Suid-Afrika se langpootbye só aangepas om bokhoringblomme te bestuif

Rediviva_longimanus_Anton Pauw

Die bye wat behoort tot die Suid-Afrikaanse olieversamelende byspesies (Rediviva longimanus) het disproporsionele lang voorpote wat met digte hare bedek is. Foto: Anton Pauw

Het jy geweet Suid-Afrika het ʼn langpootby en dié by se uitermatige lang voorpote help dié spesie om by die bokhoringblom se olieproduserende buise uit te kom?

Nuwe navorsing van die Universiteit Stellenbosch (US) toon dat ‒ in ʼn buitengewone geval van aanpassing ‒ die besonderse voorpote van die Suid-Afrikaanse olieversamelende Rediviva-spesie ontwikkel het in antwoord op die bokhoringblom se olieproduserende buise (wat soos bokhorinkies lyk), en nét so lank is.

“Dit is een van die min voorbeelde waar ʼn bestuiwer moes aanpas by die blomme wat dit bestuif; gewoonlik werk dit andersom,” verduidelik prof. Anton Pauw, hoofouteur van die artikel “Long-legged bees make adaptive leaps: Linking adaptation to coevolution in a plant-pollinator network,” wat gister (13 September 2017) in Proceedings of the Royal Society B: Biology gepubliseer is.

Pauw, ʼn ekoloog in die Departement Plant- en Dierkunde aan US, sê bestuiwers hou dikwels die sleutel tot die verstaan van die ontwikkeling van blomdiversiteit. Met ander woorde: Die blomme van plante het op skouspelagtige maniere aangepas by hulle bestuiwers ten einde te kan voortplant.

In hierdie geval het die relatief onbekende Rediviva langer voorpote ontwikkel. Laasgenoemde se lengte kan varieer – van 6,9 mm tot 23,4 mm lank – ten einde die olie te kan bykom wat die bokhoring diep onder in sy twee buise, of dan horings, produseer. Die lengte van hierdie horings verskil ook van spesie tot spesie, met 70 spesies wat deel uitmaak van die grootste genus van olieproduserende blomme (Diascia).

Die bye se voorpote is bedek met ʼn digte laag fluweelagtige hare. Hierdie hare suig die olie op, wat dan met die stuifmeel meng om ’n supervoedsame “brood” te vorm vir die larwes in hulle ondergrondse byneste.

Pauw, wat met navorsers van Duitsland, Brittanje, België en die VSA saamgewerk het, het van DNS-analise gebruik gemaak om ’n stamboom vir 19 van die 26 Rediviva-byspesies op te stel. Volgens hom was hulle in staat om aan te toon dat naverwante byspesies dikwels dramaties verskil ten opsigte van pootlengte, en dat hierdie verskil verklaar kan word deur die onderlinge verskil in horinglengte van die blomme wat die spesifieke bye besoek.

Dit het baie jare van observasie geverg om dié netwerk van interaksie tussen die olieversamelende bye en die 96 plantspesies by wie hulle olie versamel, te dokumenteer. Baie van die olie-afskeidende plante blom slegs in die eerste jaar wat volg op ’n veldbrand.

Pauw sê die volgende stap sou wees om ʼn filogenetiese analise van bokhorings te doen om sodoende te toets of die horinglengte van die blom en die by se pootlengte tegelykertyd ontwikkel het.

Hierdie interaksie is baie belangrik vanuit ’n ekologiese perspektief, sê hy: “Olie-versamelende bye word bedreig deur menslike aktiwiteite, veral deur verstedeliking. Deur die bye se rol in die proses van die ontwikkeling en instandhouding van plantdiversiteit te verstaan, kan jy moontlik die negatiewe impak van menslike aktiwiteite voorspel en dan ook versag.”

Die mede-outeurs van hierdie artikel is Belinda Kahnt, Michael Kuhlmann, Denis Michez, Graham A. Montgomery, Elizabeth Murray en Bryan N. Danforth.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Eish ·

Hier gaan ons alweer soos Petri die hengelaar sou sê. Weer wil die evolusie aanhangers dat ons die hoek sluk. Eers sê die hooggeleerde prof dat die by se pote ontwikkel het in antwoord op die bokhoringblom se olieproduserende buise, en net so lank is. Dus beweer hy die plant was daar voor die by en die by het deur evolusie aangepas tot die regte pootlengte. Soos die plantspesies verskil, verskil die insekte se pootlengte word ook genoem. Dan sê prof. Pauw die volgende stap is toetse om te bepaal of horinglengte van die plant se blom en die by se pootlengte tegerlykertyd ontwikkel het. Wat wil hy sê? Dat hy nie seker is of sy eerste stelling korrek is nie. Nou proffie, is daar nie n moontlikheid dat ons Hemelse Vader die tweetjies juis vir mekaar gemaak het nie? Dit skakel al jul raaiwerk en bewerings uit. Wat was eerste, die hoe der of die eie? Of is die hoe der perfek gemaak van die dag wat dit geskep is? Ek kan nie glo die “wetenskap” smeer sulke bog aan ons af nie!

Cherokee ·

Eish tog Eish, moet nie worrie! Somtyds registreer die toetse nie omdat ons te sag daarop druk en ek het jou skrywe geniet en die n en r outomaties bygelees. Daar is ‘n verskil tussen mense wat nie kan spel en iets soos jou drukfout(e)..:-)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.