Studentegemeenskap rou ná twee Pukke sterf

Anzel Botha (19) en Tobie Louw (21) het die afgelope naweek in ‘n motorongeluk gesterf. (Foto: Facebook)

Die studentegemeenskap van Potchefstroom is in rou gedompel ná die dood van twee studente die afgelope naweek.

Anzel Botha (19), ʼn inwoner van Minjonet-dameskoshuis, en Tobie Louw (21), ʼn inwoner van Ratau Lebone-manskoshuis by die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), is Saterdagmiddag in ʼn ongeluk op die R54 tussen Potchefstroom en Vereeniging dood.

Botha was ʼn eerstejaarstudent in geoktrooieerde rekeningkunde en Louw ʼn derdejaar-regstudent.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici was Saterdag omstreeks 16:30 op die toneel. Twee voertuie het in die middel van die pad gestaan.

“By nadere ondersoek het paramedici ʼn jong man en vrou vasgekeer in die ligte motorvoertuig aangetref. Albei was ernstig beseer en het geen tekens van lewe getoon nie. Daar was niks wat vir hulle gedoen kon word nie en hulle is op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê.

ʼn Nege-en-vyftigjarige man in die bakkie wat ook in die ongeluk betrokke was, was in ʼn bedenklike toestand.

“Die Fochville-brandweer moes gespesialiseerde reddingstoerusting gebruik om hom uit die voertuig te bevry,” het Meiring gesê.

Anzel Botha (19). (Foto: Facebook)

Hy is na die Potchefstroomse Provinsiale Hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Louis Jacobs, woordvoerder van die universiteit, het gesê die studente se dood is ʼn reuseslag.

Dit kom boonop kort ná die dood van Arno Hollander (23), ʼn aptekerswesestudent aan die universiteit. Hollander was ʼn inwoner van die Laureus-manskoshuis op die kampus. Hy is op 26 Oktober dood toe hy aan oorhoofse elektrisiteitskabels by ʼn treinstasie geraak het.

Die stasie is ʼn gewilde plek in die dorp om foto’s te neem en Hollander is doodgeskok toe hy op een van die trokke geklim en aan ʼn kabel geraak het. ʼn Veiligheidswag het die nooddienste ontbied.

Rudi van de Venter (48), ʼn dosent verbonde aan die departement van onderwys, is ook in Oktober dood toe hy in ʼn sloot op die kampus geval en gesterf het.

Jacobs het gesê die universiteit het reeds hulp aan studente beskikbaar gestel wat emosionele bystand of berading ná die voorval benodig. Hy het gesê ʼn voorval soos dié het ʼn groot uitwerking op die studentegemeenskap.

“Ons betuig ook ons medelye met hul familie en vriende,” het hy gesê.

Ook op Facebook was daar talle boodskappe van medelye. “Ons weet die hemel is nou selfs mooier, omdat hulle nog twee engele bygekry het,” het Bellatrix-dameskoshuis geskryf.

Tobie Louw (21). (Foto: Facebook)

“Tye soos dié is altyd moeilik en dit is veral só omdat Tobie so jonk was en sy hele lewe voorgelê het,” het die universiteit se regsfakulteit geskryf.

“Ons diepe meegevoel gaan aan [Louw se] ouers, familie en vriende. Mag die sorg en liefde van diegene om hulle vertroosting en vrede gee om hulle deur die dae vorentoe te dra.”

Die Minjonet-dameskoshuis het gesê hulle groet Botha met groot hartseer.

“Anzel, die spasie wat jy agterlaat sal nooit gevul kan word nie. Jy was die sonskynkind wat enigeen kon aansteek met jou positiewe, liefdevolle aanslag tot die lewe. Dit is ʼn absolute voorreg om jou die afgelope jaar te kon ken.”

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder in Noordwes, het gesê ʼn saak van strafbare manslag word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Erica ·

My innige simpatie aan almal betrokke se naasbestaandes en geliefdes. Mag die Here julle krag en genade gee om die reuse verlies te verwerk.

Tino ·

Dit was nog altyd die koshuis se naam, hy het eers in die nuwe SA ontstaan, meer bekend as net Ratau. As ek nou reg onthou.

RIV en sterkte aan familie, vriende en alma pukke.

lelize ·

Ratau Lebone was eers Mea Mater in my tyd, toe was Ratau oorkant hom, toe word Mea Mater weer Ratau Lebone, en Ratau word Laureus. dis oorkant Huis Republiek (Repies)

Tydelik ·

Alles hier is so ontsettend tydelik. Ons harte pyn vir almal.

treurgrond ·

Op hierdie Maandagmiddag lees ek hierdie nuus by my werkstafel en ek onmiddellik trane in my oe. Tobie en Anzel julle moes seker wonderlike persone gewees het. Dit is sulke hartseer nuus. RIV julle twee mooi mense. Jesus hou SY arms wyd oor almal almal almal wat hierdie twee mense geken het.

Mariaan ·

Hartverskeurend!!! So so jammer vir hierdie ouers..familie en vriende se seer…hierdie goed maak my hart pyn..hoe verwerk mens ooit so iets..ai

Gerda ·

Wat n verskriklike verlies!! Mag die ouers van beide hierdie pragtige kinders deur God ons Vader vertroos word in hierdie dae en jare vorentoe. Tobie het saam met my meisuekind studeer en ek kan my nie eens indink aan die verskriklike verlies vir die ouers. Ons bid vir julle

Zandra Jordaan ·

2 Jongmense te vroeg weggeneem….Anzellie was so n sonstraal in my Eng klas laas jaar by Driehoek….en Tobie so wonderlike toonbeeld vir sy sussie Karli..n ouboet na wie sy opgekyk het….alles saam gedoen het….my harte gaan uit na die 2 families….

Gerda ·

Wat n verskriklike verlies!! Tobie het saam met my meisiekind studeer. Ek dra beide ouerpare op aan ons Hemelse Vader en bid dat hulle vertroosting by Hom sal vind in die dae en jare wat kom. Ons innige innige simpatie

Susan ·

To be honest, mens verwerk NOOIT die verlies van jou kind nie. Mens leer om daarmee saam te leef. As ouer wat ook ‘n kind in ‘n motor ongeluk verloor het is daar nie een dag wat verby gaan wat jy nie aan jou kind dink nie. As jy nie ‘n kind aan die dood afgestaan het nie, sal jy nie die lewens verlies verstaan nie. Jou lewe gaan aan, maar dit word nooit beter nie. Jy verlang daagliks en dit is die grootste verlies wat jy ooit kan ervaar. Daar is nie genoeg woorde in die woordeboek om jou seer te verlig nie. Sterkte aan die ouers. Dink aan julle

Nicci.doula ·

Susan, ek is so jammer vir jou pyn en vir elke ander ouer wat ‘n kind aan die dood moes afstaan. My innige meegevoel, ook met hierdie pragtige jongmense se ouers en geliefdes.

Donald ·

Ai. Ken daai pad, maar dit is nie die punt van my pos nie. Vrede aan die ouers en familie. Elke keer wat ek daai pad ry sal ek aan julle ebchulle dink.

Heksie ·

4 lewens in so kort tyd … almal verbonde aan die PUK! baie baie hartseer …

Gerda Pienaar ·

Dit was nog altyd die koshuis se naam. My broer was ‘n inwoner daar in die vroeë 1950’s

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.