Swaar straf bepleit vir klein Chevonne se moordenaars

Brian Rusche (77), Chevonne se oupagrootjie, tydens ‘n hofverskyning in 2022 (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Op tweejarige ouderdom het sy net verwaarlosing, pyn en mishandeling geken.

Toe Chevonne Rusch die dag dood is weens erge trauma aan haar skedel, het sy altesame 49 wonde en kneusplekke aan haar lyfie gehad.

Die hooggeregshof in Johannesburg het reeds haar ma, Rochelle Botha, en dié se kêrel, Stefan van Niekerk, skuldig bevind aan haar moord. Nou vra die drukgroep Women and Men Against Child Abuse (WMACA) dat Botha en Van Niekerk vir goed uit die samelewing verwyder moet word.

“Hulle het geen ware berou getoon vir hul dade nie, maar gekies om verskonings te soek of mekaar of vir Chevonne en haar sibbe te blameer vir wat gebeur het,” sê Luke Lamprecht van WMACA.

Hy het vroeër vir die staat ter strafverswaring getuig.

Lees ook: Chevonne se ma, verloofde skuldig aan moord

Botha en Van Niekerk sal Maandag weer in die hof verskyn, dié keer vir vonnisoplegging.

Lamprecht het die hoop uitgespreek dat hulle die maksimum straf opgelê word. Die staat het tydens voorvonnisverrigtinge reeds gevra vir drie lewenslange vonnisse.

“Ouers het twee primêre pligte: om nie hulle kinders enige leed aan te doen nie en om ook alles in hul vermoë te doen om te verseker dat niemand anders hul kinders enige leed aandoen nie.”

Volgens Lamprecht het Botha en Van Niekerk hierin gefaal.

Rochelle Botha en Stefan van Niekerk. (Foto: Facebook / Rochelle Botha)

Hulle het dwelms bo die dogtertjie gekies en doelbewus hul wandade versteek, sê Lamprecht. Hy was ook skepties oor Botha se verweer dat sy kwansuis deur Van Niekerk mishandel is en daarom niks kon doen om ook die mishandeling van haar tweejarige kind te verhoed nie.

“Dit is [dan] wanneer ma’s hulp gaan soek of die verhouding beëindig. Sy het nie een van die twee gedoen nie en aktief daartoe bygedra om die mishandeling van die ander familielede sowel as die owerhede te help wegsteek. Sy het selfs erken dat sy haar middelste kind ook geslaan het.”

Weens dié rede voel Lamprecht die kans op rehabilitasie vir Botha is skraal. “Sy is nie in staat om haar kinders te beskerm nie.”

Dieselfde geld vir Van Niekerk. Volgens Lamprecht het hy die geykte verontskuldigings geopper wat kindermishandelaars gebruik.

“Sy weergawe het hy deurlopend in die hof aangepas. In een stadium het hy gesê hy het Chevonne per ongeluk doodgemaak en later het hy die blaam verskuif na haar broer.

“Hy het geen berou nie en is eerder jammer dat hy uitgevang is. Ons kan nie help om die beeld van die gat, wat in die erf gegrawe is, op te roep nie. En as die bure nie aangedring het om Chevonne na die hospitaal te bring nie… Wie weet wat van haar sou geword het?”

Hy hoop dat geregtigheid Maandag vir Chevonne sal geskied.

“Sy was ʼn kind wie se geboorte nie gevier is nie, haar dood is nie betreur nie, maar deur te skryf oor die geregtigheid wat sy sal kry, gaan haar vir ewig laat voortleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stompie ·

Laat hulle los asb, sodat ons hulle kan aan die hande kry!!!

Linda ·

Laat geregtigheid geskied vir wat die arme dogtertjie moes deurmaak.

Papsak ·

Ai is so hartseer mense wat nie kan kids he nie word gestraf maar die wat het verniel hulle ek sou daai dogtertjie ope arms gevat het prag kind gee hullegas swaar tyd virhaar dood nog so klein gewees shame hartseer my hart breek vir dit ??????

Janee ·

Mag hul vir ewig agter tralies sit sonder parool….en eendag…God se oordeel ervaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.