Stormers teen Bulls: Uitkloprugby maak speelveld gelyk

Jake White.( Foto: Twitter.)

Superman het sy groen klippies, Achilles het sy hak en dit lyk of die Bulls se swakpunt die Stormers is.

Nadat die Kapenaars die afgelope naweek die soveelste wedstryd teen die Pretorianers gewen het – dié keer in ʼn Curriebeker-kragmeting op die DHL-stadion – is die tafel gedek vir die naweek se groot uitspeelwedstryd.

Die Stormers speel Saterdag teen die Bulls in die kwarteindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) in Kaapstad.

En ondanks sy span se jongste kleitrapsessie teen die Kaapse rugbyaartsvyand, meen Jake White dat vorige uitslae nie noodwendig ʼn groot invloed op ʼn belangrike uitklopwedstryd het nie.

Nadat die Pretorianers tien wedstryde op ʼn streep in alle kompetisies verloor het, het die herlewingsklokke begin lui met hul Curriebeker-oorwinning teen Griekwas op Loftus Versfeld. Daarna het hulle onder meer op ʼn drafstap met Zebre en Leinster in VRK-wedstryde afgereken.

Net om weer ʼn sleepvoet-vertoning teen die Streeptruie op te dis.

White het intussen die Bulls se seisoen met ʼn groot gholftoernooi vergelyk.

“Dit is soos om op ’n Vrydag alles in die stryd te werp in ʼn poging om die valbyl vry te spring, terwyl ons vir die afgelope twee jaar probeer het om die toernooi op ʼn Sondag te wen,” het die voormalige Springbok-afrigter gesê.

Volgens die 59-jarige breier staan daar nou drie wedstryde tussen die Bulls en ʼn moontlike VRK-triomftog.

Die WP het die naweek vier drieë teen die Bulle gedruk. (Foto: Hansie Linde)

ʼn Span wat met ʼn gespook en gespartel die valbyl misgeloop het, is dikwels hongerder vir sukses as een wat ʼn meer gelyke pad na die uitspeelwedstryd gevolg het.

“Net soos in gholf is daar geen waarborg dat die speler wat met ses houe voorgeloop het, die uiteindelik wenner sal wees nie. Dit is nou ʼn nuwe kompetisie en dit is irrelevant hoeveel wedstryde jy vooraf gewen het en of jou teenstanders jou in die groepfase geklop het.

“Die topprioriteit wanneer jy vir enige reeks inskryf, is om seker te maak dat jy vir die uitspeelwedstryde kwalifiseer. Dit is nou nie altemit nie.”

Hy het benadruk dat die Bulls nog niks in die VRK bereik het nie – in sport word sukses immers aan bekers in die vertoonkas gemeet. Terselfdertyd is die Stormers ook baie rugbyliefhebbers se gunsteling om sy span te klop.

Veerkragtigheid is terselfdertyd baie meer betekenisvol vir jong spelers as hulle sterk in uitdagende omstandighede gestaan het.

Die Stormers se John Dobson het ook vroeër gesê dat die komende kwarteindstryd op ʼn skoon bladsy gespeel sal word.

“Dit gaan ʼn groot wedstryd wees. Ja, ons het danksy ons Curriebeker-vertoning ʼn bietjie selfvertroue gekry, maar aan die ander kant verstaan die Bulls ons spel en benadering tot wedstryde ook nou ʼn bietjie beter. Ons span gaan ook nie dieselfde [as in die Curriebeker-kragmeting] wees nie,” het die Stormers-afrigter gesê.

Die wedstryd begin Saterdag om 15:30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SjN ·

Dit gaan n groot wedstryd wees, Jake is uitgeslape en die Stormers moet nie te gou fees vier nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.