Stilfontein-skietery: ‘Ons lewe het onherroeplik verander’

Francois van Heerden. Foto: Verskaf.

“Op Sondag 10 Junie het ons lewe onherroeplik verander.” Só sê die familie van Stilfontein in Noordwes in ʼn verklaring ná ʼn pa en seun van dié gesin Sondag in ʼn skietvoorval omgekom het.

Die gemeenskap van Stilfontein in Noordwes is geruk ná die voorval waarin ’n geliefde dominee (63) op die dorp glo sy 31-jarige seun en daarna homself doodgeskiet het.

Kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het Maandagoggend aan Maroela Media bevestig dat die polisie Sondag omstreeks 14:45 na die toneel by ’n huis op die dorp uitgeroep is.

“Die polisie vermoed in dié stadium dat die pa die seun doodgeskiet het en toe die vuurwapen op homself gerig het.”

Die polisie wou nie onmiddellik die oorledenes se name bekendmaak nie, maar Maroela Media verneem vanaf Nicolize van de Walt, die amptelike familiewoordvoerder, dat die oorledenes ds. Francois van Heerden en sy seun, Rupert, is.

Van der Walt sê die voorval het in die pastorie plaasgevind.

“Mev. Herzola van Heerden, die predikantsvrou, was ten tyde van die voorval elders in die huis en het die skote gehoor toe dit omstreeks 14:30 gevuur is.  Sy het onmiddellik opgetree en die nooddienste en polisie met die hulp van bure ontbied,” het van der Walt gesê.

Pa en seun is op die toneel dood verklaar.

“Die polisie se forensiese eenheid was op die toneel en die uitslae van ballistiese toetse sal verdere lig op die voorval werp. Die familie versoek dat die publiek hulle weerhou van afleidings en bespiegelinge te midde van hierdie hartseer tyd en eerder konsentreer op die mooi nalatenskap van ds. Van Heerden.”

Francois en Herzola. Foto: Verskaf.

Herzola en Francois was vanjaar 41 jaar getroud.

“Ds. Francois was die afgelope tyd siek, maar die prognose was positief en daar is geen rede om tans te glo dat dit enigsins tot die voorval bygedra het nie. Die familie probeer nog tot verhaal kom, maar getuig van ds. Francois se verhouding met die Here en sê dat hy ʼn onbaatsugtige mens was wat God en ander altyd eerste geplaas het.”

Van der Walt het gesê Rupert was die egpaar se oudste seun en het in Johannesburg gewerk en naweke by sy ouerhuis deurgebring.

Rupert word oorleef deur sy seun, Rijn (20 maande), en vriendin van die afgelope ses jaar.

“Rupert was gek na die natuur, tuinmaak en aksiesport; hy was joviaal, gek na mense en het ʼn baie klein hartjie gehad. Die familie beskryf Rijn as sy oupa se oogappel. Naas Rijn was ds. Francois se grootste vreugde om muurbal te speel en tyd met sy gesin deur te bring. Dr. Andries Kritizinger wat 44 jaar lank vriende was met Francois, beskryf hom as ʼn man uit een stuk, ʼn man met ʼn integriteit. ʼn Reus…”

Die familie het hul dank betuig met elkeen wat vir hulle bid en vir die huldeblyke wat van reg oor die wêreld instroom.

Francois, Rupert en Rijn. Foto: Verskaf.

Francois word oorleef deur sy vrou, Herzola, en seun Carl (Rupert se jonger broer) wat werksaam is in Kaapstad, asook sy kleinseun, Rijn.

Die begrafnisdiens van pa en seun sal Saterdag om 11:00 vanuit die NG Kerk-Sentraal in Gonubiestraat, Stilfontein, plaasvind. Die ter aarde bestelling sal daarna plaasvind.

’n Saak van moord word ondersoek en ’n geregtelike doodsondersoek is begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Verstaan nie

Ek verstaan nie hoekom moet ouers altyd hulle kinders saam hulle om die lewe bring nie. As jy nie meer wil lewe nie, maak dan n einde aan jou lewe. Die Arme kleintjie van 20 maande moet nou sonder sy pappa grootword.
En ons sien dit elke dag, ouers skiet hulle kinders en dan hul self.

Dink mooi

‘n Mens moet baie mooi dink voor jy jou mond uitspoel en oordeel oor ander. Ek regverdig nie die gebeure nie, maar niemand weet wat daartoe aanleiding gegee het nie. ‘n Mens bly ‘n mens met foute, of jy ‘n predikant is of nie. Niemand is perfek nie. Lees mooi, daar word gesê “na bewering”. Jou eie afleidings gaan jou niks in die sak bring nie en ook nie die situasie verander nie. Betoon asb. respek aan die familie en vriende wat agterlaat is. Onthou niemand is gevrywaar van so iets nie, dit kan met enige iemand in enige gesin… Lees meer »

KG

Elke huis het maar sy kruis. Hoe ookal sy, dit bly hartseer. Baie sterkte aan beide mans se geliefdes.

Oud Stillie

Dis maklik om afleidings te maak en vinger te wys maar nie een van julle wat kwetsende kommentaar lewer het die gesin geken nie. Ook was nie een van julle tydens die voorval teenwoordig nie. Mag jy nie geoordeel word soos jy self ander oordeel.

Andre

Ds Francois was ons predikant vandat hy en Herzola in Stilfontein aangekom het. Waarlik ‘n hart van goud. Niemand sou ooit kon dink dat so iets sal gebeur nie.
Niemand mag ‘n oordeel fel sonder al die feite op die tafel nie.
Sondag was juis nagmaal, sy preke was altyd pitkos en iets wat mens bygebly het.
Ai, ek gaan hom mis…