Sukkelende Vergoedingsfonds gaan knak onder Covid-19

ʼn Hospitaalwerker ontsmet haar hande by die Tygerberg-hospitaal. (Argieffoto: Nardus Engelbrecht/AP)

Die Vergoedingsfonds moet so gou moontlik die administrasie en uitbetaling van Covid-19-eise aan die private sektor uitkontrakteer sodat die welstand van siek werkers en hulle gesinne verseker kan word.

Dr. Michael Cardo, die DA se woordvoerder oor arbeid en indiensneming, het Vrydag gesê terwyl al hoe meer werkers danksy die verslapping van die afsonderingregulasies kan terugkeer werk toe, gaan gevalle van mense wat Covid-19 by die werk opdoen die hoogte inskiet en dan voortduur tot ʼn entstof geredelik beskikbaar is.

“Die Vergoedingsfonds, wat ʼn lang geskiedenis van ondoeltreffendheid, wanbestuur en swak finansiële bestuur het, gaan swig onder die aantal eise,” het Cardo gesê.

Hy het gesê die talle probleme wat die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) die afgelope paar maande ondervind het met die uitbetaling van Covid-19-TERS-voordele moet as waarskuwing vir die reeds sukkelende Vergoedingsfonds dien.

“Die Vergoedingsfonds is in ʼn selfs erger toestand as die WVF. As ʼn instelling is dit veel swakker as die WVF. Inteendeel, in vergelyking met die Vergoedingsfonds loop sake by die WVF eintlik seepglad.”

Cardo het Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, nou gevra om die Vergoedingsfonds se funksies aan ʼn private mediese fonds of versekeraar uit te kontrakteer. “Selfs voor Covid-19 het die Vergoedingsfonds klaaglik misluk om eise te verwerk.”

Die fonds het in Oktober verlede jaar na ʼn nuwe stelsel genaamd CompEasy oorgeskakel, maar daar is niks maklik nie aan die nuwe webwerf, wat gebruik word om ongelukke aan te meld en eise in te dien. Dit is deurlopend wanfunksioneel.

Cardo het gesê luidens ʼn opname wat vroeër vanjaar gedoen is, kon minder as 3% van werkers wat sedert Oktober verlede jaar eise wou indien, dit suksesvol op die stelsel aanmeld. Net 1% van alle eise is verwerk en betaal, in vergelyking met 80% toe die ou stelsel gebruik is. Volgens hom het dit beteken dat sommige mediese praktyke noodgedwonge hul deure moes sluit en beseerde werkers sonder hulp gelaat is.

Die Vergoedingsfonds skuld ʼn maatskappy genaamd CompSol meer as R716 miljoen. Die onderneming verteenwoordig meer as 2 000 mediese diensverskaffers en bestuur volgens die DA nagenoeg 43% van alle eise in dié verband.

Cardo het gesê ingevolge ʼn vroeëre hofbevel moet die Vergoedingsfonds alle mediese rekeninge binne 75 dae betaal of met ʼn geldige rede verwerp. Weens vertragings in die betaal van fakture beloop die fonds se agterstallige rente egter sowat R80 miljoen en sy regskoste daarvoor nagenoeg R10 miljoen. ʼn Regter het die fonds se vertragings in die betaal van eise en sy onbillike verwerping van ander al beskryf as ʼn handboekvoorbeeld van die misbruik van die hofproses.

“Die reeds benarde situasie gaan wesenlik vererger terwyl al hoe meer eise by die Vergoedingsfonds ingedien word,” het Cardo gesê.

Covid-19 is vroeër vanjaar tot beroepsiekte verklaar en wanneer die siekte by ʼn werker gediagnoseer word, mag die werker ʼn eis by die Vergoedingsfonds indien. As die fonds die eis goedkeur, moet die voordeel uitbetaal word van die datum waarop die diagnose bevestig is, vir so lank as wat die persoon nie kan werk nie. Dit mag egter nie meer as 30 dae wees nie.

Indien ʼn sterfte die gevolg is  van Covid-19 wat by die werk opgedoen is, moet die fonds billike betaling vir ʼn begrafnis doen en indien van toepassing, ʼn pensioenuitbetaling aan die slagoffer se gesin doen.

Cardo sê dit gaan ʼn nagmerrie word vir die Vergoedingsfonds wat nie eens op ʼn gewone dag eise kan administreer nie.

Die fonds se geldsake is al jare lank ʼn gemors. In die 2018-’19-boekjaar kon die ouditeur-generaal nie eens die akkuraatheid van eise van R5,4 miljard wat uitbetaal is, nagaan nie. Onregmatige besteding het dieselfde jaar R769 miljoen beloop, verkwistende uitgawes het op R452 miljoen gestaan en uitstaande eise beloop miljarde rande.

Cardo sê as die minister nog nie private mediese fondse of versekeraars genader het om die Vergoedingsfonds met die administrasie en betaling van Covid-19-eise te help nie, moet hy dit sonder verwyl doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

DA maak verniet voorstel. Big Brother het laat weet alles werk 112%.

Onnie ·

Wat ek hier lees is skokkend om die minste te sê. Dit maak my naar! As dit dan algemene kennis is dat hulle nie hul werk kan doen of geld bestuur nie – hoekom het die regering nie al lankal ingegryp nie?? Hoekom laat die regering toe dat my hardverdiende (belasting) geld so gemors word, terwyl daar miljoene mense is wat honger ly, nie ‘n dak oor hul koppe het nie, nie ordentlike klaskamers of spoeltoilette by skole het nie, nie behoorlike mediese sorg het nie en nie werk het nie. En dan kom preek hulle met elke verkiesing oor hoe hulle vir hulle “mense” gaan sorg, maar al wat hulle doen is om hul “mense” te verarm met hul gulsigheid en korrupsie. Day light robbery, maar hul “mense” stem nog elke verkiesing vir hulle en hou hulle so aan bewind. Dinge sal nooit regkom solank as wat die korrupte amptenare in hul hoogsbetaalde werke sit en goue handdrukke kry elke keer as hulle aangejaag het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.