Straatveërs bloot ‘wit olifante’

Straatveërs vir eThekwini (Foto verskaf deur die DA)

Die DA in Durban bevraagteken die beweerde gebruik van miljoene rand vir gevorderde straatveërvoertuie wat wit olifante geword het.

Mzamo Billy, adjunk-koukusleier van die DA in die eThekwini-munisipaliteit, sê die party het op ʼn wenk gereageer en die munisipale hoof van die stadsvloot, Malcolm Joshua, genader om verdere besonderhede oor die aanskaffing van die straatveërs te bekom. Belastingbetalers het na bewering miljoene rand opgedok om die voertuie aan te skaf.

“Tot dusver, sedert dit aangeskaf is vir gebruik vir die Durbanse promenade deur die skoonmaak- en vaste afval (CSW)-eenheid, voorheen Durban- vaste afval (DSW), is die masjiene nog nie in gebruik geneem nie,” sê Billy.

Volgens inligting wat die party van ʼn betroubare bron binne CSW bekom is, is die voertuie na bewering nie die regte grootte nie en nie geskik vir plaaslike gebruik nie. “Daar word ook aangevoer dat geen opleiding verskaf is om werknemers te help om die straatveërs te bedryf nie.”

Die DA het die voertuie gesien en kan bevestig dat dit verlate staan en stof vergader by CSW se hoofkantoor in Springfield Park, langs Electronweg. “Die toestand van die voertuie gaan agteruit terwyl dit nooit sy doel gedien het nie.”

Billy sê die ANC-EFF-bestuur het eThekwini in finansiële chaos gedompel. “Alhoewel die jongste situasie net nóg ʼn dag vir hulle in die kantoor is, beskou die DA hierdie bewerings in die ernstige lig wat dit verdien.”

Die DA verwag dat Joshua duidelik rekenskap sal lewer oor, onder andere, die aankope van die voertuie, die presiese bedrag wat spandeer is om dit aan te skaf en die aanspreeklikheidsmaatreëls.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Danie ·

Wat sal dit help om verdere kritiek te lewer die skade is gedoen en korrupsie het geen keer nie.Selfs die stempole is nie n oplossing nie.

electricmango ·

Sit n vice grip op as n stuurwiel en n lekker sound system – daai kan hulle goed bestuur. Moenie dink die beamptes wil hom nie ry nie hulle kan hom nie ry nie.

Daisy ·

Laat my skielik dink aan ‘n klomp veld-ambulansie wat ook onnodig aangeskaf is teen groot onkoste
Dit lyk my iemand kry ‘n “brainwave” en dan word groot geld spandeer op ‘n ondeurdagte idee

Natasja ·

Klink amper soos Prasa se treine… Nie geskik vir plaaslike gebruik nie….

Sê maar net ·

Nog ‘n ongebruikte foefie.
Nog ‘n malle spandabelrigheid met belastingbetalers se geld.
Wie se idee was dit “anyway”? Roep daai persoon/ persone tot verantwoording!

Sê maar net ·

Onthou julle die motorfietsambulanse vir landelike gebiede so paar jaar terug? Selfde geldmors-storie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.