Swaar tronkstraf vir man wat renosters in Krugerwildtuin help stroop

(Foto: Verskaf)

ʼn Stroper wat byna vier jaar gelede twee witrenosters saam met ʼn makker in die Krugerwildtuin vir die horings gestroop het, is Vrydag by die Skukuza-streekhof tot ʼn effektiewe 16 jaar tronkstraf gevonnis.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê Million Masilane (48) het in Maart 2020 saam met sy makker, Lot Baloyi, die Krugerwildtuin met ʼn ongelisensieerde vuurwapen binnegegaan waarna hulle twee witrenosters vir hul horings gestroop het.

“Veldwagters van SANParke het egter besef daar is betreders in die park en het die twee mans agternagesit.

“Baloyi het glo probeer om die veldwagters – wat op hul spoor was – die skrik op die lyf te jaag deur ʼn paar skote in hul rigting af te vuur. Die veldwagters het nie tou opgegooi nie en uiteindelik albei verdagtes vasgetrek,” sê Mdhluli.

ʼn Ongelisensieerde vuurwapen en renosterhorings is op die toneel gevind. Die veldwagters het die polisie op Skukuza dadelik in kennis gestel waarna Masilane saam met sy vermeende medepligtige vir renosterstroperyverwante oortredings in hegtenis geneem is.

“Die twee het later in die hof verskyn waar borgtog aan albei toegestaan is. Hulle het egter nie hul borgtog-voorwaardes nagekom nie en het op die vlug geslaan waarna die hof lasbriewe vir hul inhegtenisneming uitgereik het.”

Mdhluli sê die polisie in Skukuza se harde werk het in Oktober verlede jaar vrugte afgewerp toe hulle Masilane in die Calcutta-omgewing vasgetrek het.

Masilane is Vrydag skuldig bevind aan agt aanklagte, onder meer betreding in ʼn nasionale park, renosterstropery, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en sameswering om ʼn misdaad te pleeg.

Sommige van die vonnisse word gelyklopend uitgedien. Masilane is dus effektiewe tronkstraf van 16 jaar opgelê en is onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiehoof in Mpumalanga, het die swaar tronkstraf verwelkom en haar waardering aan die veldwagters van SANParke, die ondersoekspan, die vervolgingspan en die regbank te kenne gegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tom ·

Hulle moet hul tande, bloed stroop sodat hulle ook die trauma kan voel en verstaan waardeur renosters gaan en hulle kan ook maar doodgeskiet word soos die renosters, ek voel niks vir hierdie lafaards nie en nou moet ons as belasting betalers vir hulle boonop sorg vir 16 jaar, bring die doodsvonnis terug.

efjy ·

Hy het ‘n paar skote op die veldwagters gevuur, maar niks word genoem van poging tot moord nie.

Henri ·

efjy, jy haal die woorde uit my mond.

Die ander ding wat my pla, is waar kom die swaar kaliber geweer vandaan wat hulle gebruik het om die renosters te skiet. Beide die geweer en die rondtes moet op ‘n manier nagespoor kan word.

Die groeiende populasie gedompel in armoede om die Kruger Wildtuin hou ‘n massiewe bedreiging in vir die Park se diversiteit.

Bolandse Nooi ·

3½ jaar en hy is weer uit … of dalk nog vroeër, as die President weer die een of ander Groot Jeuk kry om gevangenes vroeër vry te laat om die een of ander iets te “vier”. En net die volgende dag doen hy presies weer dieselfde.

Johann ·

Ooo shame…..Meeljohn lyk vi my só broos. Hoop hy kry intense en intieme berading in die tronk.

Eragrostis ·

Slegs 16 jaar tronkstraf, en dit boonop gelyklopend, is ń klap in die gesig van geregtigheid. 25 jaar ten minste vir een renosterstropery.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.