Swaar vonnis vir taxibestuurder wat verkrag

Argieffoto

Die hooggeregshof in Kaapstad het ʼn reeksverkragter Dinsdag lewenslank tronk toe gestuur en toe nog 210 jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is op ses aanklagtes van verkragting, een aanklag van seksuele aanranding, agt aanklagte van ontvoering en agt aanklagte van roof met verswarende omstandighede.

Die hof het beveel dat die lewenslange vonnis gelyklopend met die res van die vonnis – wat altesaam op 210 jaar neerkom – uitgedien word.

Die staatsaanklaer, Louise Freister, sê Thobile Dyonase, ʼn taxibestuurder van Nyanga, het tussen Augustus en Oktober 2017 op vroue van Table View en die Parklands-omgewing toegeslaan. Hy het in dié omgewings in sy taxi rondgery en vroue wat laat alleen in die donker stap, geteiken.

“Sy slagoffers was gewoonlik pendelaars wat op pad was na ʼn openbare vervoermiddel om werk toe te gaan,” het Freister in die hof gesê.

Volgens Freister sou Dyonase gewoonlik die taxi se toeter druk om die vroue se aandag te trek. Hy sou dan sy sjarme gebruik om hulle tot in sy taxi, ʼn Toyota Avanza, te lok.

“Hy sou vir sy slagoffers sê dat hy ʼn ompad moet ry om verkeer te vermy. Hy sou dan daarna vir hulle sê dat hulle in die verkeerde taxi geklim het waarna hy hul selfone, geld en bankkaarte eis en hulle in die voertuig verkrag het.”

Freister sê een van die slagoffers het Dyonase gesmeek om haar nie voor haar seun, wat reg langs haar gesit het, te verkrag nie.

“Hy is ʼn uiters gevaarlike oortreder omdat hy sy oortredings vooraf deeglik beplan het. Sy beplanning behels om eers die kwesbaarste vroue uit te soek. Sodra hy die slagoffers verkrag het, het hy hulle langs die pad afgelaai en hulle aan hul genade oorgelaat.”

Tydens vonnisoplegging het regter Daniel Thulare gesê dat daar in hierdie geval ʼn ernstige straf nodig is om geregtigheid te laat geskied.

“Geslagsgeweld is ʼn ernstige oortreding,” het Thulare gesê.

Thulare het ook gesê hy wil die voorsitter van die portefeuljekomitee oor justisie in die parlement vra dat ’n oortreder soos Dyonase se naam in die nasionale register vir seksoortreders aangeteken moet word.

Intussen sal ʼn 44-jarige laerskoolonderwyser in Phoenix, Durban, na verwagting vandeesweek in die landdroshof in Verulam verskyn op ʼn klag van statutêre verkragting. Hy het glo ʼn seksuele verhouding met ʼn 15-jarige kind aangeknoop.

Kapt. Louise Naidoo, polisiewoordvoerder, sê die beweerde voorvalle het verlede jaar begin plaasvind. Die kind se voog het in April vanjaar daarvan te hore gekom.

Volgens Naidoo het die voog die saak aanvanklik by die polisie aangemeld, maar weens ʼn gebrek aan mediese bewyse kon die beweerde verkragting nie bevestig word nie.

“Nadat mediese ondersoeke gedoen is, is bevestig dat die kind in ʼn seksuele verhouding was. Die ondersoek is daarna in ʼn dossier omskep,” het Naidoo verduidelik.

Die polisie se ondersoek het tot die inhegtenisneming van die onderwyser gelei. Na bewering het die onderwyser eers sy slagoffer seksueel gereed gemaak voordat hy die beweerde seksuele verhouding met haar begin het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cornelius ·

En sal seker oor n jaar op parool vrygelaat word en sy taxi aan hom terugbesorg word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.