaak, ook ’n minderheidsgroep.

Klink my die queer rolprent mag dalk goed gevaar het saam met die wereld se huidige koers waarheen hy oppad is.

Pandora ·

Nou waarom nie eers kyk na Dominee Tienie nie? Dit was regtig ‘n mooi rolprent. :(
Jammer Ludik was ‘n reeks gewees, want dit was net so goed.

Amelia ·

Waarom hoegenaamd ‘n regeringsagentskap hierby betrek? Sou baie meer sin gemaak het as rolprentmakers hul eie rolprente kon inskryf. Die regering het al klaar heeltemal te veel sê oor allerhande aspekte van ons lewens wat hulle eintlik glad nie traak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.