Sundra-moord: ‘Sy was die gom van ons familie’

Die laaste foto van Ansie Steyn (46) saam met haar seuns Leon en Stephan, en dogter Monique Cronje. (Foto: Verskaf)

Ses jaar nadat Ansie Steyn (46) buite ʼn plaaslike kuierplek op Sundra in Mpumalanga doodgesteek is, het haar geliefdes met swaar harte aanvaar dat haar moord waarskynlik nooit opgelos gaan word nie.

Haar dogter, Monique Cronje (31), sê hulle het al opgehou om die polisie te bel, aangesien daar nooit enige vordering met haar ma se saak is nie – geen verdagtes, geen leidrade en geen antwoorde nie.

Tog, al sou Steyn se moordenaar gevang word, dink die familie nie dat dit hul seer sal genees nie.

“Ek sukkel steeds om dit te verwerk. Dis iets waarmee ons as familie elke dag saamleef. Die gemis is altyd daar,” het Cronjé gesê.

Maroela Media het destyds berig dat ʼn polisiebeampte besig was met ʼn roetinepatrollie toe hy op Steyn afgekom het. Sy het op die sypaadjie gerol. ʼn Beseerde Steyn het op die toneel gesê dat ʼn “swart man haar aangeval en weggehardloop het”. Sy is kort daarna in haar broer Danie (47) se arms dood.

Die verdagte het haar tablet en selfoon gesteel, maar haar handsak, geld en ander waardevolle besittings gelos.

“Ons bel en volg nie eers meer op oor my ma se moord nie, want elke keer kry ons dieselfde antwoorde – dat hulle besig is om die saak te ondersoek. Maar daar kom nooit iets daarvan nie,” sê Cronjé.

“Ek is nie oortuig dit was sommer net ʼn rooftog nie. Ons het ons eie vermoedens oor wat moontlik kon gebeur het, maar die polisie het nooit met ons opgevolg nie. Hulle het nooit eers met ons – wat saam met my ma gewoon het – gepraat of enige vrae gevra nie.”

Maroela Media het self die Sundra-polisiestasie herhaaldelik gebel vir kommentaar, maar geen antwoord gekry nie.

Cronjé sê haar ma was die “gom” van hul familie en dat sy nou al ʼn ouma van drie kleinkinders sou wees. Cronjé se seuntjie, Liam (7), was maar een jaar oud toe sy ouma vermoor is. Dit was die aand voor sy partytjie.

Ansie Steyn. (Foto: Facebook)

“Ons sou nog saam goedjies reggekry het vir sy eerste verjaardag. Sy was so erg oor hom.

“Ek kan nie glo hy het nou sewe geword, en sy was nie hier om dit te vier nie.”

Steyn se seun, Leon (25), het intussen twee kinders ryker geword, en haar ander seun, Stephan, word binnekort 21.

Cronjé sê haar ma se glimlag is iets wat hulle altyd van haar sal onthou. Sy was ook ʼn familiemens wat altyd daar was vir almal.

“Haar deur en hande was nooit toe nie.”

Steyn se ander broer, Dirk (43), sê hy sal ook nooit sy suster se dood kan verwerk nie, en dat hy jare later steeds “stukkend” is.

“Om iemand só te verloor is ʼn skok. As sy nog siek was, het ʼn mens dit verwag. Maar jy verwag nie om 01:00 in die oggend ʼn oproep te kry dat jou suster doodgesteek is nie.

“Ons was baie na aan mekaar. Ek sal haar spontaneïteit en sêgoedjies altyd mis. Sy was so ʼn goeie mens – daar was altyd plek vir nog iemand in haar lewe.”

Hoewel die familie hoop die skuldige word gevang, sê Dirk dat dit nie juis vertroosting sal bring vir die groot verlies wat hulle met haar dood gely het nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Christine ·

Dis baie tragies dat als in ons land so verval het, selfs wet en orde. My vriendin is seker al 10 jaar gelede in haar huis vermoor, die polisie sou terugkom om bure te ondervra, hulle wag nou nog.

Roek ·

Baie jammer, hoop nie daar is nalatigheid aan die ondersoek span se kant nie ,maar id dit baie moeilik om ‘n saak optelos sonder enige leidrade ! sterkte !

Suzette ·

Moorde op SA burgers sloer vir jare en sommige word net eenvoudig onder die mat ingevee, maar sodra dit ‘n buitelandse burger is wat vermoor word, word die moordenaars sommer binne ‘n paar maande vasgetrek. Weereens ‘n bewys dat die kaders in beheer nie ‘n dooie duit omgee vir Afrikaanse burgers nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.