Suid-Kaapse boere maak ʼn plan met misdaad

Argieffoto. (Foto: Verskaf)

Deur Alet Engelbrecht

Boere van die Suid-Kaap vrees toenemend vir hul lewens namate aanvalle deur gewapende rowers op plase in die Tuinroete-distrik toeneem. Dié boere het vertroue verloor in die regering se vermoë om hulle te beskerm en het nou ʼn gemeenskapsgedrewe veiligheidsinisiatief op die been gebring om die probleem te takel.

Volgens AfriForum se misdaadstatistieke was daar 19 plaasaanvalle in die eerste helfte van die jaar. Die 37-jarige Ruan Hechter van ʼn plaas in Saasveld naby George, is tydens ʼn plaasaanval in Julie doodgeskiet. Twee weke gelede is twee bejaarde vroue van Caledon meedoënloos aangerand en van huishoudelike en juweliersware beroof.

Agri-Wes-Kaap se streeksverteenwoordiger in die Suid-Kaap, Henry Meyer, sê die landbougemeenskap is veral bekommerd oor die gebrek aan misdaadintelligensie tussen die verskillende polisiestasies in die Wes-Kaap.

“Dit wil voorkom asof inligting nie deurgegee word van een polisiestasie na ʼn ander in dieselfde streek nie. Die veiligheidsplan waarvolgens gemeenskappe, plaaswagte en ander instansies saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) werk om misdaad te bekamp en misdadigers vas te trek, is gebrekkig. Dit is omdat die polisie nie die nodige hulpbronne soos voertuie het om die plan behoorlik uit te voer nie.” Hy sê die SAPD het onlangs ʼn werksessie in George aangebied oor landelike veiligheid, maar Agri-Wes-Kaap, wat 3 500 landbouers verteenwoordig, is nie daarby betrek nie. “Dit maak ons moedeloos.”

Bekamp misdaad ‘deur die mense, vir die mense’

‘n Plaas in die Ruiterbosdistrik in die Tuinroete-distrik. (Foto: Verskaf)

Veiligheidsleiers van die Tuinroete het Vrydag ʼn werksessie by die NG Kerk op Herold gehou, waar die veiligheidskenner Roland de Vries en sy vrou, Henriette, hul kennis oor landelike veiligheid en traumaweerbaarheid met leiers van verskeie instansies gedeel het. Verteenwoordigers van staatsinstellings, die polisie, burgerlike organisasies en die sakegemeenskap het die sessie bygewoon. ʼn Werksessie wat oop was vir alle lede van die publiek, waar hulle kon deelneem aan gesprekke en beplanning ten opsigte van misdaadbekamping, is ook vandag (Saterdag) gehou.

Daar is onder meer gekyk na ʼn oorhoofse strategie vir gemeenskapsveiligheid, met die doel om ʼn gebeurlikheidsplan te ontwikkel.

Volgens Kemp Myburgh, voorheen ʼn regsoffisier in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en wat nou proteas in die George-omgewing verbou, is daar spesifiek op plaasaanvalle en ander geweldsmisdade gefokus. Die hantering van natuurrampe en gewelddadige protesaksies is ook bespreek.

Na afloop van die werksessie sou De Vries help met die skryf van ʼn operasionele plan met implementeringsinstruksies. Myburgh verduidelik dat so ʼn gebeurlikheidsplan baie belangrik is en vir die lede van die betrokke gemeenskap aandui wat die proses is om te volg in geval van ʼn misdaad.

“Sake moet sensitief hanteer word, en dit is belangrik dat mense nie reg in eie hande neem nie. Baie keer is daar ook regsaspekte betrokke.”

Myburgh sê goeie beplanning spaar lewens en lei tot aksie wat ekonomiese, sosiale en maatskaplike bestendigheid tot gevolg het. “Dis ʼn gemeenskapsgedrewe veiligheidsinisiatief deur ons mense, vir ons mense.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.