‘Stinkboete’ vir owerheid verwelkom

(Argieffoto: Govan Mbeki Local Municipality/Facebook)

Die VF Plus en die burgerregtegroep AfriForum het die reuseboete verwelkom wat die Govan Mbeki-munisipaliteit opgelê is vir die oortreding van omgewingswetgewing.

Die plaaslike owerheid is in die Bethal-landdroshof met R200 miljoen beboet, waarvan R50 miljoen vir vyf jaar opgeskort is, nadat hy op ses aanklagte wat verband hou met die oortreding van omgewings- en waterwette skuldig bevind is.

Die plaaslike owerheid het tussen November 2019 en September 2020 onwettige dade gepleeg wat aansienlike besoedeling van die omgewing veroorsaak het. Dit het verband gehou met die verwydering en verspreiding van rou en onbehandelde riool.

Aranda Nel-Buitendag, ʼn VF Plus-raadslid van die munisipaliteit, sê die party het in 2019 al druk op die owerheid geplaas om die voortslepende rioolkrisis en besoedeling te pak. ʼn Jaar later het die party die Groen Skerpioene gevra om die oortredings te ondersoek en in 2021 het die VF Plus selfs ʼn klagte by die polisie op Secunda teen die destydse munisipale bestuurder ingedien.

Die party het in 2020 ook die Groen Skerpioene gevra om die rioolbesoedeling in veral Evander te ondersoek en in 2022 het die VF Plus ʼn klagte by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien oor die uitvloei van onbehandelde riool in die Emzinoni-nedersetting, die  eMbalenhle-afvalwatersuiweringsaanleg, Trichardt-spruit en die Blesbokspruit.

“Die Govan Mbeki- plaaslike munisipaliteit se versuim om infrastruktuur in stand te hou en betyds te vervang, maak inbreuk op die gemeenskap se grondwetlike reg op ʼn omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welstand is nie,” sê Nel Buitendag.

Hou amptenare aanspreeklik

AfriForum het die boete verwelkom, maar meen die betrokke verantwoordelike munisipale amptenare moes veel eerder persoonlik aanspreeklik gehou word vir die oortredings.

Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir omgewingsake, sê omgewingswetgewing word in die algemeen baie streng teen die privaat sektor toegepas.

“Daarenteen word staatsinstellings, wat van die land se grootste besoedelaars en oortreders van omgewingswetgewing is, dikwels nie aanspreeklik gehou vir oortredings nie. AfriForum verwelkom daarom die hof se besluit om so streng teen die Govan Mbeki- plaaslike munisipaliteit op te tree, en deur middel van ʼn boete en gepaardgaande hofbevel die munisipaliteit te verplig om noodsaaklike herstelwerk aan munisipale infrastruktuur uit te voer.”

De Vaal sê dit is onbillik dat direkteure van maatskappye persoonlik aanspreeklik gehou word vir oortredings, terwyl munisipale amptenare skotvry wegstap. Boonop kom die boete wat aan die owerheid opgelê is uit die munisipaliteit se begroting – wat beteken inwoners betaal ieder geval daarvoor, terwyl hulle “reeds boet” vir die munisipaliteit se mislukkings en versuim.

“Die feit dat ’n voorstel om ʼn nuwe, weelderige motor vir die burgemeester aan te koop onlangs in die munisipale raad ter tafel gelê is, beklemtoon net hoe ongeërg munisipale amptenare is om hul verpligtinge in diens van die gemeenskap uit te voer. Dienslewering kan nie langer in die hande van misdadige munisipale amptenare gelaat word nie,” sê De Vaal.

Hy sê die boete wat die munisipaliteit opgelê is, gaan die finansiële verknorsing waarin die munisipaliteit hom reeds bevind net vererger.

Die owerheid skuld Eskom en Rand Water reeds miljoene rande en die R200 miljoen-boete skep ernstige kommer oor die volhoubaarheid van die munisipaliteit.

AfriForum sal na die munisipaliteit uitreik om die besoedelingsprobleme, wat steeds in vele opsigte voorkom, te help takel. Volgens De Vaal beskik die gemeenskap oor die nodige kundigheid én bereidwilligheid om hierdie probleme op te los.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jack ·

Die kaders wat verantwoordelik was is al lankal weg of gaan binnekort hulle tassies pak om erens anders aangestel te word en verder te skep.Hulle het nie ‘n saak met enige boete wat opgelê word nie.Die natuur was nog nooit vir our people belangrik nie.Dit is daar om gebruik en vernietig te word.So die boete gaan die munisipaliteit seer maak want nou kan nog minder reggemaak word.Die skade gaan jare vat om weer te herstel indien ooit.

Sobymykoolkop ·

Die Politieke leiers leef in ń ander wêreld. ONS belastingbetalers se geld word vir al hierdie hofsake en boetes gebruik.

Danie ·

Stink boete vir watter oortreders dis tyd vir tronkstraf dan mors ons nie die belasting betalers geld nie.Dan het ek nog nooit die finale bewys van straf gesien nie.

fafa ·

Belaglik om Munisipaliteit te beboet en dit met pleitooreenkoms-hulle sou enigeiets teken want geen sanksie teen amptenare nie-boete word betaal uit staatskoffers en inwoners se betalings en dit is oorwinning -really !!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Gaan die boete wel gebruik word om die saak reg te stel. Of gaan die boete net wanaangewend word deur die staat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.