Swak leesvaardighede simptoom van onderwysdepartement

(Foto: Sabrina Eickhoff/Pixabay)

In dieselfde week waarin dit aan die lig gekom het dat 81% van gr. 4’s in 2021 nie met begrip kon lees nie, het dit duidelik geword dat die nasionale departement van basiese onderwys ook nie begrip het van die omvang van die uitdagings wat onderwys in Suid-Afrika in die gesig staar nie.

“Die minister van basiese onderwys se begrotingstoespraak is ʼn rooi lig vir die onderwyssektor. Daar is geen toekomsvisie nie, en dit terwyl die gesaghebbende PIRLS-studie aandui dat ons ʼn dekade van vooruitgang verloor het,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Die vyfjaarlikse peiling oor die vordering in internasionale leesvaardighede (PIRLS) wys dat leesvaardighede teruggeval het na die 2011-vlak. “In elk geval is selfs Suid-Afrika se beste PIRLS-uitslag, in 2016 toe 78% van gr. 4’s nie met begrip kon lees nie, steeds ʼn aanklag teen die gebrekkige vordering in die daarstel van gehalte-onderrig.”

Deacon sê leesvaardighede gaan slegs effektief aandag kry indien daar in die grondslagfase te same met opvangprogramme dringend gefokus word op die aanstel van spesialisopvoeders én terapeutiese dienste. “Ons skole het meer maatskaplike werkers, arbeid-, spraak- en fisioterapeute nodig en minder onbevoegde opvoeders wat wegkruip agter onnodig voorskriftelike werkboeke.” Verder kan die getal leerders per klaskamer, veral in die grondslagfase, nie meer as 25 wees nie, maar hiervoor is meer skole nodig.

“Dit alles kos geld. En ten spyte daarvan word daar in die minister se begroting voorsiening gemaak vir R121,5 miljoen aan die National Education Collaboration Trust. Dié trust is geskep as platform vir samewerking met rolspelers en vir die privaatsektor om onderwys by te staan. Nou het dit egter verander in ʼn parallelle struktuur wat ʼn groot hap van die begroting ontvang. Geld vloei in die verkeerde rigting.

“Die Presidensiële Jeugindiensnemingsprojek, wat deel vorm van die president se indiensnemings-stimulusprogram, is veronderstel om uit die Ppesidensie befonds te word. Dit is moeilik te begryp hoe R6,9 miljard van die onderwysbegroting nou hiervoor aangewend word. Onderwys sou byvoorbeeld die geld kon aanwend vir die aanbou van ʼn hele paar skole of om kleiner klasse vir die grondslagfase te skep.”

Fedsas verwelkom wel die geld wat beskikbaar gestel is vir hulpbronne vir vroeëkinderontwikkeling. “Fedsas sal egter wil sien dat vaardigheidsontwikkeling ook behoorlik befonds word, veral met verwysings na die minister se opmerking dat minder as die helfte van die kinders tans in VKO-sentrums hul ontwikkelingsmylpale op vyfjarige ouderdom sal behaal.”

Fedsas is ook bekommerd oor die stadige pas waarteen die driestroommodel geïmplementeer word. Die doel hiermee is om drie afsonderlike onderrigstrome te skep, naamlik akademies, vaardigheid en beroepsgerig. “Fedsas steun hierdie model omdat dit die land se vaardigheidstekort sal aanspreek en terselfdertyd verligting bring vir die hoë werkloosheidsyfer onder jong mense. Dit gebeur egter te stadig.”

Deacon sê dit wil voorkom asof minister Angie Motshekga spoed verloor. “Wanfunksionele provinsiale onderwysdepartemente, onbevoegde amptenare en swak onderwysers is die drie groot slaggate wat dreig om die wiele van gehalte-onderrig te laat afkom. Dit lyk egter nie asof daar genoeg politieke wil is om dit reg te stel nie.”

Nog ʼn aanduiding dat die departement nie op alle silinders vuur nie, is die feit dat die minister nog nie reageer het op beheerliggaamorganisasies se memorandum aan haar oor die swak funksionering van die National Consultative Forum nie. “Hierdie forum vergader al vir meer as 20 jaar kwartaalliks en is die enigste struktuur wat beheerliggaamorganisasie in staat stel om met die nasionale departement in gesprek te tree. Die departement het egter die verantwoordelikheid hiervoor afgeskuif op junior amptenare met geen besluitnemingskapasiteit nie. Dit is ʼn tandlose struktuur en die minister skitter in haar afwesigheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.